Spring na inhoud

Jongmense gehelp om afknouers op hulle plek te sit

Jongmense gehelp om afknouers op hulle plek te sit

Hugo, wat tien jaar oud is, het onlangs ’n Diana-toekenning van ’n Britse liefdadigheidsorganisasie ontvang omdat hy leerders by sy skool gehelp het om afknouery die hoof te bied.

Hugo het gesê: “Sonder die video Sit ’n afknouer op sy plek sonder om jou vuiste te gebruik sou ek nie hierdie toekenning gekry het nie. Ek het ’n goeie kampvegter teen afknouery geword weens die lesse wat ek uit daardie video op jw.org geleer het.”

“Kinders word elke dag regoor die wêreld afgeknou . . . , maar . . . jy kan iets daaromtrent doen.” (Aanhaling uit Sit ’n afknouer op sy plek sonder om jou vuiste te gebruik)

Hugo het die Sit ’n afknouer op sy plek-witbordtekenprent eers vir sy onderwysers gewys. Dit het hulle beïndruk, en daarom het hulle gereël dat die webwerf jw.org aan al die leerders beskikbaar gestel word. Baie van die agt- tot tienjariges in Hugo se skool gebruik nou gereeld jw.org. Hulle sê dat dit hulle nie net gehelp het om probleme soos afknouery die hoof te bied nie, maar ook om antwoorde te vind op vrae soos: Hoe kan ek ware vriende vind?

Positiewe strategieë help jongmense

By ’n ander Britse skool is die agtjarige Elijah afgeknou. Hy en sy gesin het na die video Sit ’n afknouer op sy plek gekyk en dit bespreek. Hulle het saam geoefen wat hy kan sê en doen wanneer hy afgeknou word. Dit het Elijah die moed gegee om die probleem suksesvol die hoof te bied. Later, gedurende ’n anti-afknouery-week, het Elijah se skoolhoof die video vir die hele skool gewys.

Afknouery is natuurlik nie ’n probleem wat net in Brittanje voorkom nie. Dit vind regoor die wêreld plaas, en hierdie witbordtekenprent help baie jongmense.

In die Verenigde State was die tienjarige Ivie bang vir ’n klasmaat wat haar afgeknou het. Nadat Ivie die video Sit ’n afknouer op sy plek gekyk het, het sy die moed bymekaargeskraap om met die meisie te praat. Sy het ook met haar onderwyser gepraat, wat haar gehelp het. Die klasmaat het om verskoning gevra, en sy en Ivie kom nou goed oor die weg.

Jehovah se Getuies is besorg oor die welsyn van jongmense. Ons sal voortgaan om praktiese raad te voorsien om hulle te help om algemene probleme soos afknouery die hoof te bied.