Spring na inhoud

14 APRIL 2023
ZIMBABWE

“Lig” word gebring aan diegene in Zimbabwe wat nie goed kan sien nie

“Lig” word gebring aan diegene in Zimbabwe wat nie goed kan sien nie

Vroeër vanjaar het die takkantoor in Zimbabwe briewe van waardering gekry van twee nasionale instansies: die Dorothy Duncan-sentrum vir die Blindes en Liggaamlik Gestremdes en die Universiteit van Zimbabwe. Die briewe was gestuur om die takkantoor te bedank vir die skenking van kopieë van die Nuwe Wêreld-vertaling en ander Bybelpublikasies in braille wat aan albei instansies gestuur is. Die Universiteit van Zimbabwe het deels geskryf: “Julle skenking sal ons studente help om te doen wat reg is. Julle maak regtig ’n verskil, en ons is baie dankbaar.”

Die spesiale pionierpaartjies wat toegewys is om blinde mense en dié wat nie goed kan sien nie, te help. Links: Broer Willard Mazarura en sy vrou, Nyembezi. Regs: Broer Thungulula Ncube en sy vrou, Eunice

Die skenking van die publikasies was net die jongste manier hoe die takkantoor die meer as 10 000 mense in Zimbabwe wat blind is of nie goed kan sien nie, gehelp het. In 2017 het die takkantoor ’n spesiale predikingskampanje vir hierdie veld gereël. Hierdie kampanje het ingesluit dat die takkantoor twee spesiale pionierpaartjies toegewys het om verkondigers te help om hierdie gemeenskap meer doeltreffend te bereik. As gevolg hiervan is 46 Bybelstudies begin en drie mense gedoop.

Een van die mense wat gedoop is, is suster Mavies Chaya. Sy was in 2021 deur middel van telefoongetuieniswerk gekontak. Mavies het eers na geloofsgenesers gegaan om haar weer te laat sien, maar sy het alle hoop verloor toe hulle dit nie kon doen nie. Toe sy oor die Bybel se belofte leer dat blinde mense in die nuwe wêreld weer sal sien, het sy weer hoop gekry. Sy het twee keer ’n week begin studeer en is in April 2022 gedoop.

Terwyl ons uitsien na die tyd wanneer Jehovah blinde mense weer sal laat sien, is ons bly dat hy op die oomblik ‘lig en insig’ gee aan almal wat hom soek. – Psalm 119:130.