Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOOFSTUK TWAALF

Lewe op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra

Lewe op ’n manier wat God se goedkeuring wegdra
  • Hoe kan jy God se vriend word?

  • Hoe raak Satan se uitdaging jou?

  • Watter gedrag dra nie Jehovah se goedkeuring weg nie?

  • Hoe kan jy op ’n manier lewe wat God se goedkeuring wegdra?

1, 2. Gee ’n paar voorbeelde van mense wat Jehovah as sy intieme vriende beskou het.

WATTER soort mens sal jy as ’n vriend kies? Jy sal heel moontlik die geselskap wil hê van iemand wat dieselfde beskouings, belangstellings en waardes as jy het. En jy sal aangetrokke voel tot iemand wat goeie eienskappe het, soos eerlikheid en goedhartigheid.

2 Deur die geskiedenis heen het God sekere mense gekies om sy intieme vriende te wees. Jehovah het Abraham byvoorbeeld sy vriend genoem (Jesaja 41:8; Jakobus 2:23). God het Dawid “’n man na my hart” genoem omdat hy die soort mens was vir wie Jehovah lief is (Handelinge 13:22). En Jehovah het die profeet Daniël as “’n besonder geliefde man” beskou.—Daniël 9:23.

3. Waarom kies Jehovah sekere mense as sy vriende?

3 Waarom het Jehovah Abraham, Dawid en Daniël as sy vriende beskou? Wel, hy het vir Abraham gesê: “Jy [het] na my stem geluister” (Genesis 22:18). Jehovah kom dus na aan diegene wat nederig doen wat hy van hulle vra. “Gehoorsaam my stem”, het hy vir die Israeliete gesê, “en ek sal julle God word, en julle sal my volk word” (Jeremia 7:23). As jy aan Jehovah gehoorsaam is, kan jy ook sy vriend word!

JEHOVAH VERSTERK SY VRIENDE

4, 5. Hoe toon Jehovah sy krag ten behoewe van sy knegte?

4 Dink aan wat vriendskap met God beteken. Die Bybel sê dat Jehovah na geleenthede soek “om sy krag te toon ten behoewe van dié wie se hart volkome teenoor hom is” (2 Kronieke 16:9). Hoe kan Jehovah sy krag ten behoewe van jou toon? Een manier word in Psalm 32:8 genoem, waar ons lees: “Ek [Jehovah] sal jou insig gee en jou onderrig in die weg wat jy moet gaan. Ek sal raad gee met my oog op jou.”

5 Wat ’n roerende betuiging van Jehovah se liefde! Hy sal jou die nodige raad gee en oor jou waak wanneer jy dit toepas. God wil jou help om beproewinge en toetse te deurstaan (Psalm 55:22). As jy Jehovah dus met ’n volkome hart dien, kan jy net so vol vertroue wees soos die psalmis wat gesê het: “Ek het Jehovah voortdurend voor my gestel. Omdat hy aan my regterhand is, sal ek nie wankel nie” (Psalm 16:8; 63:8). Ja, Jehovah kan jou help om op ’n manier te lewe wat sy goedkeuring wegdra. Maar soos jy weet, is daar ’n vyand van God wat graag wil keer dat jy dit doen.

SATAN SE UITDAGING

6. Wat was Satan se aantyging met betrekking tot mense?

6 Hoofstuk 11 van hierdie boek het verduidelik hoe Satan die Duiwel God se soewereiniteit betwis het. Satan het God daarvan beskuldig dat hy lieg en het te kenne gegee dat dit onregverdig van Jehovah was om Adam en Eva nie toe te laat om self te besluit wat reg en wat verkeerd is nie. Nadat Adam en Eva gesondig het, en toe hulle nageslag die aarde begin vul het, het Satan die beweegrede van alle mense bevraagteken. “Mense dien God nie omdat hulle hom liefhet nie”, was Satan se aantyging. “Gee my ’n kans, en ek sal enigiemand teen God laat draai.” Die verslag oor die man Job toon dat Satan dit geglo het. Wie was Job, en hoe was hy by Satan se uitdaging betrokke?

7, 8. (a) Wat het Job onder die mense van daardie tyd laat uitstaan? (b) Hoe het Satan Job se beweegrede bevraagteken?

7 Job het sowat 3 600 jaar gelede gelewe. Hy was ’n goeie man, want Jehovah het gesê: “Daar [is] niemand soos hy op die aarde . . . nie, ’n onberispelike en regskape man, wat God vrees en afwyk van die kwaad” (Job 1:8). Job het God se goedkeuring geniet.

