Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 11

Hou aan om “die nuwe persoonlikheid” aan te trek nadat jy gedoop is

Hou aan om “die nuwe persoonlikheid” aan te trek nadat jy gedoop is

“Trek die nuwe persoonlikheid aan.” – KOL. 3:10.

LIED 49 Maak Jehovah se hart bly

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat het die grootste uitwerking op ons persoonlikheid?

ONS almal, of ons nou ’n paar dae of jare lank gedoop is, wil graag die soort persoonlikheid hê wat Jehovah liefhet. En daarom moet ons ons denke beheer. Hoekom? Omdat ons gedagtes die grootste uitwerking op ons persoonlikheid het. As ons gereeld aan verkeerde dinge dink, sal ons slegte dinge sê en doen (Ef. 4:17-19). Maar as ons ons gedagtes met goeie dinge vul, sal ons heel moontlik op ’n manier praat en optree wat ons Vader, Jehovah, se hart bly maak. – Gal. 5:16.

2. Watter vrae gaan ons in hierdie artikel bespreek?

2 Soos ons in die vorige artikel gesien het, kan ons nie altyd keer dat slegte gedagtes by ons opkom nie. Maar ons kan kies om nie die slegte dinge te doen waaraan ons gedink het nie. Voordat ons gedoop word, moet ons ophou om op ’n manier te praat en op te tree wat Jehovah haat. Dit is die eerste en belangrikste stap om die ou persoonlikheid uit te trek. Maar as ons Jehovah regtig gelukkig wil maak, moet ons ook gehoorsaam wees aan die opdrag: “Trek die nuwe persoonlikheid aan” (Kol. 3:10). In hierdie artikel sal ons die volgende vrae bespreek: Wat is “die nuwe persoonlikheid”? En hoe kan ons die nuwe persoonlikheid aantrek en dit aanhou?

WAT IS “DIE NUWE PERSOONLIKHEID”?

3. Wat is “die nuwe persoonlikheid”, en hoe kan ’n persoon dit aantrek? (Galasiërs 5:22, 23)

3 As iemand “die nuwe persoonlikheid” wil aantrek, moet hy leer om soos Jehovah te dink en op te tree. Hy trek die nuwe persoonlikheid aan deur die vrug van God se gees in sy lewe te openbaar en deur toe te laat dat die heilige gees sy denke, gevoelens en dade beïnvloed. (Lees Galasiërs 5:22, 23.) Byvoorbeeld, hy is lief vir Jehovah en Sy knegte (Matt. 22:36-39). Hy behou sy vreugde, selfs wanneer hy deur moeilike tye gaan (Jak. 1:2-4). Hy is ’n vredemaker (Matt. 5:9). Hy is geduldig en liefdevol teenoor ander mense (Kol. 3:13). Hy is lief vir wat goed is en hy doen goeie dinge (Luk. 6:35). Sy dade wys dat hy sterk geloof het in sy hemelse Vader (Jak. 2:18). Hy bly kalm wanneer ander hom kwaad maak en hy beoefen selfbeheersing wanneer hy in die versoeking kom. – 1 Kor. 9:25, 27; Tit. 3:2.

4. Kan ons die eienskappe in Galasiërs 5:22, 23 een vir een ontwikkel as ons die nuwe persoonlikheid wil aantrek? Verduidelik.

4 Om die nuwe persoonlikheid aan te trek, moet ons al die eienskappe ontwikkel wat in Galasiërs 5:22, 23 en in ander dele van die Bybel genoem word. * Hierdie eienskappe is nie soos verskillende kledingstukke wat ons een vir een aantrek nie. Hierdie eienskappe is eintlik aan mekaar gekoppel. Byvoorbeeld, as jy regtig lief is vir ander mense, sal jy geduldig en goedhartig teenoor hulle wees. En as jy goed is, sal jy sagmoedig wees en selfbeheersing hê.

HOE KAN ONS DIE NUWE PERSOONLIKHEID AANTREK?

