Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

STUDIEARTIKEL 26

Hoe liefde ons help om vrees te oorkom

Hoe liefde ons help om vrees te oorkom

“Jehovah is aan my kant. Ek sal nie bang wees nie.” – PS. 118:6.

LIED 105 “God is liefde”

IN HIERDIE ARTIKEL *

1. Wat is ’n paar algemene vrese?

 KOM ons kyk na wat met van ons broers en susters gebeur het. Nestor en sy vrou, Maria, wou gaan dien waar daar hulp nodig was. * Om dit te doen, moes hulle leer om minder geld uit te gee. Maar hulle was bang dat hulle nie regtig gelukkig sou wees as hulle met minder geld moes klaarkom nie. Toe Binjam een van Jehovah se Getuies geword het in ’n land waar ons werk teëgestaan word, het hy besef dat hy as een van God se knegte vervolg kon word. Dit het hom banggemaak. Maar hy was selfs banger wanneer hy gedink het aan hoe sy familie sou reageer wanneer hulle uitvind van sy nuwe geloof. Valérie was gediagnoseer met ’n aggressiewe soort kanker, en sy het gesukkel om ’n dokter te vind wat haar Bybelse oortuiging oor bloed sou respekteer. Sy was natuurlik bang dat sy dalk sou doodgaan.

2. Hoekom moet ons probeer om ons vrese te oorkom?

2 Het jy al sulke vrese gehad? Baie van ons het al. As ons nie leer om ons vrese te beheer nie, sal ons heel moontlik slegte besluite maak wat selfs ’n negatiewe uitwerking op ons verhouding met Jehovah kan hê. Dit is wat Satan wil hê. Hy probeer ook om ons vrese te gebruik om ons te kry om ongehoorsaam aan Jehovah se wette te wees, insluitende die opdrag om die goeie nuus te verkondig (Op. 12:17). Satan is goddeloos, wreed en magtig. Maar jy kan jouself teen hom beskerm. Hoe?

3. Wat sal ons help om ons vrese te oorkom?

3 Wanneer ons oortuig is dat Jehovah ons liefhet – dat hy aan ons kant is – sal Satan ons nie bangmaak nie (Ps. 118:6). Byvoorbeeld, die skrywer van Psalm 118 het deur baie moeilike dinge gegaan. Hy het baie vyande gehad, insluitende party baie belangrike mense (vers 9, 10). Soms was hy onder baie druk (vers 13). En hy het streng dissipline van Jehovah ontvang (vers 18). Maar daardie psalmis het nog steeds gesing: “Ek sal nie bang wees nie.” Wat het hom so veilig laat voel? Hy het geweet dat sy hemelse Vader baie lief is vir hom, al het Jehovah hom gedissiplineer. Die psalmis was oortuig dat sy liefdevolle God altyd gereed sou wees om hom te help, maak nie saak in watter situasie hy was nie. – Ps. 118:29.

4. Watter vrese kan ons oorkom as ons oortuig is dat God ons liefhet?

4 Ons moet oortuig wees dat Jehovah ons persoonlik liefhet. Dit sal ons help om drie algemene vrese te oorkom, naamlik: (1) die vrees dat ons nie vir ons gesin sal kan sorg nie, (2) die vrees vir mense en (3) die vrees vir die dood. Die broers en susters wat in die eerste paragraaf genoem is, kon hulle vrese oorkom omdat hulle oortuig was van God se liefde.

DIE VREES DAT ONS NIE VIR ONS GESIN SAL KAN SORG NIE

’n Broer, met sy seun in die agtergrond, werk as ’n visserman om materieel vir die gesin te sorg (Sien paragraaf 5)

5. Watter omstandighede kan ’n gesinshoof dalk baie bekommerd maak? (Sien prent op voorblad.)

5 ’n Christengesinshoof neem die verantwoordelikheid om materieel vir sy gesin te sorg ernstig op (1 Tim. 5:8). As jy ’n gesinshoof is, was daar gedurende die onlangse pandemie dalk ’n groot moontlikheid dat jy jou werk kon verloor het. Jy was dalk bekommerd dat jy sou sukkel om kos op die tafel te sit en om die huur of die verband op jou huis te betaal. Jy was dalk ook bang dat as jy jou werk sou verloor, jy nie ’n ander een sou kon kry nie. Of soos Nestor en Maria wat vroeër genoem is, was jy dalk bang om ’n verandering in jou sekulêre werk te maak omdat jy dan minder geld sou hê. Satan het al baie sukses gehad omdat hy sulke vrese uitgebuit het.

