Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Korrupsie sal uitgewis word!

Korrupsie sal uitgewis word!

“Hoop op Jehovah en hou sy weg . . . Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien.”—PSALM 37:34.

VREES jy, soos baie mense, dat korrupsie onvermydelik is en nooit heeltemal uitgewis sal word nie? Dit is te verstane as jy so voel. Deur die geskiedenis heen het mense elke denkbare regeringsvorm op die proef gestel. En tog het hulle dit nog nooit reggekry om korrupsie permanent uit die weg te ruim nie. Is daar enige hoop dat alle mense eendag eerlik met mekaar sal wees?

Gelukkig is die Bybel se antwoord ja! Dit sê vir ons dat God binnekort sal optree om die aarde van korrupsie te bevry. Hoe sal hy dit doen? Deur middel van sy Koninkryk, ’n hemelse regering wat ons aarde heeltemal sal omskep. Dit is dieselfde Koninkryk waarvoor Jesus sy volgelinge leer bid het. In wat soms die gebed van die Here of die Onse Vader genoem word, het Jesus gesê: “Laat u koninkryk kom; laat u wil geskied . . . op die aarde.”—Matteus 6:10, Ou Afrikaanse Bybelvertaling.

Aangaande die Heerser van daardie Koninkryk, Jesus Christus, voorspel die Bybel: “Hy sal die arme verlos wat om hulp roep, ook die geteisterde en elkeen wat geen helper het nie. Hy sal jammer voel vir die geringe en die arme, en die siel van die armes sal hy red. Van onderdrukking en van geweld sal hy hulle siel verlos” (Psalm 72:12-14). Let op dat Jesus empatie het met slagoffers van korrupsie, en hy sal iets omtrent onderdrukking doen! Is dit nie bemoedigend nie?

In die hande van daardie medelydende en magtige Heerser sal God se Koninkryk die aarde van korrupsie bevry. Hoe? Deur die drie oorsake van korrupsie uit die weg te ruim.

Die invloed van sonde

Vandag moet ons almal stry teen sondige neigings, wat ons dikwels selfsugtig laat optree (Romeine 7:21-23). Maar daar is goeie mense wat wil doen wat reg is. Hulle beoefen geloof in die loskoopwaarde van Jesus se vergote bloed, en hulle kan vergifnis vir hulle sondes ontvang (1 Johannes 1:7, 9). * Hierdie persone sal die geleentheid hê om baat te vind by God se grootste liefdedaad, soos ons in Johannes 3:16 lees: “God het die wêreld so liefgehad dat hy sy enigverwekte Seun gegee het, sodat elkeen wat geloof in hom beoefen, nie vernietig sal word nie maar die ewige lewe kan hê.”

God sal vir getroue mense iets waarlik wonderliks doen. In die komende nuwe wêreld sal hy alle spore van sonde uiteindelik verwyder en die getroue mensdom geleidelik tot volmaaktheid en ’n regverdige posisie voor hom verhef (Jesaja 26:9; 2 Petrus 3:13). Niemand sal ooit weer as gevolg van die invloed van sonde korrup word nie. Onder die heerskappy van God se Koninkryk sal getroue mense “van die slawerny aan die verderflikheid vrygemaak” word.—Romeine 8:20-22.

Die invloed van die goddelose wêreld waarin ons lewe

Ongelukkig doen baie mense vandag ander opsetlik kwaad aan. Hulle buit die geringes en armes uit, en hulle beïnvloed ander om ook korrup te wees. Die Bybel vermaan sulke mense: “Laat die goddelose sy weg verlaat en die slegte mens sy gedagtes.” As sulke korrupte mense wel berou toon, belowe die Bybel dat God hulle ‘ryklik sal vergewe’.—Jesaja 55:7.

Maar God sal diegene wat hardnekkig weier om hulle weë te verander, eenvoudig moet verwyder. Die Bybel se belofte sal deur middel van God se Koninkryk bewaarheid word: “Hoop op Jehovah en hou sy weg . . . Wanneer die goddeloses uitgeroei word, sal jy dit sien” (Psalm 37:34). * Wanneer die verstokte goddeloses uit die weg geruim is, sal getroue aanbidders van God nie meer slagoffers van korrupsie wees nie.

Die invloed van Satan die Duiwel

Satan die Duiwel is die mees verstokte sondaar. Ons kan baie dankbaar wees dat Jehovah Satan binnekort sal opsluit en hom sal verhinder om mense te beïnvloed. Uiteindelik sal God Satan heeltemal vernietig. Daardie wrede monster sal mense nooit weer kan beïnvloed om korrup te wees nie.

Toegegee, die gedagte dat God alle oorsake van korrupsie uit die weg sal ruim, klink dalk soos blote wensdenkery. Jy wonder dalk: ‘Het God werklik die middele om so ’n verandering teweeg te bring? Indien wel, waarom het hy dit nie reeds gedoen nie?’ Dit is goeie vrae, en die Bybel voorsien bevredigende antwoorde daarop. * Ons nooi jou om self ondersoek in te stel na wat die Bybel oor die nabye toekoms leer, wanneer alle korrupsie vir ewig iets van die verlede sal wees.

^ par. 8 Vir meer inligting oor die loskoopwaarde van Jesus se dood, sien hoofstuk 5 van die boek Wat leer die Bybel werklik?, uitgegee deur Jehovah se Getuies.

^ par. 12 Jehovah is God se naam soos dit in die Bybel geopenbaar word.