Spring na inhoud

Verslag oor die jaarvergadering van 2014

Honderd jaar van Koninkryksheerskappy!

Verslag oor die jaarvergadering van 2014

Op 4 Oktober 2014 het ’n gehoor van sowat 19 000 vir die 130ste jaarvergadering van die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap van Pennsilvanië bymekaargekom. Die program is gehou by die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in die stad Jersey, New Jersey, VSA, en ’n aantal ander plekke is via videoverbinding daarvoor ingeskakel.

Mark Sanderson, ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies, het as die voorsitter van die vergadering gedien. In sy openingswoorde het broer Sanderson beklemtoon dat vanjaar se vergadering geskiedkundig is omdat dit die 100ste jaar van die heerskappy van die Messiaanse Koninkryk herdenk.

Broer Sanderson het drie betekenisvolle dinge bespreek wat die Koninkryk gedurende sy eerste 100 jaar verrig het:

  • ’n Wêreldwye predikingswerk. Danksy Jehovah se seën kon sy volk onvermoeid werk om die goeie nuus van die Koninkryk te versprei. Ons getalle het toegeneem van net ’n paar duisend verkondigers in 1914 tot meer as agtmiljoen gedurende die 2014-diensjaar. Ons sal voortgaan om ywerig te preek totdat Jehovah sê die werk is klaar.

  • Beskerming vir die Koninkryk se onderdane as ’n groep. Politieke en godsdiensowerhede het ons hewig teëgestaan en Jehovah se Getuies selfs probeer uitwis. Maar Jehovah het sy aanbidders as ’n groep beskerm. Tallose regsoorwinnings, insluitende dié in die Verenigde State se Hooggeregshof en die Europese Hof van Menseregte, is ’n bewys dat Jehovah vandag nog oor ons waak.

  • Eenheid onder mense van alle agtergronde. God se Koninkryk het mense van verskillende agtergronde, nasionaliteite en tale verenig en hulle ’n verskeidenheid uitdagings help oorkom sodat hulle ’n verenigde groep aanbidders kan uitmaak. “Dit is ’n wonderwerk wat net Jehovah God kan verrig”, het broer Sanderson gesê. Hy het weer gesê dat almal teenwoordig dit as ’n groot voorreg beskou om hierdie geskiedkundige jaarvergadering by te woon.

Die reeks “Word Jehovah se vriend”.

Hierdie videoreeks vir kinders, wat ons al die afgelope twee jaar geniet, was die volgende onderwerp op die program. Broer Sanderson het eers ’n video ingelei wat onderhoude met kinders regoor die wêreld bevat. Die gehoor is geraak deur die kinders opregte waardering vir wat hulle uit hierdie video’s leer.

’n Nuwe video in hierdie reeks is toe vertoon. Dit het die titel: “Jehovah sal jou help om moedig te wees.” Hierdie 12 minuut lange video laat die Bybelverslag van die Israelitiese meisietjie wat Naäman se vrou moedig van Jehovah vertel het, lewe (2 Konings 5:1-14). Die video is op Maandag 6 Oktober 2014 op jw.org gesit en is in meer as 20 tale beskikbaar.

JW Language.

Broer Sanderson het die vrystelling van hierdie nuwe toepassing vir digitale toestelle aangekondig, wat Getuies van Jehovah wat ’n ander taal wil leer, sal help om hulle bediening uit te brei. Die toepassing bevat meer as 4 000 woorde en frases in 18 tale. Reëlings word getref om nog woorde en frases, aanbiedings vir velddiens en ander kenmerke by te voeg.

JW Broadcasting.

Die gehoor was baie opgewonde om te hoor dat Jehovah se Getuies nou ’n TV-stasie op die Internet het, wat vir ’n proeftydperk slegs in Engels beskikbaar gestel is. Hierdie stasie sal ons video’s, musiek en gedramatiseerde Bybelvoorlesings vanaf ons hoofkwartier in Brooklyn, New York, VSA, uitsaai. Daarbenewens sal ’n maandelikse program deur ’n lid van die Bestuursliggaam of ’n helper van een van sy komitees aangebied word.

Broer Sanderson het ’n voorskou van een van hierdie programme ingelei. Die program, waarvoor Stephen Lett van die Bestuursliggaam as voorsitter gedien het, het die gehoor agter die skerms geneem om te sien wat alles by die voorbereiding van die nuwe TV-stasie betrokke was. JW Broadcasting was vanaf 6 Oktober 2014 beskikbaar by tv.dan124.com.

“Die Koninkryk—100 jaar en meer.”

’n Video met Samuel Herd van die Bestuursliggaam as verteller het getoon hoe God se Koninkryk ons progressief gehelp het om te vorder en ons predikingsvaardighede te verbeter. Die video het ou videogrepe, demonstrasies en onderhoude met getroue Getuies bevat oor inisiatiewe soos die vervaardiging en wydverspreide vertoning van die “Fotodrama van die skepping”, die gebruik van die grammofoon, getuieniskaarte, inligtingsoptogte en klankmotors asook die voorsiening van skole om ons vir die bediening op te lei.

