Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

LES 2

Hoe om nederig te wees

Hoe om nederig te wees

WAT IS NEDERIGHEID?

Nederige mense respekteer ander. Hulle is nie arrogant nie, en hulle verwag ook nie dat ander hulle spesiale behandeling moet gee nie. Iemand wat nederig is, stel opreg belang in ander en is bereid om by hulle te leer.

Party mense dink dat nederigheid ’n swakheid is. Maar in werklikheid is dit ’n sterk punt wat ’n mens help om jou foute en beperkings te erken.

HOEKOM IS NEDERIGHEID BELANGRIK?

  • Nederigheid dra by tot goeie verhoudings. “Dit is oor die algemeen makliker vir nederige mense om met ander vriende te maak”, sê die boek The Narcissism Epidemic. Dit sê verder dat dit vir sulke mense makliker is om met ander te kommunikeer en te assosieer.

  • Nederigheid sal jou kind in die toekoms help. As jou kind leer om nederig te wees, sal dit hom nou en later in die lewe help – byvoorbeeld, wanneer hy werk soek. “’n Jong persoon wat te veel van haarself dink, wat nie bewus is van haar eie tekortkominge nie, sal waarskynlik nie goed vaar tydens ’n werksonderhoud nie”, skryf dr. Leonard Sax. “Maar ’n jong persoon wat opreg belangstel in wat die persoon sê wat die onderhoud voer, staan ’n groter kans om die werk te kry.” *

LEER JOU KIND OM NEDERIG TE WEES

Help jou kind om nie te veel van homself te dink nie.

BYBELBEGINSEL: “As iemand dink dat hy iets is, terwyl hy niks is nie, bedrieg hy sy eie verstand.” – Galasiërs 6:3.

  • Moenie misleidende sêgoed gebruik nie. Sêgoed soos “al jou drome kan waar word” en “jy kan enigiets wees wat jy wil wees”, klink dalk inspirerend, maar in die werklike lewe is dit dikwels nie waar nie. Jou kinders sal waarskynlik meer suksesvol wees as hulle redelike doelwitte het en hard werk om dit te bereik.

  • Prys jou kind vir spesifieke dinge. As ’n mens net vir ’n kind sê dat hy wonderlik is, help dit hom nie om nederig te wees nie. Prys hom eerder vir spesifieke dinge.

  • Beperk jou kind se gebruik van sosiale media. Mense gebruik sosiale media dikwels om hulleself belangrik te laat lyk – om hulle talente en prestasies te adverteer. Dit is beslis die teenoorgestelde van nederigheid.

  • Spoor jou kind aan om gou om verskoning te vra. Help jou kind om te sien waar hy verkeerd is en om dit te erken.

Leer jou kind om dankbaar te wees.

BYBELBEGINSEL: “Toon dat julle dankbaar is.” – Kolossense 3:15.

  • Dankbaarheid vir die skepping. Kinders moet die natuur waardeer en besef hoe belangrik dit is vir ons oorlewing. Ons sal nie kan bly lewe sonder lug om in te asem, water om te drink en kos om te eet nie. Gebruik hierdie voorbeelde om jou kind te help om die wonders van die natuur te waardeer en te bewonder.

  • Waardering vir mense. Herinner jou kind daaraan dat elke persoon in die een of ander opsig beter as hy is. Hy moenie jaloers wees op ander se vaardighede en vermoëns nie, hy kan eerder by hulle leer.

  • Dankbaarheid moet gewys word. Leer jou kinders om dankie te sê en dit opreg te bedoel. Dankbaarheid word as ’n boublok van nederigheid beskou.

Leer jou kind dat dit goed is om dinge vir ander te doen.

BYBELBEGINSEL: “[Julle moet] ander hoër as julleself ag, terwyl julle nie uit persoonlike belangstelling ’n oog op net julle eie sake hou nie, maar ook uit persoonlike belangstelling op dié van die ander.” – Filippense 2:3, 4.

  • Gee jou kind takies om te doen. As jy nie vir jou kind takies gee om by die huis te doen nie, sal hy dalk dink dat hy te belangrik is om sulke takies te doen. Laat hom sy takies doen voordat hy kan speel. Sê vir hom hoe hierdie takies ander help en dat ander hom sal waardeer en respekteer as hy dit doen.

  • Beklemtoon dat dit ’n voorreg is om dinge vir ander te doen. As ’n kind dinge vir ander doen, sal dit hom help om volwasse te word. Spoor jou kind dus aan om te probeer sien wie hulp nodig het. Bespreek met hom wat hy kan doen om hulle te help. Prys en ondersteun jou kind wanneer hy ander help.

^ par. 8 Uit die boek The Collapse of Parenting.