Spring na inhoud

Die Hooggeregshof van Zimbabwe in Mutare. Kleiner foto (van links na regs): Broer Jabulani Sithole, Wonder Muposheri en Tobias Gabaza

18 NOVEMBER 2022
ZIMBABWE

Hooggeregshof in Zimbabwe kies Jehovah se Getuies se kant in saak oor godsdiensregte

Hooggeregshof in Zimbabwe kies Jehovah se Getuies se kant in saak oor godsdiensregte

Op 29 September 2022 het die Hooggeregshof van Zimbabwe in Mutare ten gunste van broer Tobias Gabaza, Wonder Muposheri en Jabulani Sithole beslis. Daar was teen hulle gediskrimineer omdat hulle geweier het om deel te neem aan ’n godsdiensseremonie wat hulle gewete geskend het.

In Oktober 2020 was die drie broers beveel om voor ’n hof te verskyn waar die hoofman van die dorpie die leiding geneem het. Dit het gebeur nadat ’n ander amptenaar daarop aangedring het dat die broers deelneem aan ’n seremonie in die dorpie. Die seremonie sluit in dat geeste van die dooies opgeroep word met die doel om seisoenale reën te bring, en daar word verwag dat almal in die dorpie moet deelneem. Ons broers het die besluit geneem om nie aan die seremonie deel te neem nie, op grond van hulle Bybelopgeleide gewete.

Die hoofman van die dorpie het teen ons broers beslis en het hulle gedreig en hulle probeer dwing om deel te neem. Ons broers het gekies om te appelleer by die Landdroshof in Chipinge.

Op 5 Januarie 2021 het die Landdroshof ten gunste van ons broers beslis. Maar die amptenare van die dorpie het geweier om die hof se uitspraak te gehoorsaam en het aangehou om druk op ons broers te sit. Ander mense van die dorpie het ook begin om hulle te vermy en om hulle sleg te behandel.

Omdat daar nog steeds teen die broers gediskrimineer was, het hulle by die Hooggeregshof geappelleer. Die Hof het erken dat die amptenare van die dorpie die broers se regte geskend het. Dit het die amptenare van die dorpie ook beveel om die broers te verskoon van enige tradisionele bedrywighede wat hulle gewete skend en om hulle skadevergoeding te betaal.

Ons glo dat hierdie uitspraak tot voordeel sal wees vir die broers en susters wat regoor Zimbabwe bly, aangesien hierdie tradisies regdeur die land gevolg word. Ons is dankbaar teenoor Jehovah vir hierdie gunstige uitkoms. – Spreuke 2:8.