Hoe strek dit ons tot voordeel as ons peins oor wat die Koninkryk gedurende sy eerste 100 jaar verrig het? Dit maak die Koninkryk vir ons ’n werklikheid en skep by ons afwagting vir wat dit in die toekoms tot stand sal bring.

Liedere vir aanbidding.

Almal teenwoordig was baie opgewonde toe David Splane van die Bestuursliggaam aangekondig het dat ons liedereboek, Sing vir Jehovah, hersien sal word. Dit sal met dieselfde omslagmateriaal en silwer rand as die Nuwe Wêreld-vertaling vervaardig word. Die gebruik van hierdie duursame materiaal is ’n weerspieëling van die waardige rol wat musiek in ons aanbidding speel.

Broer Splane het ook aangekondig dat nog ’n paar liedere by die liedereboek gevoeg sal word. Maar ons hoef nie vir die hersiene liedereboek te wag voordat ons die nuwe liedere kan begin sing nie. Dit sal op jw.org vrygestel word sodra dit beskikbaar is.

Drie van die nuwe liedere, wat die Bethelgesin ’n week vroeër begin oefen het, is by die jaarvergadering gesing. Broer Splane het ’n koor gedirigeer wat die nuwe lied “Die Koninkryk regeer—Laat dit kom!” gesing het. Hierdie lied is spesiaal vir die 100ste herdenking van die geboorte van die Koninkryk geskryf. Nadat die koor die lied gesing het, het die res van die gehoor dit saam met hulle gesing. Later het die koor en die gehoor nog ’n nuwe lied gesing met die titel: “Gee ons vrymoedigheid, Heer.

Onderhoud.

Gerrit Lösch van die Bestuursliggaam was die voorsitter in ’n opname van ’n onderhoud met drie egpare wat al dekades lank in Bethel dien. Hulle het vertel van ’n aantal veranderinge wat hulle deur die jare heen gesien het, wat bevestig dat God se volk voortdurend vooruitgang maak. Gerrit Lösch het gesê dat die Bybel organisatoriese verbeteringe voorspel het, en hy het almal aangespoor om altyd saam met Jehovah se organisasie vorentoe te beweeg.—Jesaja 60:17.

“Tipes en antitipes.”

Broer Splane het hierdie toespraak gehou, wat verduidelik het waarom ons publikasies in onlangse jare nie so dikwels tipes en antitipes bespreek het soos vroeër nie.

In die verlede is daar gesê dat talle getroue manne en vroue wat in die Bybel gemeld word, groepe getroue Christene in ons tyd afbeeld. Net so, is daar gemeen dat ’n aantal Bybelverslae profeties is van gebeure wat met God se hedendaagse knegte verband hou. Dit kan weliswaar fassinerend wees om sulke vergelykings te bestudeer. Maar waarom het ons jonger publikasies dan selde na tipes en antitipes verwys?

Die Skrif gee te kenne dat party karakters en gebeurtenisse iemand of iets groters voorafskadu. Wanneer die Bybel ’n duidelike verband tussen ’n tipe en ’n antitipe voorsien, aanvaar ons dit. “Maar wanneer die Bybel swyg, moet ons ook swyg”, het broer Splane gesê. Ons moenie te veel uit ’n verslag probeer aflei nie. Wat meer is, as ons te veel aandag en tyd daaraan bestee om tipes en antitipes te soek, kan ons uit die oog verloor watter praktiese lesse vir die alledaagse lewe ons almal uit Bybelverslae kan leer—ongeag of ons die hemelse hoop of die aardse hoop het.—Romeine 15:4. a

“Sal jy ‘aanhou waak’?”

Hierdie toespraak, wat deur broer Lett gelewer is, het ons begrip van Jesus se gelykenis van die tien maagde aangepas (Matteus 25:1-13). Ons verstaan hierdie gelykenis nou soos volg: Die bruidegom is Jesus, en die maagde is Jesus se gesalfde volgelinge (Lukas 5:34, 35; 2 Korintiërs 11:2). Die gelykenis is van toepassing op die laaste dae, wat gedurende die groot verdrukking ’n klimaks sal bereik. Toe Jesus die vyf dwase maagde beskryf het, het hy nie bedoel dat baie van sy gesalfde knegte ontrou sou raak en vervang sou moes word nie. Hy het eerder ’n kragtige waarskuwing oorgedra. Net soos vyf maagde verstandig en vyf dwaas was, het elke gesalfde die geleentheid om te kies of hy voorbereid en wakker sal bly of ontrou sal word.

In ooreenstemming met die beginsel dat ons nie te veel uit ’n verslag moet probeer aflei nie, is dit nie verstandig om vir elke besonderheid van hierdie illustrasie ’n profetiese parallel te soek nie. Ons moet eerder praktiese lesse uit die illustrasie leer. Hetsy ons een van die gesalfdes of die “ander skape” is, ons almal het die verantwoordelikheid om ons lig helder te laat skyn en ‘aan te hou waak’ (Johannes 10:16; Markus 13:37; Matteus 5:16). Niemand anders kan namens ons getrou wees nie. Elkeen van ons “moet die lewe kies” deur geestelik wakker te bly en bedrywig te wees in die bediening.—Deuteronomium 30:19.