6. Wat wil Satan ons laat glo?

6 Satan wil ons laat glo dat Jehovah nie vir ons persoonlik omgee nie en dat hy ons nie sal help om vir ons gesin te sorg nie. Daarom dink ons dalk dat ons alles moet doen wat ons kan om ons werk te behou, selfs al moet ons iets doen wat teen Bybelbeginsels is.

7. Waarvan verseker Jesus ons?

7 Jesus, wat die Vader beter as enige iemand anders ken, verseker ons dat ons God “weet wat [ons] nodig het selfs nog voordat [ons] hom vra” (Matt. 6:8). En Jesus weet dat Jehovah vir ons sal gee wat ons nodig het. As Christene is ons lede van God se familie. Ons kan seker wees dat Jehovah, as Gesinshoof, die beginsel in 1 Timoteus 5:8 sal respekteer.

Jehovah sal seker maak dat ons die dinge het wat ons nodig het. Hy kan ons broers gebruik om ons te help (Sien paragraaf 8) *

8. (a) Wat sal ons help om die vrees te oorkom dat ons nie vir ons gesin sal kan sorg nie? (Matteus 6:31-33) (b) Hoe kan ons die voorbeeld volg van die paartjie in die prent wat ’n maaltyd met ’n suster deel?

8 Wanneer ons oortuig is dat Jehovah ons en ons gesin liefhet, sal ons oortuig wees dat ons alles sal hê wat ons nodig het. (Lees Matteus 6:31-33.) Jehovah is ’n liefdevolle en vrygewige Voorsiener, en hy wil vir ons sorg! Toe hy die aarde gemaak het, het hy nie net vir ons die basiese dinge gegee wat ons sou nodig hê om te oorleef nie. Hy het die aarde liefdevol gevul met dinge wat ons kan geniet (Gen. 2:9). Selfs as ons soms net genoeg het om deur te kom, sal dit goed wees as ons fokus op die feit dat ons wel die dinge het wat ons nodig het. Jehovah het nog altyd vir ons voorsien (Matt. 6:11). Ons moet in gedagte hou dat enige materiële dinge wat ons nou opoffer, niks is in vergelyking met wat ons liefdevolle God vir ons sal gee nie, nou en in die toekoms. Dit is wat Nestor en Maria besef het. – Jes. 65:21, 22.

9. Wat kan jy uit Nestor en Maria se voorbeeld leer?

9 Nestor en Maria het ’n gemaklike lewe in Colombia gehad. Hulle sê: “Ons het daaraan gedink om ons lewe te vereenvoudig en om meer in ons bediening te doen, maar ons was bang dat ons nie gelukkig sou wees as ons minder geld het nie.” Wat het hulle gehelp om hulle vrees te oorkom? Hulle het nagedink oor die baie maniere hoe Jehovah vir hulle gewys het dat hy vir hulle lief is. Omdat hulle oortuig was dat hy altyd vir hulle sou sorg, het hulle hulle goed betaalde werk gelos. Hulle het hulle huis verkoop en na ’n deel van die land getrek waar daar meer verkondigers nodig was. Hoe het hulle oor hulle besluit gevoel? Nestor sê: “Ons het gesien hoe waar die woorde in Matteus 6:33 is. Ons het nog altyd gehad wat ons nodig het, en ons is nou baie gelukkiger.”

DIE VREES VIR MENSE

10. Hoekom is dit verstaanbaar dat mense bang is vir mekaar?

10 Van Adam en Eva se tyd af doen mense al slegte dinge aan mekaar (Pred. 8:9). Byvoorbeeld, mense misbruik hulle gesag, misdadigers is baie gewelddadig, boelies by die skool beledig en dreig hulle klasmaats, en party mense behandel selfs hulle familielede op ’n wrede manier. Dit is geen wonder dat mense bang is vir mekaar nie! Hoe probeer Satan om ons vrees vir mense uit te buit?

11-12. Hoe gebruik Satan mensevrees teen ons?

11 Satan gebruik mensevrees om ons te kry om op te hou om te preek en om ons te kry om nie die dinge te doen wat Jehovah sê ons moet doen nie. Onder Satan se invloed het regerings ons werk verban en ons vervolg (Luk. 21:12; Op. 2:10). Verskillende elemente van Satan se wêreld versprei valse inligting en wrede leuens oor Jehovah se Getuies. Mense wat hierdie leuens glo, sal ons dalk spot of selfs aanrand (Matt. 10:36). Verbaas Satan se taktieke ons? Glad nie. Hy het hierdie taktieke al in die eerste eeu gebruik. – Hand. 5:27, 28, 40.

