Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

KOM NADER AAN GOD

‘U het dit aan klein kindertjies geopenbaar’

‘U het dit aan klein kindertjies geopenbaar’

Wil jy graag weet wat die waarheid omtrent God is—wie hy is, wat hy voorstaan en wat sy wil is? In sy Woord, die Bybel, openbaar Jehovah God die waarheid omtrent homself. Maar nie net enigiemand kan die Bybel lees en hierdie waarheid ten volle begryp nie. Waarom nie? Want om hierdie geestelike waarheid te verstaan, is ’n voorreg; en nie almal ontvang dit nie. Kom ons kyk wat Jesus hieroor gesê het.—Lees Matteus 11:25.

Hierdie vers begin met die woorde: “Hierop het Jesus in dié tyd gesê.” Wat Jesus dus daarna sê, sê hy moontlik in reaksie op iets wat kort tevore gebeur het. Hy het so pas die onontvanklike inwoners bestraf van drie Galilese stede waar hy kragtige werke verrig het (Matteus 11:20-24). Jy wonder dalk: ‘Hoe kon enigeen Jesus se wonderdadige werke sien en nie gunstig reageer op die waarhede wat hy verkondig het nie?’ Die onontvanklike gesindheid van die mense het verband gehou met die onversetlikheid van hulle hart.—Matteus 13:10-15.

Jesus het geweet dat ons twee dinge nodig het om die geestelike waarheid in die Bybel te ontsluit: God se hulp en die regte hartstoestand. Jesus verduidelik: “Ek loof u in die openbaar, Vader, Here van hemel en aarde, omdat u hierdie dinge vir die wyse en intellektuele mense verberg het en dit aan klein kindertjies geopenbaar het.” Kan jy sien waarom net party die voorreg het om die geestelike waarheid in die Bybel te verstaan? Jehovah, die “Here van hemel en aarde”, kan die waarheid in ooreenstemming met sy soewereine wil verberg of openbaar. Maar God is nie partydig in dié verband nie. Op grond waarvan openbaar hy Bybelwaarheid aan sekere mense en nie aan ander nie?

Jehovah begunstig die nederiges, nie die hoogmoediges nie (Jakobus 4:6). Hy verberg die waarheid vir “wyse en intellektuele mense”—wêreldwyse en geleerde mense wat weens hulle trots en selfversekerdheid meen dat hulle glad nie sy hulp nodig het nie (1 Korintiërs 1:19-21). Maar hy openbaar die waarheid aan “klein kindertjies”—diegene wat hom met opregtheid van hart en met kinderlike nederigheid nader (Matteus 18:1-4; 1 Korintiërs 1:26-28). God se Seun, Jesus, het self gesien dat mense hierdie gesindhede openbaar. Talle trotse, hooggeleerde godsdiensleiers het nie die sin van Jesus se boodskap begryp nie, maar nederige vissermanne het wel (Matteus 4:18-22; 23:1-5; Handelinge 4:13). Terselfdertyd het party welgestelde en geleerde mense wat opregte nederigheid geopenbaar het, Jesus se volgelinge geword.—Lukas 19:1, 2, 8; Handelinge 22:1-3.

Kom ons keer nou terug na die vraag wat aan die begin gestel is: Wil jy weet wat die waarheid omtrent God is? Indien wel, sal jy moontlik vertroosting put uit die wete dat God nie diegene begunstig wat hulleself as wêreldwys beskou nie. Inteendeel, hy betoon guns aan diegene op wie wêreldwyse persone dalk neersien. As jy God se Woord met die regte geestesgesindheid en hartstoestand bestudeer, kan jy onder diegene tel aan wie Jehovah ’n kosbare gawe gee—’n begrip van die waarheid omtrent hom. As jy hierdie waarheid begryp, sal dit jou lewe nou reeds betekenisvol maak en kan dit lei tot “die werklike lewe”—die ewige lewe in God se beloofde nuwe wêreld van regverdigheid wat op hande is. *1 Timoteus 6:12, 19; 2 Petrus 3:13.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir Januarie

Matteus 1-21

^ par. 5 Jehovah se Getuies sal jou met graagte help om die waarheid omtrent God en sy voornemens te leer. Hulle bied gratis tuisbybelstudies aan, waartydens hulle die boek Wat leer die Bybel werklik? gebruik.