“Die gelykenis van die talente.”

Anthony Morris van die Bestuursliggaam het die volgende toespraak gehou en die gehoor gehelp om ons aangepaste verduideliking van die illustrasie van die talente te verstaan (Matteus 25:14-30). Ons verstaan nou dat die heer in hierdie illustrasie (Jesus) die slawe (sy getroue gesalfde volgelinge op die aarde) in die toekoms sal beloon wanneer hy kom en hulle tot lewe in die hemel opwek. Toe hy gepraat het van wat met die “goddelose en trae slaaf” sou gebeur, het Jesus nie voorspel dat baie van sy gesalfde volgelinge ontrou sou raak nie. Hy het eerder vir die gesalfdes beklemtoon hoe belangrik dit is dat hulle vlytig bly en die gesindhede en dade van die goddelose slaaf vermy.

Watter praktiese lesse kan ons uit hierdie gelykenis leer? Die heer in die illustrasie het iets waardevols aan sy slawe toevertrou. Jesus het eweneens iets wat vir hom waardevol is, aan sy volgelinge toevertrou—die voorreg om te preek en dissipels te maak. Hy verwag dat ons almal, na gelang van ons omstandighede, ywerig aan hierdie predikingswerk deelneem. Broer Morris het die gehoor geprys vir hulle ywerige deelname aan Koninkryksbedrywighede.

“Wie sal binnekort God se volk aanval?”

Dit was die interessante tema van die laaste toespraak op die program, wat deur Geoffrey Jackson van die Bestuursliggaam gehou is. Broer Jackson het gepraat oor die toekomstige aanval op God se volk wat deur Gog van Magog aangevoer sal word.—Esegiël 38:14-23.

In die verlede het ons gemeen dat Gog ’n ander naam vir Satan die Duiwel is nadat hy uit die hemel gewerp is. Maar broer Jackson het geredeneer oor etlike belangrike vrae wat hierdie verduideliking laat ontstaan. Jehovah het byvoorbeeld voorspel wat hy met Gog sou doen nadat hy verslaan is. God sê: “Aan roofvoëls, al die verskillende soorte voëls, en die wilde diere van die veld sal ek jou as voedsel gee” (Esegiël 39:4). Jehovah het ook voorspel dat “Gog en sy hele menigte” op die aarde begrawe sal word (Esegiël 39:11). Maar hoe is hierdie dinge moontlik in die geval van ’n geesskepsel? Satan sal vir 1 000 jaar in die afgrond gewerp word, nie geëet of begrawe word nie (Openbaring 20:1, 2). Wat meer is, aan die einde van die 1 000 jaar sal Satan uit die afgrond vrygelaat word en “uitgaan om daardie nasies te mislei wat in die vier hoeke van die aarde is, Gog en Magog” (Openbaring 20:7, 8). Dit is duidelik dat Satan nie Gog kan mislei as hy self Gog is nie.

Broer Jackson het verduidelik dat Gog van Magog in Esegiël se profesie nie Satan voorstel nie, maar ’n bondgenootskap van nasies wat God se volk in die toekoms sal aanval. Die aanval deur Gog is waarskynlik dieselfde as die aanval deur “die koning van die noorde” en die aanval deur “konings van die aarde”.—Daniël 11:40, 44, 45; Openbaring 17:12-14; 19:19.

Na wie verwys “die koning van die noorde”? Ons weet nog nie. Maar dit is vir ons geloofversterkend om te sien hoe ons begrip van hierdie toekomstige gebeurtenisse voortdurend verfyn word namate dit naderkom. Ons vrees nie die komende aanval op God se volk nie, want ons weet dat Gog van Magog dan verslaan en heeltemal vernietig sal word—maar God se volk sal vir ewig behoue bly. b

Slot.

Broer Sanderson het aangekondig dat die Nuwe Wêreld-vertaling nou in sakformaat beskikbaar is. Boonop word ’n oudio-opname van die Bybel voorberei, met verskillende stemme vir verskillende Bybelkarakters. Hierdie opnames sal een ná die ander op jw.org gesit word. Dit sal met die boek van Matteus begin.

Broer Sanderson het aangekondig dat ons jaarteks vir 2015 uit Psalm 106:1 geneem is: “Dank Jehovah, want hy is goed.” Hy het almal aangespoor om elke dag redes te soek om dankbaar te wees.

Die slotlied van die vergadering was ons derde nuwe lied, met die titel: “Jehovah is u naam.” Al sewe lede van die Bestuursliggaam het op die verhoog by die koor aangesluit terwyl almal in die gehoor hierdie pragtige nuwe lied gesing het—’n gepaste slot tot hierdie waarlik geskiedkundige vergadering!

a Hierdie toespraak en die twee wat daarop gevolg het, is gebaseer op artikels wat in Die Wagtoring van 15 Maart 2015 sal verskyn.

b Hierdie toespraak is gebaseer op ’n artikel wat in Die Wagtoring van 15 Mei 2015 sal verskyn.