Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

AANHANGSEL

Moet ons vakansiedae vier?

Moet ons vakansiedae vier?

GEWILDE godsdienstige en sekulêre vakansiedae wat vandag in baie dele van die wêreld gevier word, het nie hulle oorsprong in die Bybel nie. Wat is dan die oorsprong van hierdie vieringe? As jy toegang het tot ’n biblioteek, sal jy dit interessant vind om te sien wat naslaanboeke sê oor vakansiedae wat gewild is waar jy woon. Kom ons kyk na ’n paar voorbeelde.

Paasfees. “Daar is geen aanduiding van die viering van Paasfees in die Nuwe Testament nie”, sê The Encyclopædia Britannica. Hoe het Paasfees begin? Dit het in heidense aanbidding ontstaan. Hoewel hierdie vakansiedag veronderstel is om Jesus se opstanding te herdenk, is die gebruike wat met die Paasseisoen gepaardgaan, nie Christelik nie. The Catholic Encyclopedia sê byvoorbeeld van die gewilde “Paashaas”: “Die konyn is ’n heidense simbool en was nog altyd ’n embleem van vrugbaarheid.”

Nuwejaarsvieringe. Die datum en gebruike wat met Nuwejaarsvieringe verband hou, verskil van land tot land. Aangaande die oorsprong van hierdie viering sê The World Book Encyclopedia: “Die Romeinse heerser Julius Caesar het in 46 v.C. bepaal dat 1 Januarie Nuwejaarsdag moet wees. Die Romeine het hierdie dag aan Janus, die god van poorte, deure en aanvangspunte, gewy. Die maand Januarie is vernoem na Janus, wat twee gesigte gehad het—een wat vorentoe kyk en een wat terugkyk.” Nuwejaarsvieringe is dus op heidense tradisies gegrond.

Allerheiligeaand (“Halloween”). The Encyclopedia Americana sê: “Elemente van die gebruike wat met Allerheiligeaand verband hou, kan teruggevoer word tot ’n seremonie van die Druïdes [’n eertydse Keltiese priesterklas] in voor-Christelike tye. Die Kelte het feeste gehad vir twee belangrike gode—’n songod en ’n god van die dooies . . . , wie se fees gevier is op 1 November, die begin van die Keltiese Nuwejaar. Die fees van die dooies is geleidelik in Christelike ritusse opgeneem.”

Ander vakansiedae. Dit is nie moontlik om al die vakansiedae te bespreek wat regoor die wêreld gevier word nie. Maar vakansiedae wat mense of menseorganisasies verheerlik, is nie vir Jehovah aanneemlik nie (Jeremia 17:5-7; Handelinge 10:25, 26). Hou ook in gedagte dat die oorsprong van godsdiensvieringe een van die faktore is wat bepaal of dit God se goedkeuring wegdra of nie (Jesaja 52:11; Openbaring 18:4). Die Bybelbeginsels wat in Hoofstuk 16 van hierdie boek genoem is, sal jou help om vas te stel hoe God oor deelname aan sekulêre vakansiedae voel.