Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

2 Hoe om probleme op te los

2 Hoe om probleme op te los

Ons kan dalk jare lank met party probleme in die lewe sukkel. Hierdie probleme kan wortelskiet voordat ons daarvan bewus word. Gee die Bybel ons goeie raad wat ons kan help om hierdie frustrerende probleme waarmee ons sukkel, op te los? Kyk na ’n paar voorbeelde.

OM TE VEEL TE STRES

Rosie sê: “Ek het heeltyd gestres oor dinge wat ek in my gedagtes erger gemaak het as wat dit eintlik was.” Watter Bybelverse het haar gehelp? Een van hulle is Matteus 6:34: “Moet julle . . . nooit kwel oor die volgende dag nie, want die volgende dag sal sy eie sorge hê. Elke dag het genoeg van sy eie kwaad.” Rosie sê nou dat Jesus se woorde haar gehelp het om op te hou stres oor wat dalk môre kan gebeur. Sy sê verder: “Ek het genoeg probleme gehad. Ek het nie nodig gehad om te stres oor dinge wat nog nie gebeur het nie, en wat dalk nooit sou gebeur nie.”

Yasmine was ook oorweldig deur al die dinge waaroor sy haar bekommer het. “Ek het elke week dae lank gehuil, en party aande kon ek glad nie slaap nie. Dit het vir my gevoel asof my negatiewe gevoelens my heeltemal insluk.” Watter Bybelteks het haar gehelp? Sy noem 1 Petrus 5:7 wat sê: ‘Werp al julle sorge op [God], want hy sorg vir julle.’ Yasmine sê: “Ek het aangehou om tot Jehovah te bid, en hy het my gebede verhoor. Dit het vir my gevoel asof daar ’n geweldige las van my skouers afgelig is. Ek kry nog af en toe negatiewe gedagtes, maar nou weet ek hoe om dit te hanteer.”

OM UIT TE STEL

’n Jong vrou met die naam Isabella sê: “Ek dink om dinge uit te stel, is oorerflik, want my pa doen dit ook. Ek stel belangrike dinge uit sodat ek eerder kan ontspan of TV kyk. Dit is ’n slegte gewoonte omdat dit meer stres veroorsaak en maak dat ’n mens dinge nie ordentlik doen nie.” Die Bybelwaarheid in 2 Timoteus 2:15 het haar gehelp: “Doen jou uiterste bes om jou goedgekeur voor God te stel, as ’n werker wat hom oor niks hoef te skaam nie.” Isabella sê: “Ek wou nie hê dat Jehovah ontevrede moes wees met my werk net omdat ek dit uitgestel het nie.” Sy het hard hieraan gewerk en baie verbeter.

Kelsey sê ook: “Wanneer ek ’n taak moes ingee, sou ek dit gewoonlik tot op die laaste minuut uitstel. Dan was ek in trane, kon ek nie slaap nie en het ek my dood bekommer. Dit was glad nie goed vir my nie.” Spreuke 13:16 het Kelsey gehelp: “Elke skerpsinnige sal met kennis optree, maar die sot sal dwaasheid versprei.” Sy verduidelik wat sy geleer het toe sy oor hierdie Bybelteks nagedink het: “Dit is ’n goeie idee om prakties te wees en vooruit te beplan. Ek het nou ’n dagboek wat ek op my lessenaar hou en waarin ek dinge neerskryf wat ek moet doen. Ek stel nie meer dinge tot die laaste minuut uit nie.”

OM EENSAAM TE WEES

Kirsten sê: “My man het my gelos, en ek moes alleen na ons vier jong kinders kyk.” Watter Bybelwaarheid het haar gehelp? Spreuke 17:17 sê: “’n Ware metgesel het te alle tye lief en is ’n broer wat gebore word vir die tyd wanneer daar benoudheid is.” Kirsten het vir hulp gevra by mense wat Jehovah saam met haar dien. Wat het gebeur? “My vriende het ingespring en my op baie maniere gehelp! Party van hulle het inkopies en blomme by my voordeur gelos. ’n Hele klomp vriende het my en my kinders drie keer gehelp om te trek. ’n Vriend het my gehelp om werk te kry. My vriende was altyd daar vir my.”

Delphine, wat vroeër genoem is, het ook met eensaamheid gesukkel. Ná alles wat sy deurgemaak het, sê sy: “Dit het vir my gevoel asof ek aan die buitekant staan en kyk hoe almal aangaan met hulle lewe. Ek was baie eensaam.” ’n Bybelteks wat haar gehelp het, is Psalm 68:6: “God laat die eensames in ’n huis woon.” Sy verduidelik: “Ek het geweet dat hierdie vers nie van ’n fisiese huis praat nie. Dit praat eerder van ’n geestelike huis of ’n plek waar jy veilig kan voel en vriende kan maak met mense wat vir Jehovah lief is. Maar ek het geweet dat ek nie nader aan ander kon kom voordat ek nie eers nader aan Jehovah gekom het nie. Psalm 37:4 het my hiermee gehelp. Dit sê: ‘Verlustig jou ook in Jehovah, en hy sal jou die versoeke van jou hart gee.’”

Sy sê: “Ek het besef dat ek my verhouding met Jehovah nog sterker moes maak, want Hy is die heel beste Vriend. Ek het toe ’n lysie gemaak van ’n paar dinge wat ek saam met ander mense kon geniet. Op hierdie manier kon ek vriende maak met mense wat ook vir Jehovah lief is. Ek het geleer om die goeie in ander raak te sien en om verby hulle foute te kyk.”

Natuurlik is mense wat God dien, nog steeds onvolmaak. Jehovah se Getuies sukkel ook met probleme net soos alle ander mense. Maar as gevolg van wat die Bybel ons leer, probeer ons om ander te help wanneer ons ook al kan. Dit is goed om sulke vriende te hê. Maar kan Bybelwaarhede jou ook help met probleme wat jy nie nou kan oplos nie, soos om ’n chroniese siekte te hê of om deur groot hartseer te gaan?

As jy die raad in die Bybel toepas, kan dit jou help om goeie vriende te maak wat jou sal ondersteun