Hoe meer ons leer om soos Jesus te dink, hoe beter sal ons sy persoonlikheid weerspieël (Sien paragraaf 5, 8, 10, 12, 14)

5. Wat beteken dit om “die denke van Christus” te hê, en hoekom moet ons Jesus se lewe bestudeer? (1 Korintiërs 2:16)

5 Lees 1 Korintiërs 2:16. Om die nuwe persoonlikheid aan te trek, moet ons “die denke van Christus” hê. Met ander woorde, ons moet leer hoe Jesus dink en hom navolg. Jesus openbaar die vrug van God se gees volmaak. Net soos ’n perfekte spieël, weerspieël Jesus Jehovah se eienskappe perfek (Heb. 1:3). Hoe meer ons soos Jesus dink, hoe meer sal ons soos hy optree en hoe beter sal ons sy persoonlikheid weerspieël. – Fil. 2:5.

6. Wat moet ons in gedagte hou wanneer ons probeer om die nuwe persoonlikheid aan te trek?

6 Is dit regtig moontlik om Jesus se voorbeeld na te volg? Ons dink dalk: ‘Jesus is volmaak. Ek sal nooit presies soos hy kan wees nie!’ As jy so voel, moet jy die volgende in gedagte hou. Eerstens, jy is gemaak om soos Jehovah en Jesus te wees. So jy kan kies om hulle na te volg en jy kan tot ’n mate soos hulle wees (Gen. 1:26). Tweedens, God se heilige gees is die sterkste krag in die heelal. Met die hulp van die heilige gees sal jy dinge kan doen wat jy nooit op jou eie sou kon doen nie. Derdens, Jehovah verwag nie dat jy nou die vrug van die gees volmaak moet openbaar nie. Om die waarheid te sê, ons liefdevolle Vader het 1 000 jaar opsygesit vir dié met die aardse hoop om volmaak te word (Op. 20:1-3). Wat Jehovah nou van ons verwag, is om ons bes te probeer en om op sy hulp staat te maak.

7. Wat sal ons nou bespreek?

7 Op watter spesifieke maniere kan ons Jesus navolg? Ons sal kortliks vier aspekte van die vrug van God se gees bespreek. Ons gaan kyk na wat ons kan leer uit die manier hoe Jesus daardie eienskappe geopenbaar het. En terwyl ons dit doen, sal ons na ’n paar vrae kyk wat ons sal help om die nuwe persoonlikheid in voller mate aan te trek.

8. Hoe het Jesus gewys dat hy ander liefhet?

8 Jesus se diep liefde vir Jehovah het hom beweeg om opofferings vir sy Vader en vir ons te maak (Joh. 14:31; 15:13). Jesus het gewys hoe baie hy mense liefhet deur die manier hoe hy sy lewe op aarde gelei het. Hy was elke dag liefdevol teenoor ander en het meegevoel vir hulle gehad, selfs toe party hom teëgestaan het. ’n Belangrike manier hoe hy sy liefde vir mense gewys het, was deur hulle oor God se Koninkryk te leer (Luk. 4:43, 44). Jesus het ook gewys hoe lief hy vir God en mense is toe hy sy lewe opgeoffer het en wreed doodgemaak is deur sondaars. So het hy dit vir ons moontlik gemaak om die ewige lewe te kan kry.

9. Hoe kan ons soos Jesus wys dat ons ander liefhet?

9 Ons het ons aan Jehovah toegewy en ons laat doop omdat ons ons hemelse Vader liefhet. En daarom moet ons, net soos Jesus, wys dat ons Jehovah liefhet deur die manier hoe ons mense behandel. Die apostel Johannes het geskryf: “As iemand nie lief is vir sy broer, wat hy gesien het nie, kan hy nie lief wees vir God, wat hy nie gesien het nie” (1 Joh. 4:20). Ons kan onsself vra: ‘Het ek ’n diep liefde vir mense ontwikkel? Behandel ek ander met meegevoel, selfs as hulle onbeskof is? Beweeg liefde my om my tyd en middele te gebruik om ander oor Jehovah te leer? Is ek bereid om dit te doen, selfs as die meerderheid nie van ons werk hou nie of as hulle ons teëstaan? Kan ek maniere vind om meer velddiens te doen?’ – Ef. 5:15, 16.

