Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Julle is meer werd.” — MATTEUS 10:31

Sien God jou raak?

Sien God jou raak?

WAT DIE SKEPPING ONS LEER

Die eerste 60 minute nadat ’n baba gebore is, is ’n belangrike tyd van aanpassing. Hoekom? Wanneer ma’s gedurende hierdie belangrike tyd ’n band met hulle pasgebore babas vorm, het dit ’n baie goeie uitwerking op hoe ’n kind groei en ontwikkel. *

Wat veroorsaak dat ’n ma so baie vir haar pasgebore baba omgee? Professor Jeannette Crenshaw verduidelik in The Journal of Perinatal Education dat hoër vlakke van die hormoon oksitosien “moederlike gevoelens ná geboorte aanwakker terwyl ’n ma aan haar pasgebore baba vat, na die baba kyk en die baba borsvoed”. ’n Ander hormoon wat op hierdie tyd vrygestel word, “help ’n ma om ’n verhouding met haar baba te vorm” en hierdie verhouding met haar baba te versterk. Hoekom is dit belangrik?

Die sterk band tussen ’n ma en haar baba is deur ons liefdevolle Skepper, Jehovah God, * ontwerp. Koning Dawid het gesê dat dit God is wat hom “uit die moederskoot” laat kom het en hom veilig in sy ma se arms laat voel het. Hy het gebid: “Ek is van die moederskoot af op u gewerp [in u sorg geplaas]; van die skoot van my moeder af is u my God.” — Psalm 22:9, 10.

DINK HIERAAN: As God so ’n ingewikkelde stelsel geskep het om seker te maak dat ’n ma mooi na haar baba sal kyk en die baba sal gee wat hy nodig het, is dit dan nie logies dat God ook persoonlik in ons, as sy kinders, belangstel nie? — Handelinge 17:29.

WAT DIE BYBEL ONS LEER OOR DIE FEIT DAT GOD VIR ONS OMGEE

Jesus Christus, wat die Skepper beter as enigiemand anders ken, het gesê: “Word twee mossies nie vir ’n muntstuk van geringe waarde verkoop nie? Tog sal nie een van hulle sonder julle Vader se wete op die grond val nie. Maar selfs die hare op julle kop is almal getel. Moet dus nie vrees nie: julle is meer werd as baie mossies.” — Matteus 10:29-31.

Nie baie van ons sien elke klein voëltjie raak nie, wat nog te sê as een van hulle doodgaan. Maar ons hemelse Vader sien elkeen van hulle raak! En voëls — selfs baie voëls — is nooit vir hom meer werd as ’n mens nie. Die les is duidelik: Jy moenie bekommerd wees dat God jou nie raaksien nie. Inteendeel, hy stel baie belang in jou!

God stel regtig in ons belang en gee liefdevol vir ons om

Die Bybel verseker ons

  • “Die oë van Jehovah is op elke plek, en hulle let op die slegtes en die goeies.” — SPREUKE 15:3.

  • “Die oë van Jehovah is op die regverdiges, en sy ore is tot hulle hulpgeroep.” — PSALM 34:15.

  • “Ek sal bly wees en my in u liefderyke goedhartigheid verbly, omdat u my ellende gesien het; u het geweet van die benoudhede van my siel.” — PSALM 31:7.

‘EK HET GEVOEL DAT JEHOVAH NIE LIEF IS VIR MY NIE’

Kan dit ’n verskil in ons lewe maak as ons weet dat God regtig in ons belangstel en liefdevol vir ons omgee? Dit kan beslis, soos Hannah * van Engeland verduidelik:

“Ek het baie keer gevoel dat Jehovah nie lief is vir my nie en dat my gebede nie verhoor word nie. Ek het gedink dit is omdat ek nie genoeg geloof gehad het nie. Dit het vir my gevoel asof ek gestraf of geïgnoreer word omdat ek nie belangrik is nie. Ek het gevoel dat God nie omgee nie.”

Maar Hannah twyfel nie meer dat Jehovah haar raaksien en lief is vir haar nie. Wat het haar gehelp om anders te voel? Sy sê: “Dit was ’n geleidelike verandering. Ek onthou ’n Bybeltoespraak jare gelede oor Jesus se losprysofferande. Dit het my diep geraak en my gehelp om seker te wees van Jehovah se liefde. En wanneer my gebede beantwoord is, het ek in trane uitgebars omdat ek besef het dat Jehovah tog lief is vir my. Om die Bybel te studeer en Christelike vergaderinge by te woon, het my ook meer geleer oor Jehovah, sy persoonlikheid en hoe hy oor ons voel. Nou sien ek duidelik hoe Jehovah ons almal ondersteun en liefhet en hoe hy graag na elkeen van ons omsien.”

Wat Hannah sê, is aanmoedigend. Maar hoe kan jy seker wees dat God jou gevoelens verstaan en dat dit vir hom belangrik is? Die volgende artikel sal hierdie vraag bespreek.

^ par. 3 Dit is dalk moeilik vir ma’s wat depressie ná geboorte kry, om ’n band met hulle baba te vorm. Maar hulle moenie voel dat dit hulle skuld is nie. Volgens die Amerikaanse Nasionale Instituut van Geestesgesondheid is depressie ná geboorte “heel moontlik die gevolg van ’n kombinasie van fisiese en emosionele faktore . . . maar nie as gevolg van iets wat ’n ma doen of nie doen nie”. Vir meer inligting oor hierdie onderwerp, sien die artikel “Verstaan nageboortelike depressie” in die Ontwaak! van 8 Junie 2003.

^ par. 5 Volgens die Bybel is God se naam Jehovah. — Psalm 83:18.

^ par. 15 Party van die name in hierdie reeks artikels is verander.