Spring na inhoud

Wat sê die Bybel oor die versorging van bejaarde ouers?

Wat sê die Bybel oor die versorging van bejaarde ouers?

Die Bybel se antwoord

 Volwasse kinders het die belangrike verantwoordelikheid om seker te maak dat daar vir hulle bejaarde ouers gesorg word. Die Bybel sê dat volwasse kinders “hulle godsdiens moet uitoefen deur vir hulle eie familie te sorg en so hulle ouers te vergoed . . . , want dit maak God bly” (1 Timoteus 5:4, New International Version). Wanneer hulle dit doen, is hulle ook gehoorsaam aan die Bybel wat sê dat hulle hulle ouers moet eer. – Efesiërs 6:2, 3.

 Die Bybel gee nie spesifieke instruksies oor hoe om vir bejaarde ouers te sorg nie. Maar daar is voorbeelde in die Bybel van mans en vrouens wat dit gedoen het. Dit gee ook praktiese raad vir mense wat bejaardes moet versorg.

 Hoe het party familielede bejaarde ouers in Bybeltye versorg?

 Hulle het dit op verskillende maniere gedoen afhangende van die omstandighede.

  •   Josef het ver weg van sy bejaarde pa, Jakob, gebly. Toe Josef kon, het hy gereël dat Jakob nader aan hom moes trek. Josef het toe blyplek, kos en beskerming vir sy pa gegee. – Genesis 45:9-11; 47:11, 12.

  •   Rut het na haar skoonma se land toe getrek en het hard gewerk om vir haar te sorg. – Rut 1:16; 2:2, 17, 18, 23.

  •   Jesus het kort voor sy dood iemand gekies om vir sy ma, Maria, te sorg, wat heel moontlik ’n weduwee was. – Johannes 19:26, 27. a

 Watter praktiese raad gee die Bybel vir mense wat bejaardes moet versorg?

 Die Bybel bevat waarhede wat mense kan help om vir hulle bejaarde ouers te sorg omdat dit soms ’n uitdaging is wat fisies en emosioneel uitputtend is.

  •   Eer jou ouers.

     Wat die Bybel sê: “Eer jou vader en jou moeder.” – Eksodus 20:12.

     Hoe kan hierdie Bybelwaarheid toegepas word?: Wys dat jy jou ouers eer deur toe te laat dat hulle soveel beheer oor hulle eie lewe behou as wat moontlik is. Laat hulle sover moontlik hulle eie besluite maak oor hoe hulle versorg wil word. Maar wys ook dat jy hulle eer deur hulle te help sover as wat jy kan.

  •   Vergewe en probeer hulle verstaan.

     Wat die Bybel sê: “Die insig van ’n mens vertraag beslis sy toorn, en dit is mooi van hom om die oortreding oor te sien.” – Spreuke 19:11.

     Hoe kan hierdie Bybelwaarheid toegepas word?: As ’n bejaarde ouer iets leliks sê of as dit lyk asof hulle nie jou hulp waardeer nie, vra jou af: ‘Hoe sou ek voel as ek dieselfde beperkings en frustrasies gehad het?’ Wanneer jy vergewe en probeer om hulle te verstaan, sal dit jou help om ’n slegte situasie nie erger te maak nie.

  •   Vra ander vir raad.

     Wat die Bybel sê: “Planne misluk waar daar geen vertroulike gesprekke is nie, maar in die veelheid van raadgewers kom iets tot stand.” – Spreuke 15:22.

     Hoe kan hierdie Bybelwaarheid toegepas word? Doen navorsing oor hoe om die gesondheidsprobleme wat jou ouers dalk het, te hanteer. Vind uit watter hulp in jou gemeenskap vir hulle beskikbaar is. Praat met ander wat al vir hulle eie bejaarde ouers gesorg het. As jy broers en susters het, dink daaraan om ’n familievergadering te hou en bespreek dan wat julle ouers se behoeftes is, hoe om vir hulle te sorg en hoe om saam te werk om die las te dra.

    Dink daaraan om ’n familievergadering te hou en bespreek dan hoe om vir julle bejaarde ouers te sorg

  •   Weet wat jou beperkings is.

     Wat die Bybel sê: “Wysheid is by die beskeidenes.” – Spreuke 11:2.

     Hoe kan hierdie Bybelwaarheid toegepas word? Erken jou beperkings. Byvoorbeeld, almal het ’n sekere hoeveelheid tyd en energie. Hierdie beperkings kan ’n uitwerking hê op hoeveel jy eintlik vir jou ouers kan doen. As jy oorweldig voel omdat jy vir jou bejaarde ouers sorg, dink daaraan om hulp te vra by familielede of kry ander hulp.

  •   Moenie jouself afskeep nie.

     Wat die Bybel sê: “Geen mens het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar hy voed en koester dit.” – Efesiërs 5:29.

     Hoe kan hierdie Bybelwaarheid toegepas word? Al is dit jou verantwoordelikheid om vir jou ouers te sorg, moet jy ook na jouself en na jou eie gesin kyk as jy getroud is. Jy moet sorg dat jy gesond eet. Jy moet genoeg slaap (Prediker 4:6). Jy moet rus wanneer jy kan. Wanneer jy dit doen, sal jy nie so gou emosioneel, verstandelik en fisies moeg word nie. Dan sal jy beter vir jou ouers kan sorg.

 Sê die Bybel dat mense hulle bejaarde ouers by die huis moet versorg?

 Die Bybel sê nie spesifiek dat volwasse kinders hulle bejaarde ouers by die huis moet versorg nie. Party families verkies om so lank as wat hulle kan, hulle bejaarde ouers by die huis te versorg. Maar daar kom dalk ’n stadium wanneer hulle voel dat dit beter is om hulle ouers in ’n ouetehuis te sit. Die familie moet dalk bymekaarkom om te besluit wat die beste is vir almal wat betrokke is. – Galasiërs 6:4, 5.

a ’n Bybelkommentator het oor hierdie verslag gesê: “Josef [Maria se man] was moontlik lankal dood, en haar seun Jesus het vir haar gesorg. Maar wat sou van haar word nou dat hy op die punt gestaan het om te sterf? . . . Christus het hier vir kinders geleer om in die behoeftes van hulle bejaarde ouers te voorsien.” – The NIV Matthew Henry Commentary in One Volume, bladsy 428-429.