Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Hulle het die Bybel gebruik om al my vrae te beantwoord!

Hulle het die Bybel gebruik om al my vrae te beantwoord!
  • GEBORE: 1950

  • GEBOORTELAND: SPANJE

  • GESKIEDENIS: KATOLIEKE NON

MY VERLEDE:

Toe ek gebore is, het my ouers ’n plasie gehad in ’n plattelandse dorp in Galicië, in die noordweste van Spanje. Ek is die vierde van agt kinders. Daar was ’n hartlike atmosfeer in ons huis. Destyds was dit algemeen in Spanje dat ten minste een van die kinders in ’n gesin na ’n kweekskool of ’n klooster gaan. In ons gesin het drie van ons dit gedoen.

Toe ek 13 was, het ek na ’n klooster in Madrid gegaan, waar my suster reeds was. ’n Onpersoonlike atmosfeer het in die klooster geheers. Vriendskappe het nie bestaan nie—slegs reëls, gebed en strenge eenvoud. Soggens vroeg het ons in die kapel bymekaargekom om te peins, maar ek het dikwels niks gehad om oor te peins nie. Later het ons godsdiensliedere gesing en die mis gehou, alles in Latyn. Ek het feitlik niks verstaan nie, en dit het gevoel asof God ver van my af is. My dae in die klooster het in strenge stilte verbygegaan. Selfs wanneer ek en my suster mekaar raakgeloop het, mag ons net “Wees gegroet, reinste Maria” gesê het. Die nonne het ons toegelaat om ná etes net ’n halfuur lank te gesels. Hoe het dit tog van ons gelukkige gesinslewe by die huis verskil! Ek het afgesonderd gevoel en het dikwels gehuil.

Hoewel ek nooit na aan God gevoel het nie, het ek op 17-jarige ouderdom die kloostergelofte afgelê en ’n non geword. Ek het in werklikheid net gedoen wat van my verwag is, maar ek het kort daarna begin twyfel of ek wel ’n geestelike roeping het. Die nonne het altyd gesê dat iemand wat hieroor twyfel, in die helse vuur sou beland! Maar ek kon nie anders as om te twyfel nie. Ek het geweet dat Jesus Christus hom nie afgesonder het nie; hy het eerder besig gebly om ander te onderrig en te help (Matteus 4:23-25). Teen die tyd dat ek 20 was, kon ek aan geen rede dink om ’n non te bly nie. Tot my verbasing het die kloostermoeder vir my gesê dat ek so gou moontlik moet weggaan as ek nie seker is of ek langer ’n non wil wees nie. Ek vermoed dat sy bang was dat ek ander dalk sou beïnvloed. Daarom het ek die klooster verlaat.

 Nadat ek teruggekeer het huis toe, was my ouers baie simpatiek. Maar omdat daar geen werk in ons dorp was nie, het ek na Duitsland verhuis, waar een van my broers gewoon het. Hy het aan ’n aktiewe kommunistiese groep van uitgeweke Spanjaarde behoort. Ek was op my gemak tussen hierdie mense, wat geveg het vir werkersregte en gelykheid vir vroue. Gevolglik het ek ’n Kommunis geword en later met ’n lid van die groep getrou. Ek het gedink dat ek iets nuttigs doen deur kommunistiese lektuur uit te gee en aan protesoptogte deel te neem.

Ná verloop van tyd het ek egter weer mismoedig geraak. Dit het vir my gelyk of Kommuniste se woorde dikwels nie met hulle dade strook nie. Hierdie bedenkinge is versterk toe ’n paar jong lede van ons groep in 1971 die Spaanse konsulaat in Frankfurt afgebrand het. Hulle het dit gedoen uit protes teen die ongeregtigheid in diktatoriale Spanje. Maar ek het gedink dat dit verkeerd van hulle was om hulle verontwaardiging op hierdie manier te toon.

Toe my eerste kind gebore is, het ek vir my man gesê dat ek nie langer kommunistiese vergaderinge sou bywoon nie. Ek was baie eensaam omdat nie een van my vorige vriende vir my en my baba kom kuier het nie. Ek het oor die doel van die lewe gewonder. Was dit werklik die moeite werd om die samelewing te probeer verbeter?

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

In 1976 het twee Spaanse Getuies aan ons deur geklop en vir my Bybellektuur aangebied, wat ek aanvaar het. Tydens hulle tweede besoek het ek hulle met vrae begin bestook oor lyding, ongelykheid en ongeregtigheid. Tot my verbasing het hulle die Bybel gebruik om al my vrae te beantwoord! Ek het ’n Bybelstudie geredelik aanvaar.

Aanvanklik was my belangstelling net van ’n intellektuele aard. Maar dinge het verander toe ek en my man vergaderinge by die Koninkryksaal van Jehovah se Getuies begin bywoon het. Teen daardie tyd het ons twee kinders gehad. Die Getuies was so gaaf om ons op te laai en ons gedurende die vergaderinge te help om na ons kinders om te sien. Ek het lief geword vir die Getuies.

Maar ek het nog steeds twyfelgedagtes oor godsdiens gehad. Ek het besluit om vir my familie in Spanje te gaan kuier. My oom, ’n priester, het my probeer afraai om die Bybel te bestudeer. Maar die plaaslike Getuies het my baie gehelp. Hulle het, soos die Getuies in Duitsland, die Bybel gebruik om my vrae te beantwoord. Ek het my voorgeneem om my Bybelstudie te hervat wanneer ek terug is in Duitsland. Hoewel my man besluit het om nie meer die Bybel te bestudeer nie, het ek by my besluit gebly. In 1978 is ek as een van Jehovah se Getuies gedoop.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Juiste kennis van Bybelwaarheid het my ’n doel in die lewe gegee en my van leiding voorsien. In 1 Petrus 3:1-4 word vrouens byvoorbeeld aangespoor om “onderdanig [te] wees” aan hulle mans “met diep respek” en om ’n “sagmoedige gees [aan te kweek], wat in die oë van God van groot waarde is”. Sulke beginsels het my gehelp om my rol as vrou en moeder te vervul.

Sowat 35 jaar het al verloop sedert ek ’n Getuie geword het. Ek is bly om God te dien as deel van ’n ware geestelike gesin, en ek is verheug dat vier van my vyf kinders hom saam met my dien.