Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

INDONESIË

Uiteindelik verenig!

Soos vertel deur Linda en Sally Ong

Uiteindelik verenig!

Linda: Toe ek 12 was, het my ma vir my gesê dat ek ’n jonger suster het wat deur iemand anders aangeneem is. Ek het gewonder of sy ook doof gebore is. Maar terwyl ek grootgeword het, het ek nie geweet wie sy is nie.

Sally: Ek het nooit geweet dat ek aangeneem is nie. My “ma” het my wreed geslaan en my soos ’n slaaf behandel, en daarom was my kinderjare hartseer en eensaam—wat die lewe vir my as ’n dowe persoon selfs moeiliker gemaak het. Toe het ek Jehovah se Getuies ontmoet en die Bybel begin studeer. Toe my “ma” uitvind, het sy my met ’n belt geslaan en die deur se slotte vervang om my in die huis toe te sluit. Toe ek 20 was, het ek van die huis af weggeloop, en die Getuies het my ingeneem. Ek is vroeg in 2012 gedoop.

Linda: Toe ek 20 was, het ek saam met Jehovah se Getuies begin studeer. Later het ek streekbyeenkomste in Djakarta begin bywoon, waar die program vir die dowes getolk is. Daar het ek baie ander dowe mense ontmoet, insluitende Sally, ’n Getuiemeisie wat in Noord-Soematra gewoon het. Dit het vir my gevoel asof ek haar al lank ken, maar ek het nie verder daaraan gedink nie.

Sally: Ek en Linda het goeie vriendinne geword. Ek het gedink dat ons na mekaar lyk, maar dit uit my gedagtes gesit.

Linda: In Augustus 2012, die dag voordat ek gedoop is, het ek ’n sterk begeerte gevoel om my verlore jonger suster te vind. “Asseblief help my om my suster te vind,” het ek Jehovah gesmeek, “want ek wil haar omtrent u vertel.” Kort daarna het my ma onverwags ’n teksboodskap ontvang van ’n persoon wat inligting omtrent my verlore suster gehad het. Dit het tot ’n reeks gebeurtenisse gelei wat my uiteindelik gehelp het om Sally te kontak.

Sally: Toe Linda aan my verduidelik het dat ek haar langverlore suster is, het ek gou na Djakarta gevlieg om haar te ontmoet. Toe ek deur die lughawe se sekuriteit stap, het ek Linda gesien—saam met my pa, my ma en my ander ouer suster—gretig om my te groet. Ek was so emosioneel dat ek gebewe het. Ons het mekaar omhels en gesoen—my ma het my die langste vasgehou. Almal het gehuil. Toe my pa en ma met trane in hulle oë sê hoe jammer hulle is dat hulle my laat aanneem het, het ons gehuil en mekaar weer omhels.

Linda: Omdat ons anders grootgemaak is, moes ons leer om gewoond te raak aan mekaar se persoonlikhede en gewoontes. Maar ons is baie lief vir mekaar.

Sally: Ek en Linda bly nou saam en gaan na dieselfde gebaretaalgemeente in Djakarta.

Linda: Ek en Sally was meer as 20 jaar uitmekaar. Ons dank Jehovah dat ons uiteindelik verenig is!