Spring na inhoud

28 JUNIE 2017
KAZAKSTAN

Hof in Kazakstan bevestig onregverdige vonnis teen Teymur Akhmedov

Hof in Kazakstan bevestig onregverdige vonnis teen Teymur Akhmedov

Op 20 Junie 2017 het die stadshof in Astana Teymur Akhmedov se appèl verwerp. Hiermee is sy kriminele vonnis van vyf jaar tronkstraf bevestig, asook die verbod van drie jaar op sy godsdiensbedrywighede. ’n Internasionale regsgeleerde op die gebied van menseregte wat op 20 Junie in die hof was, het gesê: “Dit is ’n verdraaiing van die gereg, want daar was oorweldigende bewyse ten gunste van mnr. Akhmedov.” Sy regsgeleerdes oorweeg dit om weer te appelleer.

In Januarie 2017 het beamptes van die Nasionale Veiligheidskomitee mnr. Akhmedov in hegtenis geneem en hom opgesluit vir beweerde onwettige godsdiensbedrywighede. Hy het in die tronk gebly totdat sy verhoor op 2 Mei 2017 begin het. Die streekhof in Saryarkinskiy het hom onregverdig skuldig bevind op grond van Artikel 174 (2) van die strafwet van Kazakstan. Volgens hierdie wet is aanhitsing tot godsdiensverdeeldheid en godsdienshaat onwettig. Mnr. Akhmedov het beswaar gemaak teen die valse aanklagte en gesê dat hy net met ander mense oor sy godsdiensoortuigings gepraat het omdat hy vir hulle omgee. Om ’n mens se godsdiensoortuigings in die openbaar bekend te maak, is ’n basiese reg wat deur die grondwet van Kazakstan gewaarborg word, asook deur internasionale instansies se standaarde vir menseregte waartoe Kazakstan verbind is.