Spring na inhoud

VERDUIDELIKINGS VAN BYBELVERSE

Genesis 1:26 – “Laat Ons mense maak na ons beeld”

Genesis 1:26 – “Laat Ons mense maak na ons beeld”

 “Toe het God gesê: ‘Laat ons mense maak na ons beeld, wat soos ons sal wees. En laat hulle gesag hê oor die visse van die see en die vlieënde diere van die hemel en die mak diere en die hele aarde en al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.’” – Genesis 1:26, Nuwe Wêreld-vertaling.

 “En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.” – Genesis 1:26, Ou Afrikaanse Bybelvertaling (1953).

Betekenis van Genesis 1:26

 Mense is na God se beeld geskep met die vermoë om eienskappe soos God s’n, te ontwikkel en te wys. Dit sluit eienskappe in soos liefde, simpatie en geregtigheid. Dit is hoekom mense God se persoonlikheid kan navolg.

 “Toe het God gesê: ‘Laat ons mense maak na ons beeld.’” Voordat Jehovah God a enige iemand of enige iets anders gemaak het, het hy eers ’n magtige engel geskep wat later Jesus genoem was. Deur middel van Jesus “is alle ander dinge in die hemel en op die aarde geskep” (Kolossense 1:16). Jesus se persoonlikheid is soos Jehovah se persoonlikheid – “hy is die beeld van die onsigbare God” (Kolossense 1:15). Daarom kon God vir Jesus sê: “Laat ons mense maak na ons beeld.”

 “Laat hulle gesag hê oor . . . die mak diere en die hele aarde.” Diere is nie na God se beeld geskep nie. Hulle was nie ontwerp om eienskappe te hê wat kenmerkend van mense is nie. Dit sluit eienskappe in soos liefde of om ’n gewete te hê. Maar God gee om vir diere. Dit is hoekom hy gesê het dat mense ‘gesag moet hê’ oor die diere. Dit kan ook vertaal word as “heers oor” (OAB; Nuwe Lewende Vertaling). So Jehovah het mense die verantwoordelikheid gegee om vir die diere te sorg (Psalm 8:6-8; Spreuke 12:10). Jehovah verwag dat die mens mooi moet kyk na die aarde en alles wat daarop lewe.

Konteks van Genesis 1:26

 Die eerste twee hoofstukke van Genesis beskryf die skepping van die heelal, ons planeet en lewe op aarde. Alles wat Jehovah geskep het, is ongelooflik, maar die mens is sy uitsonderlikste aardse skepping. Toe God klaar was met sy skeppingswerke, “het God alles gesien wat hy gemaak het, en dit was baie goed”. – Genesis 1:31.

 Kyk na hierdie kort video om meer uit te vind oor die Genesisverslag van die skepping.

Verkeerde idees oor Genesis 1:26

 Verkeerde idee: Net mans – en nie vrouens nie – het die vermoë om God se eienskappe na te volg of te weerspieël.

 Feit: Die woord “man” wat in baie Engelse Bybelvertalings voorkom, kan ’n leser laat dink dat daar net na mans verwys word. Maar in hierdie konteks verwys die oorspronklike Hebreeuse woord na alle mense, mans sowel as vrouens. Mans sowel as vrouens kan God eienskappe weerspieël. Hulle albei het dieselfde geleentheid om sy goedkeuring en die gawe van ewige lewe te kry. – Johannes 3:16.

 Verkeerde idee: God het ’n liggaam soos ons s’n.

 Feit: “God is ’n Gees” – dit wil sê hy lewe nie in die fisiese heelal nie (Johannes 4:24). Alhoewel die Bybel soms na sy gesig, hande, hart, ensovoorts verwys, is dit beskrywings wat ons meer oor God leer op ’n manier wat mense maklik kan verstaan. – Eksodus 15:6; 1 Petrus 3:12.

 Verkeerde idee: Genesis 1:26 bewys dat Jesus God is.

 Feit: God en Jesus het ’n hegte vader-en-seun-verhouding, maar hulle is nie dieselfde persoon nie. Jesus het ander geleer dat God hoër as hy is (Johannes 14:28). Vir meer inligting, kyk na die video Is Jesus Christus God?, of lees die artikel “Hoekom word Jesus die Seun van God genoem?

 Kyk na hierdie kort video om ’n oorsig van die boek Genesis te kry.

a Jehovah is die persoonlike naam van God (Psalm 83:18). Sien die artikel “Wie is Jehovah?