Al staan familielede ons teë, kan ons oortuig wees van Jehovah se liefde (Sien paragraaf 12-14) *

12 Vrees vir teenstand van regerings is nie die enigste wapen wat Satan gebruik nie. Party is banger vir hoe hulle familielede op die waarheid sal reageer as vir enige fisiese mishandeling. Hulle is baie lief vir hulle familielede en wil graag hê dat hulle Jehovah moet leer ken en liefkry. Dit maak hulle seer wanneer hulle familielede lelike dinge sê van die ware God en sy aanbidders. Maar in party gevalle het familielede wat eers gekant was teen die waarheid, later in die waarheid gekom. Maar sê nou ons familielede wil niks met ons te doen hê nie as gevolg van wat ons nou glo? Hoe sal ons reageer?

13. Hoe kan die feit dat ons oortuig is van God se liefde ons help wanneer familielede niks met ons te doen wil hê nie? (Psalm 27:10)

13 Die mooi woorde in Psalm 27:10 kan ons baie vertroos. (Lees.) Wanneer ons dink aan hoe baie Jehovah ons liefhet, is ons nie bang vir teenstand nie. En ons is oortuig dat hy ons sal beloon vir ons volharding. Jehovah sal vir ons fisiese, emosionele en geestelike behoeftes sorg, beter as wat enige iemand anders kan! Dit is wat Binjam, wat vroeër genoem is, ondervind het.

14. Wat kan jy uit Binjam se voorbeeld leer?

14 Binjam het een van Jehovah se Getuies geword, al het hy geweet dat hy baie erg vervolg kon word. Kyk hoe die feit dat hy geweet het dat Jehovah vir hom lief is, hom gehelp het om mensevrees te oorkom. “Die vervolging was erger as wat ek my voorgestel het,” sê hy. “Maar ek was banger vir teenstand van my familie as vir vervolging van die regering. Ek was bang dat my besluit om een van Jehovah se Getuies te word my ongelowige pa sou teleurstel en dat my familie sou dink dat ek ’n mislukking is.” Maar Binjam was oortuig dat Jehovah altyd sorg vir dié vir wie Hy lief is. Binjam verduidelik: “Ek het gedink aan hoe Jehovah ander gehelp het om geldprobleme, vooroordeel en massageweld te hanteer. Ek het geweet dat Jehovah my sou seën as ek getrou bly. Toe ek ’n hele paar keer gearresteer en selfs gemartel is, het ek self gesien hoe Jehovah ons in moeilike tye help as ons getrou bly.” Jehovah het ’n regte Vader vir Binjam geword, en Sy volk is ’n regte familie vir hom.

DIE VREES VIR DIE DOOD

15. Hoekom is dit normaal om bang te wees vir die dood?

15 Die Bybel erken dat die dood ’n vyand is (1 Kor. 15:25, 26). Ons voel dalk angstig wanneer ons aan die dood dink, veral as ons of ons geliefdes ernstig siek is. Hoekom is ons bang vir die dood? Omdat Jehovah ons geskep het met die begeerte om vir ewig te lewe (Pred. 3:11). ’n Gebalanseerde vrees vir die dood kan ons help om ons lewe te beskerm. Byvoorbeeld, dit kan ons motiveer om gesonde kos te eet en om te oefen, om dokter toe te gaan en medikasie te neem wanneer dit nodig is en om nie ons lewe onnodig in gevaar te stel nie.

16. Hoe probeer Satan ons natuurlike vrees vir die dood uitbuit?

16 Satan weet dat ons lewe vir ons kosbaar is. En hy sê dat ons alles wat ons het – selfs ons vriendskap met Jehovah – sal opoffer om aan die lewe te bly (Job 2:4, 5). Maar Satan is verkeerd! Aangesien hy “die een [is] wat die vermoë het om die dood te veroorsaak”, probeer hy om ons natuurlike vrees vir die dood uit te buit sodat ons Jehovah sal verlaat (Heb. 2:14, 15). Mense wat onder Satan se invloed is, dreig soms om Jehovah se aanbidders dood te maak as hulle nie hulle geloof opgee nie. En ander kere sien Satan dalk dat ons ’n mediese noodgeval het en hy sal dit dalk gebruik om ons te kry om iets te doen wat Jehovah nie wil hê ons moet doen nie. Mediese dokters of ongelowige familielede kan dalk druk op ons plaas om ’n bloedoortapping te aanvaar, iets wat teen God se wet is. Of iemand anders probeer ons dalk oortuig om ’n ander behandeling te aanvaar wat teen Bybelbeginsels is.

