Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 Sleutels tot gesinsgeluk

Bly toegewyd aan jou huwelik

Bly toegewyd aan jou huwelik

Sy sê: “Ek het ’n ruk lank opgemerk dat my man, Michael, afsydig teenoor my is en ons kinders kil behandel. * Sy gedrag het verander kort nadat ons toegang tot die Internet gekry het, en ek het vermoed dat hy na pornografie op die rekenaar kyk. Nadat die kinders een aand bed toe is, het ek hom gekonfronteer, en hy het erken dat hy na pornografiese webwerwe gekyk het. Ek was verpletter. Ek kon nie glo dat dit met my gebeur nie. Ek het alle vertroue in hom verloor. Om sake te vererger, het ’n werksmaat kort tevore romantiese belangstelling in my begin toon.”

Hy sê: “My vrou, Maria, het ’n ruk gelede afgekom op ’n prent op ons rekenaar en my daaroor gekonfronteer. Toe ek erken dat ek gereeld na pornografiese webwerwe kyk, was sy woedend. Ek het verskriklik verleë en baie skuldig gevoel. Ek het gedink dat dit die einde van ons huwelik is.”

WAT dink jy het met Michael en Maria se verhouding gebeur? Jy dink dalk dat pornografie Michael se grootste probleem was. Maar Michael het besef dat hierdie euwel in werklikheid ’n simptoom van ’n ernstiger probleem was—’n gebrek aan toegewydheid aan sy huwelik. * Toe Michael en Maria getrou het, het hulle uitgesien na ’n lewe van wedersydse liefde en aangename ondervindinge. Maar soos in die geval van baie egpare, het hulle toegewydheid aan hulle huwelik met verloop van tyd afgeneem, en hulle het blykbaar uitmekaar begin dryf.

Voel jy dat die band tussen jou en jou huweliksmaat met die verloop van jare verswak het? Sal jy graag hierdie band weer wil versterk? Dan moet jy weet wat die antwoord op drie vrae is: Wat beteken dit om toegewyd aan jou huwelik te wees? Watter uitdagings kan hierdie toegewydheid ondermyn? En wat kan jy doen om jou toegewydheid aan jou huweliksmaat te versterk?

Wat is toegewydheid?

Hoe sal jy toegewydheid aan die huwelik omskryf? Baie sal sê dat dit uit ’n pligsgevoel voortspruit. ’n Egpaar bly dalk toegewyd   aan hulle huwelik ter wille van hulle kinders of uit ’n pligsgevoel teenoor God, die Insteller van die huwelik (Genesis 2:22-24). Dit is beslis bewonderenswaardige beweegredes en sal ’n huwelik help om gedurende moeilike tye behoue te bly. Maar om gelukkig te wees, moet huweliksmaats meer as net ’n pligsgevoel teenoor mekaar hê.

Dit was Jehovah God se voorneme dat die huwelik ’n egpaar groot vreugde en bevrediging moet verskaf. Hy wou hê dat ’n man hom ‘met sy vrou moet verheug’ en dat ’n vrou haar man moet liefhê en moet voel dat haar man haar liefhet soos sy eie liggaam (Spreuke 5:18; Efesiërs 5:28). Om so ’n band te smee, moet ’n egpaar leer om mekaar te vertrou. En dit is net so belangrik dat hulle ’n lewenslange vriendskap opbou. Wanneer ’n man en vrou mekaar se vertroue wen en hulle daarop toelê om boesemvriende te word, sal hulle toegewydheid aan hulle huwelik sterker word. Hulle sal ’n band smee wat volgens die Bybel so heg is dat dit is asof die twee persone “een vlees” is.—Matteus 19:5.

Toegewydheid kan dus vergelyk word met die messelklei wat die bakstene van ’n stewige huis saamheg. Messelklei bestaan uit ’n mengsel van bestanddele, onder meer sand, sement en water. Net so spruit toegewydheid voort uit ’n kombinasie van faktore, soos plig, vertroue en vriendskap. Wat kan hierdie band laat verswak?

Watter uitdagings is daar?

