Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | DIE BYBEL—’N BOEK WAT BEHOUE GEBLY HET

Die Bybel het behoue gebly ondanks teenstand

Die Bybel het behoue gebly ondanks teenstand

DIE BEDREIGING: Baie politieke en godsdiensleiers het probeer verhinder dat mense die Bybel se boodskap hoor. Hulle het dikwels hulle gesag gebruik om te keer dat mense die Bybel besit, vervaardig of vertaal. Kyk na twee voorbeelde:

  • Omstreeks 167 VHJ: Die Seleukiede-koning Antiogos Epifanes, wat die Griekse godsdiens op die Jode probeer afdwing het, het beveel dat alle afskrifte van die Hebreeuse Geskrifte vernietig word. Sy amptenare het “die boekrolle van die Wet geskeur en verbrand wanneer hulle dit ook al gekry het”, het die geskiedskrywer Heinrich Graetz geskryf, “en het diegene doodgemaak wat krag en vertroosting probeer vind het deur dit te lees”.

  • Middeleeue: Party Katolieke leiers was kwaad omdat die leke eerder Bybelleringe as Katolieke leerstellings verkondig het en hulle het diegene wat Bybelboeke buiten die Psalms in Latyn besit het, as ketters bestempel. Een kerkraad het in reaksie hierop opdrag gegee dat ’n paar mans “ywerig, getrou en gereeld na die ketters moet soek . . . deur alle huise en ondergrondse kamers wat onder verdenking is, te deursoek. . . . Die huis waarin enige ketter gevind word, sal vernietig word.”

As die Bybel se vyande daarin geslaag het om dit te vernietig, sou die boodskap daarin verlore gegaan het.

William Tyndale se Engelse vertaling van die Bybel het behoue gebly ten spyte van ’n verbod, die verbranding van Bybels en die teregstelling van Tyndale in 1536

HOE DIE BYBEL BEHOUE GEBLY HET: Koning Antiogos se kampanje was op Israel toegespits, maar daar was reeds Joodse gemeenskappe in verskeie ander lande. Trouens, geleerdes skat dat meer as 60 persent van Jode teen die eerste eeu HJ buite Israel gewoon het. Die Jode het afskrifte van die Skrif in hulle sinagoges gehou—dieselfde Skrif wat deur toekomstige geslagte, insluitende Christene, gebruik is.—Handelinge 15:21.

Gedurende die Middeleeue het mense wat lief was vir die Bybel, vervolging verduur, maar hulle het aangehou om die Skrif te vertaal en afskrifte daarvan te maak. Selfs voordat drukperse met los letters teen die middel van die 15de eeu uitgevind is, was gedeeltes van die Bybel moontlik in tot 33 tale beskikbaar. Daarna is die Bybel op ’n ongeëwenaarde skaal vertaal en vervaardig.

DIE GEVOLG: Ondanks dreigemente van magtige konings en kerkleiers met misplaaste ywer, is die Bybel die wyds verspreide en mees vertaalde boek in die geskiedenis. Dit het ’n invloed gehad op die wette en tale van party lande, asook op die lewens van miljoene mense.