10. Hoe het Jesus ’n goeie voorbeeld gestel as ’n vredemaker?

10 Jesus was ’n vredemaker. Hy het mense nie sleg behandel wanneer hulle hom sleg behandel het nie. Maar hy het selfs verder gegaan. Hy het die eerste stap geneem om vrede te maak en het ander ook aangemoedig om vrede te maak. Hy het byvoorbeeld vir ander geleer dat hulle vrede met hulle broer moet maak as hulle wil hê dat Jehovah hulle aanbidding moet aanvaar (Matt. 5:9, 23, 24). En hy het die apostels herhaaldelik gehelp om met mekaar vrede te maak wanneer hulle gestry het oor wie die grootste onder hulle was. – Luk. 9:46-48; 22:24-27.

11. Hoe kan ons vredemakers wees?

11 As ons vredemakers wil wees, moet ons meer doen as om stryery te vermy. Ons moet die eerste stap neem om vrede te maak en ons moet ons broers en susters ook aanmoedig om vrede te maak (Fil. 4:2, 3; Jak. 3:17, 18). Ons kan onsself die volgende vrae vra: ‘Wat is ek bereid om op te offer om vrede met ander te maak? As ’n broer my gevoelens seermaak, hou ek dit teen hom? Wag ek vir die ander persoon om die eerste stap te neem om vrede te maak of neem ek die eerste stap, selfs al lyk dit asof die ander persoon die probleem veroorsaak het? Moedig ek ander aan om vrede te maak, wanneer dit gepas is, as ek sien dat hulle ’n probleem met mekaar het?’

12. Hoe het Jesus gewys dat hy goedhartig is?

12 Jesus was goedhartig (Matt. 11:28-30). Hy het gewys dat hy goedhartig is deur liefdevol en aanpasbaar te wees, selfs onder moeilike omstandighede. Byvoorbeeld, toe ’n Fenisiese vrou hom gesmeek het om haar kind gesond te maak, het hy eers nee gesê, maar as gevolg van haar sterk geloof, het hy haar kind toe gesond gemaak (Matt. 15:22-28). Maar alhoewel Jesus goedhartig was, het hy nie gehuiwer om raad te gee nie. Soms het hy gewys dat hy goedhartig is deur ferm te wees met die mense vir wie hy lief was. Byvoorbeeld, toe Petrus Jesus wou probeer keer om Jehovah se wil te doen, het Jesus hom voor die ander dissipels streng raad gegee (Mark. 8:32, 33). Hy het dit nie gedoen om Petrus te verneder nie, maar om hom op te lei en die ander dissipels te waarsku om nie voorbarig te wees nie. Petrus het seker ’n bietjie skaam gevoel, maar die dissipline het hom gehelp.

13. Hoe kan ons goedhartig wees?

13 Om goedhartig te wees teenoor dié vir wie ons lief is, moet ons soms vir hulle reguit raad gee. Wanneer jy dit doen, moet jy Jesus navolg deur raad te gee wat gebaseer is op Bybelbeginsels. Wees liefdevol. Glo dat hulle wil doen wat reg is, en vertrou dat hulle goed op jou liefdevolle raad sal reageer omdat hulle vir jou en vir Jehovah lief is. Vra jouself die volgende vrae: ‘Het ek die moed om iets te sê wanneer ek sien dat iemand vir wie ek lief is, iets verkeerds doen? Praat ek op ’n liefdevolle manier wanneer ek raad moet gee? Wat is my motivering wanneer ek raad gee? Gee ek raad omdat ek geïrriteerd voel of omdat ek die persoon wil help?’

14. Hoe het Jesus goedheid geopenbaar?

14 Jesus weet nie net wat dit beteken om goed te wees nie, maar hy doen ook goeie dinge. Omdat Jesus sy Vader liefhet, doen hy altyd die regte ding vir die regte rede. ’n Goeie persoon soek altyd na geleenthede om ander te help, en hy doen goeie dinge vir hulle. Dit is nie genoeg om net te weet wat die regte ding is om te doen nie. Ons moet die regte ding doen en ons moet dit vir die regte rede doen. Iemand sal dalk vra: ‘Is dit moontlik om die regte ding vir die verkeerde rede te doen?’ Ja, dit is. Byvoorbeeld, Jesus het gepraat van mense wat geskenke vir die armes gee om deur mense gesien te word. Alhoewel dit wat hulle gedoen het, goed was, het dit Jehovah nie beïndruk nie. – Matt. 6:1-4.