Toegewydheid verg inspanning en selfopoffering. Dit vereis dat jy bereid moet wees om van jóú voorkeure afstand te doen om jou maat te behaag. Maar die idee om aan iemand anders se wense toe te gee—om te gee sonder om te vra: ‘Wat kry ek daaruit?’—is deesdae by baie mense ongewild en stuit party selfs teen die bors. Maar vra jou af: ‘Hoeveel selfsugtige mense ken ek wat ’n gelukkige huwelik het?’ Die antwoord is waarskynlik: Min, indien enige. Waarom? Dit is onwaarskynlik dat ’n selfsugtige persoon toegewyd aan ’n huwelik sal bly as dit persoonlike opofferings vereis, veral wanneer daar geen onmiddellike beloning is vir klein toegewings wat hy of sy dalk maak nie. Sonder toegewydheid sal ’n verhouding versuur, ongeag hoe soet die romantiese gevoelens was toe ’n paartjie verlief geraak het.

Die Bybel is realisties en erken dat die huwelik harde werk is. Dit sê: “Die getroude man is besorg oor die dinge van die wêreld, hoe hy sy vrou se goedkeuring kan verkry. . . . Die getroude vrou is . . . besorg oor die dinge van die wêreld, hoe sy haar man se goedkeuring kan verkry” (1 Korintiërs 7:33, 34). Ongelukkig is dit so dat selfs huweliksmaats wat gewoonlik onselfsugtig is, nie altyd mekaar se kwellinge erken of hulle maat se opofferings waardeer nie. As ’n egpaar nie waardering vir mekaar toon nie, sal hulle huwelik heel waarskynlik vir hulle meer “verdrukking in hulle vlees” besorg as wat andersins die geval sou wees.—1 Korintiërs 7:28.

As jy wil hê dat jou huwelik deur moeilike tye staande moet bly en gedurende goeie tye moet floreer, moet jy ’n langtermynbeskouing van julle verhouding ontwikkel. Hoe kan jy so ’n gesindheid aankweek, en hoe kan jy jou maat aanspoor om toegewyd aan jou te bly?

Hoe om toegewydheid te versterk

’n Vername faktor is om die raad van God se Woord, die Bybel, nederig toe te pas. As jy dit doen, sal jy ‘jouself bevoordeel’ sowel as jou maat (Jesaja 48:17). Beskou net twee praktiese stappe wat jy kan doen.

Maak tyd vir jou maat

1. Maak jou huwelik ’n prioriteit.

“Maak [seker] van die belangriker dinge”, het die apostel Paulus geskryf (Filippense 1:10). Die manier waarop ’n man en vrou mekaar   behandel, is in God se oë baie belangrik. ’n Man wat sy vrou eer, sal deur God geëer word. En ’n vrou wat haar man respekteer, is “in die oë van God van groot waarde”. —1 Petrus 3:1-4, 7.

Hoe belangrik is jou huwelik vir jou? Hoe belangriker iets vir jou is, hoe meer tyd bestee jy gewoonlik daaraan. Vra jou af: ‘Hoeveel tyd het ek die afgelope maand opsygesit om net saam met my maat deur te bring? Watter spesifieke dinge het ek gedoen om my maat te verseker dat ons nog goeie vriende is?’ As jy geen of min tyd daaraan bestee het om jou huwelik in stand te hou, sal dit dalk vir jou maat moeilik wees om te glo dat jy toegewyd is aan julle huwelik.

Dink jou maat dat jy toegewyd is aan julle huwelik? Hoe kan jy uitvind?

PROBEER DIE VOLGENDE: Skryf hierdie vyf dinge op ’n stuk papier neer: geld, werk, huwelik, vermaak, vriende. Nommer nou die lys volgens wat jy meen jou maat se prioriteite is. Vra jou maat om dieselfde in verband met jou te doen. Ruil dan lyste met jou maat wanneer julle klaar is. As jou maat voel dat jy nie genoeg tyd en energie aan die huwelik bestee nie, moet julle bespreek watter veranderinge julle moet maak om julle toegewydheid aan mekaar te versterk. Vra jou ook af: ‘Wat kan ek doen om groter belangstelling te toon in die dinge wat vir my maat belangrik is?’