8 Satan het die beweegrede vir Job se diens aan God bevraagteken. Die Duiwel het vir Jehovah gesê: “Het u nie self om [Job] en om sy huis en om alles wat hy het, aan alle kante, ’n heining geplaas nie? Die werk van sy hande het u geseën, en sy vee het op die aarde toegeneem. Maar steek vir ’n verandering asseblief u hand uit en raak alles aan wat hy het en kyk of hy u nie in u aangesig sal vervloek nie.”—Job 1:10, 11.

9. Hoe het Jehovah op Satan se uitdaging gereageer, en waarom?

9 Satan het dus gesê dat Job God alleenlik dien vir wat hy daaruit kry. Die Duiwel het ook gesê dat Job teen God sal draai as hy getoets word. Hoe het Jehovah op Satan se uitdaging gereageer? Aangesien die geskil oor Job se beweegrede gegaan het, het Jehovah Satan toegelaat om Job te toets. Op hierdie manier sou Job se liefde vir God—of sy gebrek daaraan—duidelik gesien kon word.

JOB WORD GETOETS

10. Watter beproewinge het oor Job gekom, en hoe het hy gereageer?

10 Kort daarna het Satan Job op etlike maniere getoets. Van Job se diere is gesteel en ander is doodgemaak. Die meeste van sy knegte is vermoor. Dit het ekonomiese probleme veroorsaak. Nog ’n tragedie het Job getref toe sy tien kinders in ’n storm gesterf het. Maar ondanks hierdie vreeslike gebeure het Job “nie gesondig of enigiets ongepas aan God toegeskryf nie”.—Job 1:22.

11. (a) Wat was die tweede aantyging wat Satan in verband met Job gemaak het, en wat was Jehovah se reaksie daarop? (b) Hoe het Job op sy pynlike siekte gereageer?

11 Satan het nie tou opgegooi nie. Hy het heel waarskynlik gedink dat Job moontlik die verlies van sy besittings, knegte en kinders sou kon verduur, maar dat hy teen God sou draai as hy siek word. Jehovah het Satan toegelaat om Job met ’n vreeslike, pynlike siekte te tref. Maar nie eers dít het Job sy geloof in God laat verloor nie. Hy het eerder vasbeslote gesê: “Totdat ek sterf, sal ek my onkreukbaarheid nie prysgee nie!”—Job 27:5.

Job is vir sy getrouheid beloon

12. Hoe het Job die Duiwel se uitdaging beantwoord?

12 Job het nie geweet dat Satan verantwoordelik was vir sy probleme nie. Aangesien Job nie bewus was van die besonderhede in verband met die Duiwel se uitdaging ten opsigte van Jehovah se soewereiniteit nie, het hy gevrees dat God die oorsaak van sy probleme is (Job 6:4; 16:11-14). Maar hy het sy onkreukbaarheid teenoor Jehovah gehandhaaf. En Satan se bewering dat Job God alleenlik om selfsugtige redes dien, is deur Job se getrouheid onwaar bewys!

13. Wat het gebeur omdat Job getrou was aan God?

13 Job se getrouheid het aan Jehovah ’n duidelike antwoord voorsien op Satan se beledigende uitdaging. Job was werklik Jehovah se vriend, en God het hom vir sy getrouheid beloon.—Job 42:12-17.

HOE JY BETROKKE IS

14, 15. Waarom kan ons sê dat Satan se uitdaging waarby Job betrokke was, op alle mense van toepassing is?

14 Die geskil oor onkreukbaarheid aan God wat deur Satan geopper is, was nie net teen Job gemik nie. Jy is ook daarby betrokke. Dit word duidelik getoon in Spreuke 27:11, waar Jehovah se Woord sê: “Wees wys, my seun, en maak my hart bly, sodat ek hom wat my uittart, ’n antwoord kan gee.” Hierdie woorde, wat honderde jare ná Job se dood geskryf is, toon dat Satan God nog steeds uitgetart en Sy knegte nog steeds aangekla het. Wanneer ons op ’n manier lewe wat Jehovah se goedkeuring wegdra, help ons eintlik om ’n antwoord te voorsien op Satan se valse aantygings, en so maak ons God se hart bly. Hoe voel jy daaroor? Sou dit nie wonderlik wees om ’n deel daaraan te hê om ’n antwoord op die Duiwel se leuenagtige bewerings te voorsien nie, al beteken dit dat jy sekere veranderinge in jou lewe moet maak?