17. Volgens Romeine 8:37-39, hoekom is dit nie nodig om bang te wees vir die dood nie?

17 Al wil ons nie doodgaan nie, weet ons dat Jehovah ons nog steeds sal liefhê, al gaan ons dood. (Lees Romeine 8:37-39.) As Jehovah se vriende doodgaan, hou hy hulle in sy geheue asof hulle nog steeds lewe (Luk. 20:37, 38). Hy wil hulle graag weer lewend maak (Job 14:15). Jehovah het ’n hoë prys betaal sodat ons “die ewige lewe kan hê” (Joh. 3:16). Ons weet hoe lief Jehovah vir ons is en hoe baie hy vir ons omgee. So eerder as om Jehovah te verlaat wanneer ons siek is of wanneer ons met die dood gedreig word, vertrou ons op hom vir vertroosting, wysheid en krag. Dit is presies wat Valérie en haar man gedoen het. – Ps. 41:3.

18. Wat kan jy uit Valérie se voorbeeld leer?

18 Toe Valérie 35 jaar oud was, is sy gediagnoseer met ’n aggressiewe soort kanker wat baie skaars is. Kyk hoe liefde haar gehelp het om haar vrees vir die dood te oorkom. Sy sê: “My diagnose het ons lewe oornag verander. Ek het ’n groot operasie nodig gehad om te oorleef. Ek het na baie dokters toe gegaan, maar hulle het almal geweier om die operasie sonder bloed te doen. Ek was baie bang, maar as gevolg van God se wet het ek geweier om ’n bloedoortapping te aanvaar! Regdeur my lewe het Jehovah gewys hoe lief hy vir my is. Nou het ek die geleentheid gehad om te wys hoe lief ek vir hom is. Elke keer dat ek slegte nuus gekry het, het dit my selfs meer vasbeslote gemaak om Jehovah trots te maak en nie Satan te laat wen nie. Ek het uiteindelik ’n suksesvolle operasie sonder bloed gehad. Al het ek nog steeds gesondheidsprobleme, het Jehovah ons nog altyd gegee wat ons nodig het. Byvoorbeeld, die naweek voor my diagnose het ons die artikel ‘Bied vandag se probleme moedig die hoof’ by ons vergadering bespreek. * Hierdie artikel het ons baie vertroos. Ons het dit oor en oor gelees. Artikels soos hierdie en ’n goeie geestelike roetine het my en my man innerlike vrede gegee en ons gehelp om gebalanseerd te bly en om goeie besluite te maak.”

ONS KAN ONS VRESE OORKOM

19. Wat sal binnekort gebeur?

19 Met Jehovah se hulp het Christene regoor die wêreld moeilike situasies oorkom en het hulle die Duiwel suksesvol teëgestaan (1 Pet. 5:8, 9). Jy kan ook. Binnekort sal Jehovah Jesus en sy medeheersers beveel “om die werke van die Duiwel te vernietig” (1 Joh. 3:8). Daarna sal God se volk op die aarde “niks vrees nie, en niks sal vir [hulle] angs veroorsaak nie” (Jes. 54:14; Miga 4:4). Maar tot dan moet ons hard werk om ons vrese te oorkom.

20. Wat sal ons help om ons vrese te oorkom?

20 Ons moet aanhou om ons vertroue te versterk dat Jehovah sy knegte liefhet en hulle beskerm. Iets wat ons kan help om dit te doen, is deur na te dink oor en te praat oor hoe Jehovah sy knegte in die verlede beskerm het. En ons kan dink aan hoe hy ons persoonlik in moeilike tye gehelp het. Met Jehovah se hulp kan ons ons vrese oorkom! – Ps. 34:4.

LIED 129 Ons sal volhard

^ Dit is normaal om bang te wees. Dit kan ons beskerm teen gevaar. Ongesonde vrees kan die teenoorgestelde doen. Dit kan sleg wees vir ons. Hoe so? Satan sal daardie vrees teen ons gebruik. Dit is duidelik dat ons hard moet werk om daardie soort vrees te beheer. Wat sal ons help? Soos hierdie artikel sal wys, kan ons enige vrees oorkom as ons oortuig is dat Jehovah aan ons kant is en dat hy vir ons lief is.

^ Party name is verander.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Paartjie van die plaaslike gemeente bring vir ’n hardwerkende suster en haar familie ’n maaltyd.

^ BESKRYWING VAN PRENT: ’n Jong broer se ouers staan sy aanbidding teë, maar hy is oortuig dat God hom ondersteun.