Ontrou begin in die hart

2. Vermy alle vorme van ontrou.

Jesus Christus het gesê: “Elkeen wat aanhou om na ’n vrou te kyk om hartstog vir haar te hê, [het] reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg” (Matteus 5:28). Wanneer iemand buite-egtelike geslagsomgang het, dien hy of sy die huwelik ’n verpletterende slag toe, een wat volgens die Bybel gronde vir egskeiding is (Matteus 5:32). Maar Jesus se woorde hierbo toon dat ’n verkeerde begeerte in die hart kan bestaan lank voordat ’n persoon in werklikheid fisies egbreuk pleeg. Die feit dat hierdie verkeerde begeerte gekoester word, is op sigself ’n vorm van ontrou.

Om toegewyd aan jou huwelik te bly, moet jy ’n plegtige belofte maak om nie na pornografie te kyk nie. Ongeag wat baie mense sê, pornografie is gif vir ’n huwelik. Let op wat een vrou sê oor hoe sy voel omdat haar man na pornografie kyk: “My man sê dat dit ons liefdeslewe opwindend maak wanneer hy na pornografie kyk. Maar dit laat my net waardeloos voel, dat ek nie genoeg is vir hom nie. Ek huil my aan die  slaap wanneer hy daarna kyk.” Sal jy sê dat hierdie man sy toegewydheid aan sy huwelik versterk of ondermyn? Dink jy dat hy dit vir sy vrou makliker maak om toegewyd aan hulle huwelik te bly? Beskou hy haar as sy beste vriend?

Die getroue man Job het sy toegewydheid aan sy huwelik en aan sy God getoon deur ‘’n verbond met sy oë’ te sluit. Hy was vasbeslote om nie ‘ag te gee op ’n maagd’ nie (Job 31:1). Hoe kan jy Job navolg?

Jy moenie net pornografie vermy nie, maar moet ook jou hart bewaak sodat dit nie ’n ongepaste gehegtheid aan iemand van die teenoorgestelde geslag vorm nie. Baie dink weliswaar dat flirtasies met lede van die teenoorgestelde geslag ’n huwelik geen skade berokken nie. Maar God se Woord waarsku ons: “Die hart is verraderliker as enigiets anders en is desperaat. Wie kan dit ken?” (Jeremia 17:9). Het jou hart jou bedrieg? Vra jou af: ‘Aan wie skenk ek die meeste aandag—aan my huweliksmaat of aan iemand anders van die teenoorgestelde geslag? Vir wie vertel ek eerste goeie nuus—vir my huweliksmaat of vir iemand anders? Hoe sal ek reageer as my maat my vra om my kontak met iemand van die teenoorgestelde geslag te beperk? Sal ek vies wees of sal ek met graagte aan die versoek voldoen?’

PROBEER DIE VOLGENDE: As jy tot iemand anders as jou maat aangetrokke voel, moet jy jou kontak met dié persoon tot net die nodige beperk en enige ontmoeting op ’n suiwer professionele grondslag hou. Moenie voortdurend dink aan opsigte waarin jy meen dié persoon beter is as jou maat nie. Konsentreer liewer op jou maat se goeie eienskappe (Spreuke 31:29). Dink aan die redes waarom jy op jou maat verlief geraak het. Vra jou af: ‘Het my maat werklik hierdie eienskappe verloor, of sien ek dit net nie meer raak nie?’

Neem die inisiatief

Michael en Maria, wat aan die begin aangehaal is, het besluit om raad te vra oor hoe om hulle probleme te bowe te kom. Om raad te vra, is natuurlik net die eerste stap. Maar Michael en Maria se gewilligheid om hulle probleme te erken en hulp te vra, het duidelik getoon dat hulle toegewyd is aan hulle huwelik en dat hulle bereid is om hulle in te span om ’n sukses daarvan te maak.

Hetsy julle huwelik bestendig of gespanne is, jou maat moet weet dat dit vir jou ’n saak van erns is om ’n sukses van die huwelik te maak. Doen wat ook al gepas en nodig is om jou maat hiervan te oortuig. Is jy bereid om dit te doen?

^ par. 3 Name is verander.

^ par. 5 Hoewel dit in hierdie voorbeeld ’n man is wat na pornografie gekyk het, sal ’n vrou wat dit doen, ook ’n gebrek aan toegewydheid aan haar huwelik openbaar.

VRA JOU AF . . .

  • Aan watter dinge kan ek minder tyd bestee sodat ek meer tyd vir my maat het?

  • Wat kan ek doen om my maat te verseker dat ek toegewyd is aan ons huwelik?