Spring na inhoud

IS DIT ONTWERP?

Die remora se suier

Die remora se suier

 Die remora, ’n soort suigvis, kan homself stewig vasheg aan ander seediere en homself dan weer maklik losmaak sonder enige skade aan hierdie seediere. Hierdie vermoë fassineer wetenskaplikes.

 Dink hieraan: Die remora heg homself aan rôe, haaie, skilpaaie, walvisse en ander seediere, maak nie saak wat die tekstuur van hulle vel of dop is nie. Die remora eet parasiete en kos wat uit die mond geval het van die seedier waaraan hy vasgeheg is. Terselfdertyd word die remora sonder enige moeite vervoer en teen roofvisse beskerm. Wetenskaplikes studeer die remora se suier, of plat skyf wat vassuig, om te sien hoe die vis homself saggies maar ferm aan ’n verskeidenheid oppervlaktes kan vasheg.

 Remoras by ’n walvishaai

 Die remora het ’n ovaalvormige plat skyf op die agterkant van sy kop wat kan vassuig. Die buiterand van die plat skyf is dik en sag sodat dit ’n digte seël kan vorm wat stewig kan vassuig. Op die skyf is daar rye gleufies met klein, harde tande. Wanneer die gleufies regop staan, kom die tande in kontak met die vel van die seedier waaraan dit vasgeheg is, wat wrywing veroorsaak. Hierdie kombinasie van suigkrag en wrywing maak dat die remora stewig vassit, maak nie saak hoe vinnig die seedier swem of hoe skielik hy van rigting verander nie.

 Wetenskaplikes is so beïndruk deur die remora se suier dat hulle ’n kunsmatige, ovaalvormige suier ontwerp het wat aan verskillende oppervlaktes geheg kan word. Toe die navorsers dit probeer aftrek het, het die suier vasgekleef teen ’n krag wat gelykstaande is aan honderd keer die gewig van die suier!

 Tegnologie wat op die remora se suier gebaseer is, kan op baie maniere toegepas word. Dit sluit in om navorsingsmerkers te gebruik wat dit moontlik maak om seediere te volg, om navorsing te doen oor die diepsee en om ligte en toerusting aan die oppervlaktes van brûe of skepe wat onderwater is, te heg.

 Wat dink jy? Het die remora se suier deur evolusie ontstaan? Of is dit ontwerp?