15. Hoe kan ons goedheid openbaar?

15 Ons kan net goedheid openbaar as ons die regte ding doen vir onselfsugtige redes. So jy kan jouself die volgende vrae vra: ‘Weet ek net wat die regte ding is om te doen, of doen ek dit ook? Wat is my motivering om goeie dinge te doen?’

HOE KAN ONS ONS NUWE PERSOONLIKHEID IN ’N GOEIE TOESTAND HOU?

16. Wat moet ons elke dag doen, en hoekom?

16 Ons moenie dink dat ons werk in verband met die nuwe persoonlikheid klaar is nadat ons gedoop is nie. Ons moet ons pragtige nuwe persoonlikheid in ’n goeie toestand hou. Een manier hoe ons dit kan doen, is deur elke dag na geleenthede te soek om die vrug van God se gees te openbaar. Hoekom moet ons dit doen? Want Jehovah is ’n God van aksie, en sy gees is ’n werkende krag (Gen. 1:2). So elke aspek van die vrug van die gees kan en moet ons beweeg om iets te doen. Byvoorbeeld, die dissipel Jakobus het geskryf: “Geloof sonder werke [is] dood” (Jak. 2:26). Dieselfde kan gesê word van al die ander aspekte van die vrug van God se gees. Elke keer wanneer ons die vrug van die gees openbaar, wys ons dat God se gees in ons aan die werk is.

17. Wat moet ons nie doen as ons dit soms nie regkry om die vrug van die gees te openbaar nie?

17 Selfs Christene wat jare lank gedoop is, kry dit soms nie reg om die vrug van die gees te openbaar nie. Die belangrike ding is om nie op te gee nie. Dink aan die volgende illustrasie. Sê nou jy skeur jou gunsteling baadjie. Sal jy dit sommer net onmiddellik weggooi? Nee. Jy sal dit heel moontlik wil probeer regmaak as dit moontlik is. En daarna sal jy versigtiger wees. Net so, as jy dit soms nie regkry om goedhartig, geduldig of liefdevol te wees nie, moet jy nie mismoedig word nie. As jy om verskoning vra, kan dit jou help om ’n beskadigde verhouding met iemand te herstel. Wees vasbeslote om beter te doen in die toekoms.

18. Waarvan kan ons seker wees?

18 Ons is so dankbaar om Jesus se voorbeeld te hê! Hoe meer ons leer om soos Jesus te dink, hoe makliker sal dit vir ons wees om soos hy op te tree. Hoe meer ons soos Jesus optree, hoe meer sal ons dit regkry om die nuwe persoonlikheid aan te trek. In hierdie artikel het ons net na vier aspekte van die vrug van God se gees gekyk. Hoekom maak jy nie ’n bietjie tyd om ander aspekte van die vrug van die gees te bestudeer nie? En vra jouself: ‘Hoe vaar ek wanneer dit kom by daardie eienskappe?’ Jy sal ’n lys artikels oor die vrug van die gees vind in die Navorsingsgids vir Jehovah se Getuies onder die onderwerp “Christelike lewenswyse” en dan “Vrug van die gees”. As jy jou kant bring, kan jy seker wees dat Jehovah jou sal help om die nuwe persoonlikheid aan te trek en om dit aan te hou.

LIED 127 Die soort mens wat ek moet wees

^ par. 5 Ons almal kan “die nuwe persoonlikheid” aantrek, maak nie saak wat ons agtergrond is nie. Om dit reg te kry, moet ons aanhou om ons denke te verander en om Jesus te probeer navolg. In hierdie artikel gaan ons kyk na ’n paar voorbeelde van hoe Jesus gedink en opgetree het. Ons sal ook sien hoe ons kan aanhou om hom na te volg nadat ons gedoop word.

^ par. 4 Galasiërs 5:22, 23 bevat nie ’n volledige lys van al die goeie eienskappe wat God se gees ons kan help om te ontwikkel nie. Vir meer inligting hieroor, sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van Junie 2020.