Volgens Matteus 11:1-30

  • Johannes die Doper geprys (1-15)

  • Geslag word veroordeel (16-24)

  • “Aan jong kinders geopenbaar” (25-27)

  • Jesus se juk gee nuwe krag (28-30)

11  Nadat Jesus vir sy 12 dissipels instruksies gegee het, het hy daarvandaan vertrek om in hulle stede te leer en te preek.+  Maar Johannes, wat in die tronk+ gehoor het van die Christus se werke, het sy dissipels gestuur+  om vir hom te vra: “Is u die Een wat sou kom, of moet ons iemand anders verwag?”+  Jesus het vir hulle gesê: “Gaan sê vir Johannes wat julle hoor en sien:+  Die blindes kan nou sien,+ die kreupeles loop, die melaatses+ word genees,* die dowes hoor, die dooies word opgewek en die armes word van die goeie nuus vertel.+  Gelukkig is die een wat geen rede vind om te struikel as gevolg van my nie.”+  Toe hulle vertrek, het Jesus met die skare oor Johannes begin praat en gesê: “Waarna wou julle in die wildernis gaan kyk?+ ’n Riet wat deur die wind heen en weer gewaai word?+  Waarna wou julle gaan kyk? ’n Man wat sagte* klere dra? Dié wat sagte klere dra, is in paleise.*  Hoekom het julle nou eintlik uitgegaan? Om ’n profeet te sien? Ja, sê ek vir julle, en baie meer as ’n profeet.+ 10  Dit is die een oor wie daar geskryf is: ‘Kyk! Ek stuur my boodskapper voor jou uit, wat jou weg vir jou sal voorberei!’+ 11  Ek verseker julle: Van almal wat al gebore is, is daar niemand groter as Johannes die Doper nie. Tog is die persoon wat die kleinste in die Koninkryk van die hemel is, groter as hy.+ 12  Van die dae van Johannes die Doper af tot nou toe is die Koninkryk van die hemel die doel wat mense nastreef, en die mense wat dit nastreef, gryp dit aan.+ 13  Want tot Johannes se tyd toe het al die boeke van die profete en die Wet geprofeteer,+ 14  en as julle bereid is om dit te aanvaar: Hy is ‘Eliʹa wat sou kom’.+ 15  Laat die een wat ore het, luister. 16  “Met wie sal ek hierdie geslag vergelyk?+ Dit is soos jong kinders wat op die markpleine sit en na hulle speelmaats roep 17  en sê: ‘Ons het vir julle op die fluit gespeel, maar julle het nie gedans nie. Ons het ’n treurlied gesing, maar julle het nie gehuil nie.’ 18  Net so het Johannes gekom en nie geëet of gedrink nie, maar mense sê: ‘Hy het ’n demoon.’ 19  Die Seun van die mens het gekom en het wel geëet en gedrink,+ maar mense sê: ‘Kyk! ’n Vraat en iemand wat aan wyn verslaaf is, ’n vriend van belastinggaarders* en sondaars.’+ Maar wysheid word reg bewys deur sy resultate.”*+ 20  Toe het hy die stede waarin die meeste van sy kragtige werke plaasgevind het, begin veroordeel omdat hulle nie berou gehad het nie. Hy het gesê: 21  “Dit sal sleg gaan met jou, Goʹrasin! Dit sal sleg gaan met jou, Betsaiʹda! Want as die kragtige werke wat in julle plaasgevind het, in Tirus en Sidon plaasgevind het, sou hulle lankal in sak en as berou getoon het.+ 22  Maar ek sê vir julle dat dit op die Oordeelsdag beter sal gaan met Tirus en Sidon as met julle.+ 23  En jy, Kaperʹnaum,+ sal jy miskien hoog opgelig word tot in die hemel? Jy sal afkom na die Graf* toe,+ want as die kragtige werke wat in jou plaasgevind het, in Sodom plaasgevind het, sou dit tot vandag toe bly staan het. 24  Maar ek sê vir julle dat dit op die Oordeelsdag beter sal gaan met die land van Sodom as met julle.”+ 25  In daardie tyd het Jesus gesê: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge vir die wyse en geleerde* mense weggesteek het en dit aan jong kinders geopenbaar het.+ 26  Ja, o Vader, want u het goedgekeur dat dit op hierdie manier gebeur. 27  My Vader het alles aan my oorgegee,+ en niemand ken die Seun ten volle nie, behalwe die Vader,+ en niemand ken die Vader ten volle nie, behalwe die Seun en enigeen aan wie die Seun bereid is om hom te openbaar.+ 28  Kom na my toe, almal wat uitgeput is en ’n swaar las dra, en ek sal julle nuwe krag gee. 29  Neem my juk op julle en leer by my, want ek is saggeaard en nederig van hart,+ en julle sal nuwe krag kry. 30  Want my juk is maklik om te dra,* en my vrag is lig.”

Voetnote

Lett. “gereinig”.
Of “die beste”.
Lett. “huise van konings”.
Persone wat belasting vir die regering invorder.
Of “geregverdig deur sy werke”.
Of “Hades”. Sien Woordelys.
Lett. “intellektuele”.
Of “is sag”.