Spring na inhoud

HULP VIR DIE GESIN

Hoe om liefde aan jou maat te betoon

Hoe om liefde aan jou maat te betoon

 Met verloop van tyd begin party getroude paartjies al hoe minder vir mekaar wys dat hulle mekaar liefhet. Moet jy bekommerd wees as dit besig is om in jou huwelik te gebeur?

 Wat jy moet weet

 Om liefde te betoon is noodsaaklik vir ’n sterk huwelik. Net soos gereelde kos en water noodsaaklik is om ’n mens se liggaam gesond en sterk te hou, versterk dit ’n huwelik wanneer huweliksmaats gereeld wys dat hulle vir mekaar lief is. In ’n huwelik het mans en vrouens gereeld die versekering nodig dat hulle maat hulle nog liefhet en vir hulle omgee, selfs al is hulle al dekades lank getroud.

 Ware liefde is onselfsugtig. Dit soek die geluk van die ander persoon. Liefdevolle huweliksmaats sal dus nie net hulle liefde vir mekaar wys wanneer hulle skielik lus voel om dit te doen nie; hulle sal eerder opmerk wanneer hulle huweliksmaats liefde nodig het en probeer om in daardie behoefte te voorsien.

 Oor die algemeen het vrouens ’n groter behoefte aan liefde as hulle mans. ’n Man is dalk baie lief vir sy vrou. Maar as hy haar net liefdevol behandel aan die begin of einde van ’n dag of net voordat hulle seksuele omgang het, sal sy vrou dalk wonder of hy regtig vir haar omgee. Dit is baie beter om jou maat deur die loop van die dag liefdevol te behandel.

 Wat jy kan doen

 Wys jou liefde met woorde. Eenvoudige uitdrukkings soos “Ek is lief vir jou” of “Jy is so kosbaar vir my” kan jou maat geliefd laat voel.

 Bybelwaarheid: “Uit die oorvloed van die hart spreek die mond.” – Matteus 12:34.

 Wenk: Jy hoef nie net vir jou maat te dat jy vir hom of haar lief is nie. Skryf dit neer – in briefies, e-posse of teksboodskappe.

 Wys jou liefde met dade. ’n Drukkie, ’n soentjie of om net hande vas te hou, kan wys dat jy dit regtig bedoel wanneer jy sê “Ek is lief vir jou”. Jy kan ook jou opregte liefde vir jou maat wys deur saggies aan hom of haar te raak, liefdevol na hom of haar te kyk of deur nou en dan vir hom of haar ’n geskenkie te gee. En ’n man kan ook sy vrou help deur dinge vir haar te doen – die sakke te dra, ’n deur oop te maak, die skottelgoed of die wasgoed te was of ’n maaltyd voor te berei. Vir baie is hierdie dinge meer as net praktiese hulp – dit is liefde in aksie!

 Bybelwaarheid: “Laat ons liefhê, nie [net] met woorde of met die tong nie, maar met dade en in waarheid.” – 1 Johannes 3:18.

 Wenk: Behandel jou maat net so liefdevol as toe julle nog uitgegaan het.

 Maak tyd vir mekaar. Wanneer julle alleen tyd saam deurbring, versterk dit julle huwelik en verseker dit jou maat dat jy sy of haar geselskap geniet. Dit is natuurlik moeilik om tyd te vind om alleen te wees as julle kinders het of as daar baie dinge is wat julle elke dag moet bespreek. Dalk kan julle beplan om iets eenvoudigs te doen soos om gereeld te gaan stap – net julle twee.

 Bybelwaarheid: ‘Maak seker van die belangriker dinge.’ – Filippense 1:10.

 Wenk: Party getroude paartjies wat baie besig is, maak gereeld tyd om ’n aand of ’n naweek alleen saam te wees.

 Ken jou maat. Ons almal is uniek en het verskillende behoeftes. Praat saam oor hoe elkeen van julle wil hê die ander een sy of haar liefde moet wys en of die ander persoon meer moet doen. En doen dan moeite om in jou maat se behoefte te voorsien. Onthou, om jou liefde vir jou maat te wys, is noodsaaklik vir ’n sterk huwelik.

 Bybelwaarheid: “Die liefde ... soek nie sy eie belang nie.” – 1 Korintiërs 13:4, 5.

 Wenk: Moenie daarop aandring dat jou maat sy of haar liefde vir jou wys nie; vra jou eerder af: ‘Wat kan ek doen sodat my maat liefdevoller teenoor my sal optree?’