Spring na inhoud

21 OKTOBER 2015
ERITREA

VN-Kommissie moet oor menseregteskendings in Eritrea verslag doen

VN-Kommissie moet oor menseregteskendings in Eritrea verslag doen

’n VN-kommissie van ondersoek moet teen die einde van Oktober ’n mondelinge verslag oor die skending van menseregte in Eritrea aan die VN se Algemene Vergadering voorlê. Die kommissie is in Junie 2014 saamgestel met die opdrag om binne ’n jaar ondersoek in te stel na Eritrea se streng beperkings op die regte en vryheid van sy mense. *

Die VN se Kommissie van Ondersoek oor Menseregte in Eritrea (COIE) het tydens sy ondersoek bevind dat “stelselmatige, wydverspreide en ernstige menseregteskendings” in Eritrea plaasgevind het. Op 23 Junie 2015 het die COIE sy verslag saam met sy bevindings en aanbevelings aan die VN se Menseregteraad (HRC) in Genève voorgelê. Op 29 Oktober 2015 gaan die COIE ’n mondelinge verslag voorlê aan die Derde Komitee van die VN se Algemene Vergadering in New York. *

Vervolging van Jehovah se Getuies

Benewens die COIE se verslag wat aan die HRC voorgelê is, het dit ’n bykomende verslag van 484 bladsye ingedien wat die bevindinge van sy ondersoek breedvoerig uiteensit en die aandag vestig op die diskriminasie teen en mishandeling van Jehovah se Getuies. Aangesien die Getuies polities neutraal bly en gewetensbeswaar teen militêre diens aanteken, het die regering in Eritrea hulle begin vervolg sedert die land sy onafhanklikheid in 1993 verkry het. Getuies is wreed mishandel en moet lang tydperke in die tronk deurbring onder haglike omstandighede. Die regering het hulle hulle burgerskap ontneem, hulle identiteitsdokumente afgevat, hulle uit staatsdiensposte ontslaan, hulle besigheidslisensies teruggetrek en hulle van openbare voordele ontneem.

“Alle Eritreërs kry ’n voedselkoepon, behalwe Jehovah se Getuies omdat ons nie ’n Identiteitsdokument het nie. Ons word nie as burgers beskou nie.”—Verklaring deur een van Jehovah se Getuies.

Bo en behalwe talle ander aanbevelings het die COIE aanbeveel dat die regering van Eritrea die volgende moet doen:

“Doen onmiddellik stappe om alle godsdiensvervolging te beëindig, veral teen spesifieke godsdiensgroepe, soos Jehovah se Getuies . . . , en gee dadelik hulle burgerskap en verwante regte terug.”

“Beëindig gedwonge uitsettings uit weerwraak teen ongemagtigde godsdienste, soos teen Jehovah se Getuies en dié wat nie wapens opneem nie.” *

HRC neem ’n resolusie aan

Ná die COIE se voorlegging in Genève het die HRC op 30 Junie 2015 ’n resolusie aangeneem wat verklaar dat dit “die stelselmatige, wydverspreide en ernstige menseregteskendings wat deur die regering van Eritrea gepleeg is en nog gepleeg word, sterk veroordeel”. * In sy resolusie het die HRC ook daarop aangedring dat die regering van Eritrea “onmiddellik en daadwerklik stappe moet doen om aanbevelings in werking te stel” wat deur die COIE gemaak is, insluitende dié wat op Jehovah se Getuies van toepassing is. Die HRC het hom verder op die regering van Eritrea beroep om:

  • “Arbitrêre aanhouding van sy burgers te beëindig en op te hou om marteling of ander wrede, onmenslike en vernederende behandeling of straf uit te oefen.”

  • “Vrye en regverdige toegang tot ’n onafhanklike regstelsel te verseker vir dié wat in aanhouding is en om toestande in gevangenisse te verbeter.”

  • “Elkeen se reg op vryheid van spraak en vryheid van denke, gewete, godsdiens of oortuiging te respekteer, asook die reg op vryheid van vreedsame byeenkomste en assosiasie.”

Sal die manier waarop Jehovah se Getuies behandel word, verbeter?

Daar is tans 54 van Jehovah se Getuies in Eritrea in die tronk, en 3 van hulle is al meer as 21 jaar in aanhouding. Nie een van hulle is aangekla of verhoor nie. Party word aangehou in metaalskeepshouers of in geboue wat gedeeltelik onder die grond is waar hulle haglike toestande en uiterste temperature moet verduur. Jehovah se Getuies regoor die wêreld is bewus van die lyding van hulle medegelowiges in Eritrea en hoop dat die regering sal ophou om hulle te vervolg.

^ par. 2 Die Kommissie van Ondersoek oor Menseregte in Eritrea is op 27 Junie 2014 deur die Verenigde Nasies se Menseregteraad saamgestel onder Resolusie 26/24.

^ par. 3 Die Derde Komitee ondersoek sake wat verband hou met sosiale en humanitêre kwessies, asook geskille ten opsigte van menseregte wat persone regoor die wêreld raak.

^ par. 8 Verslag oor die breedvoerige bevindings van die Kommissie van Ondersoek oor Menseregte in Eritrea (Voorlopige Weergawe), A/HRC/29/CRP.1, par. 1530(c) en 1531(c).

^ par. 10 Resolusie A/HRC/29/L.23.