Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN

Hoe om jou kind te help om beter op skool te doen

Hoe om jou kind te help om beter op skool te doen

 Dit lyk nie asof jou kind in skool belangstel nie. Hy wil nie leer nie en doen ook nie sy huiswerk nie. Wat gebeur dan? Sy punte word swakker en sy houding word erger. Hoe kan jy jou kind help om beter op skool te doen?

 Wat jy moet weet

 Druk maak die probleem erger. Wanneer jy druk op jou kind sit, dan veroorsaak dit dat hy by die skool en by die huis stres het! Om sy stres te verminder, kan hy dalk lieg, sy swak punte wegsteek, jou handtekening op sy rapport namaak of nie skool toe gaan nie. Die probleem sal net erger word.

 Belonings kan die verkeerde uitwerking hê. “Om ons dogter te motiveer, het ons probeer om haar te beloon vir haar goeie punte, maar dit het net veroorsaak dat sy op die beloning fokus”, sê ’n pa met die naam Andrew. Hy sê verder: “Wanneer sy swak punte gekry het, was sy meer teleurgesteld omdat sy nie die beloning gekry het nie as oor die swak punte wat sy gekry het.”

 Om die onderwysers te blameer, gaan nie jou kind help nie. Jou kind kan dink dat dit nie nodig is om hard te werk om goed te doen nie. Hy leer dalk ook om ander vir sy foute te blameer en om te verwag dat ander sy probleme moet oplos. Die punt is, jou kind leer dalk nie ’n belangrike eienskap wat nodig is vir wanneer hy ’n volwassene is nie — om verantwoordelikheid vir sy dade te aanvaar.

 Wat jy kan doen

 Hou jou gevoelens onder beheer. As jy kwaad is, kies ’n ander tyd om met jou kind oor sy punte te praat. “Ek en my vrou het die beste uit ons kind gekry wanneer ons kalm was en meegevoel gehad het”, sê ’n pa met die naam Brett.

 Bybelwaarheid: “Elke mens moet gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig om toornig te word.” — Jakobus 1:19.

 Vind uit wat die eintlike probleem is. Algemene redes vir swak punte is: wanneer kinders geboelie word, wanneer hulle na ’n ander skool moet gaan, wanneer hulle baie gestres is voor of gedurende ’n eksamen, wanneer daar gesinsprobleme is, wanneer kinders te min slaap, wanneer hulle nie ’n rooster het nie of wanneer hulle nie kan konsentreer nie. Moenie aanneem dat jou kind net lui is nie.

 Bybelwaarheid: “Hy wat insig in ’n saak toon, sal die goeie vind.” — Spreuke 16:20.

 Skep ’n atmosfeer wat kinders help om te leer. Maak ’n rooster vir skoolwerk. Maak seker dat jou kind sy huiswerk op ’n plek doen waar sy aandag nie afgetrek kan word nie (dit sluit televisie en selfone in). Deel huiswerk op in korter sessies wat jou kind sal help om te konsentreer. Hector, ’n pa van Duitsland, sê: “Wanneer my kind ’n toets gaan skryf, hersien ons ’n bietjie elke dag in plaas daarvan om tot die laaste minuut te wag.”

 Bybelwaarheid: “Vir alles is daar ’n vasgestelde tyd.” — Prediker 3:1.

 Help jou kind om te sien hoekom hy moet leer. As jou kind verstaan hoe skool hom nou sal help, sal dit hom motiveer om meer te doen. Byvoorbeeld, wiskunde kan hom help om goed met sy sakgeld te werk.

 Bybelwaarheid: “Verwerf wysheid, verwerf begrip. . . . Ag dit hoog.” — Spreuke 4:5, 8.

 Wenk: Help jou kind met sy skoolwerk, maar moet dit nie vir hom doen nie. Andrew erken: “Ons dogter het op ons brein staatgemaak en het nie haar eie brein gebruik nie.” Leer jou kind hoe om sy skoolwerk op sy eie te doen.