Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Emosionele gesondheid

Emosionele gesondheid

Die Bybel waarsku ons teen emosies wat ons kan afbreek en moedig ons aan om eienskappe te ontwikkel wat ons kan opbou.

MOENIE GOU KWAAD WORD NIE

WAT DIE BYBEL SÊ: “Hy wat nie gou toornig [of kwaad] word nie, is beter as ’n sterk man.” – Spreuke 16:32.

WAT DIT BETEKEN: Dit sal jou baie help as jy leer om nie gou op jou perdjie te spring nie. Ons almal het soms goeie rede om kwaad te word, maar as ons nie ons woede beheer nie, kan dit baie skade veroorsaak. Navorsers sê dat mense in ’n oomblik van woede dikwels iets sê of doen waaroor hulle later spyt is.

WAT JY KAN DOEN: Leer om jou woede te beheer voordat dit jou beheer. Party mense dink dat dit ’n goeie ding is as jy nie jou woede beheer nie, maar eintlik is dit ’n swakheid. Die Bybel sê: “Soos ’n deurbreekte stad sonder ’n muur is die man wat sy gees [of humeur] nie in bedwang hou nie” (Spreuke 25:28). ’n Goeie manier om jou woede te beheer, is om die feite te kry voordat jy iets sê of doen. “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn [of woede]” (Spreuke 19:11). As ons mooi luister na albei kante van ’n saak, sal dit ons help om die saak beter te verstaan en om ons emosies te beheer.

WEES DANKBAAR

WAT DIE BYBEL SÊ: “Toon dat julle dankbaar is.” – Kolossense 3:15.

WAT DIT BETEKEN: Daar is al gesê dat net iemand wat dankbaar is, gelukkig kan wees. Selfs mense wat deur ’n baie moeilike tyd gegaan het, stem hiermee saam. Hulle sê dat hulle kon keer dat hulle ’n emosionele breekpunt bereik deur nie te fokus op die dinge wat hulle verloor het nie, maar eerder op die dinge waarvoor hulle dankbaar is.

WAT JY KAN DOEN: Jy kan elke dag ’n lysie maak van die dinge waarvoor jy dankbaar is. Dit hoef nie groot dinge te wees nie. Waardeer selfs die klein dingetjies, soos ’n pragtige sonsondergang, ’n lekker gesprek met iemand vir wie jy lief is of selfs die feit dat jy nog ’n dag kan lewe. As jy die tyd neem om sulke dinge te waardeer, kan dit jou emosionele gesondheid ’n hupstoot gee.

Dit kan jou veral help as jy dink aan hoekom jy dankbaar is vir jou familie en vriende. Sê dan vir hulle wat jy omtrent hulle waardeer. Of stuur vir hulle ’n brief, ’n e-pos of ’n teksboodskap. Dit sal waarskynlik jou verhoudings met hulle versterk, en jy sal gelukkig wees omdat jy iets doen wat ander gelukkig maak. – Handelinge 20:35.

NOG RAAD UIT DIE BYBEL

Jy kan oudio-opnames van die Bybel aflaai. Dit is beskikbaar in ongeveer 40 tale op jw.org.

LOOP WEG VOORDAT ’N STRYERY BEGIN.

“Die begin van twis is soos iemand wat waters loslaat; gaan dus weg voordat die rusie [of stryery] uitgebreek het.” – SPREUKE 17:14.

MOET JOU NIE ONNODIG OOR DIE TOEKOMS BEKOMMER NIE.

“Moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.” – MATTEUS 6:34.

DINK MOOI VOORDAT JY REAGEER.

‘Denkvermoë sal oor jou wag hou, onderskeidingsvermoë sal jou beveilig.’ – SPREUKE 2:11.