Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP

Siekte—Hoe om jou te beskerm

Siekte—Hoe om jou te beskerm

Jou liggaam veg elke dag teen onsigbare vyande, maar hierdie vyande kan dodelik wees. Vreemde indringers soos bakterieë, virusse en parasiete stel jou gesondheid in gevaar. * Jy is waarskynlik nie bewus van hierdie gevegte nie omdat jou immuunstelsel die meeste van hierdie indringers afweer of vernietig voordat jy enige simptome ervaar. Maar soms kry die skadelike kieme die oorhand. Indien wel, is dit dalk nodig dat jy jou verdedigingstelsel met medisyne en ander behandeling versterk.

Mense het duisende jare lank amper niks geweet omtrent die gevare van mikroskopiese of ander klein skadelike organismes nie. Maar toe het wetenskaplikes in die 19de eeu bevestig dat daar ’n verband is tussen kieme en siektes. Dit het ons gehelp om ons gesondheid beter te verdedig. Mediese navorsers het sedertdien die gevaar van party aansteeklike siektes, insluitende pokke en polio, uitgeskakel of grootliks verminder. Maar onlangs het ander siektes, soos geelkoors en denguekoors, weer kop uitgesteek. Waarom? Kyk na die volgende faktore:

  • Miljoene mense reis elke jaar regoor die wêreld en versprei dikwels kieme wat siektes kan veroorsaak. Volgens ’n artikel in die tydskrif Clinical Infectious Diseases kan “feitlik alle gevaarlike, aansteeklike infeksies” deur internasionale reisigers versprei word.

  • Party bakterieë het ’n weerstand teen antibiotika opgebou. “Die wêreld gaan ’n era bereik waarin antibiotika ondoeltreffend sal wees en waarin algemene infeksies . . . weer eens [dodelik kan word]”, sê die Wêreldgesondheidsorganisasie.

  • Burgerlike onrus en armoede meng dikwels in met die regering se pogings om die verspreiding van siektes te beheer.

  • Baie mense weet eenvoudig nie hoe om te voorkom dat hulle siek word nie.

Ondanks hierdie ontstellende faktore is daar baie wat jy kan doen om jou en jou gesin te beskerm. Die volgende artikel sal toon dat daar eenvoudige en doeltreffende dinge is wat jy kan doen, selfs al woon jy in ’n ontwikkelende land.

^ par. 3 Die meeste mikrobes veroorsaak nie siektes nie. Hierdie artikels konsentreer op mikro-organismes en ander infeksies wat jou gesondheid in gevaar stel.