15 Let daarop dat Satan gesê het: “Alles wat ’n mens het, sal hy gee vir sy siel” (Job 2:4). Deur “’n mens” te sê, het Satan dit duidelik gemaak dat sy aantyging nie net op Job van toepassing was nie, maar op alle mense. Dit is ’n baie belangrike punt. Satan het jou onkreukbaarheid teenoor God in twyfel getrek. Die Duiwel wil graag sien dat jy aan God ongehoorsaam is en ’n regverdige lewenswyse laat vaar wanneer probleme ontstaan. Hoe sal Satan dit probeer regkry?

16. (a) Deur watter metodes probeer Satan om mense van God af te keer? (b) Hoe kan die Duiwel hierdie metodes teen jou gebruik?

16 Soos ons in Hoofstuk 10 bespreek het, gebruik Satan verskeie metodes om mense van God te probeer afkeer. Aan die een kant val hy mense aan ‘soos ’n brullende leeu wat daarop uit is om iemand te verslind’ (1 Petrus 5:8). Satan se invloed kan dus gesien word wanneer vriende, familielede of ander jou pogings teëstaan om die Bybel te bestudeer en toe te pas wat jy leer (Johannes 15:19, 20). * Aan die ander kant “hou [Satan] aan om hom in ’n engel van lig te verander” (2 Korintiërs 11:14). Die Duiwel kan subtiele maniere gebruik om jou te mislei en van ’n godvrugtige lewenswyse weg te lok. Hy kan ook ontmoediging gebruik, deur jou moontlik te laat voel dat jy nie goed genoeg is om God se goedkeuring te geniet nie (Spreuke 24:10). Of Satan nou soos “’n brullende leeu” optree of voorgee dat hy “’n engel van lig” is, sy uitdaging bly dieselfde: Hy sê jy sal ophou om God te dien wanneer jy voor beproewinge of versoekings te staan kom. Hoe kan jy, soos Job, ’n antwoord op sy uitdaging voorsien en jou onkreukbaarheid teenoor God bewys?

GEHOORSAAM JEHOVAH SE GEBOOIE

17. Wat is die vernaamste rede om Jehovah se gebooie te gehoorsaam?

17 Jy kan ’n antwoord op Satan se uitdaging voorsien deur op ’n manier te lewe wat God se goedkeuring wegdra. Wat sluit dit in? Die Bybel antwoord: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en jou hele siel en al jou lewenskrag” (Deuteronomium 6:5). Namate jou liefde vir God toeneem, sal jy ’n sterk begeerte ontwikkel om te doen wat hy van jou verwag. “Dít is wat die liefde vir God beteken”, het die apostel Johannes geskryf, “dat ons sy gebooie bewaar.” As jy Jehovah met jou hele hart liefhet, sal jy vind dat “sy gebooie nie swaar [is] nie”.—1 Johannes 5:3.

18, 19. (a) Wat is party van Jehovah se gebooie? (Sien venster met die titel “ Vermy wat Jehovah haat.) (b) Hoe weet ons dat God nie te veel van ons vra nie?

18 Wat is Jehovah se gebooie? Party van hulle het te doen met gedrag wat ons moet vermy. Kyk byvoorbeeld na die venster op bladsy 122, met die titel “ Vermy wat Jehovah haat”. Daarin word gedrag genoem wat die Bybel duidelik veroordeel. Met die eerste oogopslag lyk party van die dinge wat daar genoem word, dalk nie so erg nie. Maar nadat jy gepeins het oor die tekste wat aangegee is, sal jy heel waarskynlik die wysheid van Jehovah se wette sien. Om veranderinge in jou gedrag aan te bring, sal moontlik die grootste uitdaging wees waarvoor jy nog ooit te staan gekom het. Maar as jy op ’n manier lewe wat God se goedkeuring wegdra, bring dit groot tevredenheid en geluk mee (Jesaja 48:17, 18). En dit is iets wat binne jou bereik is. Hoe weet ons dit?

19 Jehovah vra nooit meer van ons as wat ons kan doen nie (Deuteronomium 30:11-14). Hy weet beter as ons wat ons potensiaal en ons beperkings is (Psalm 103:14). Dan kan Jehovah ons ook nog die krag gee om aan hom gehoorsaam te wees. Die apostel Paulus het geskryf: “God is getrou, en hy sal nie toelaat dat julle versoek word bo wat julle kan verdra nie, maar saam met die versoeking sal hy ook die uitweg gee, sodat julle dit sal kan verduur” (1 Korintiërs 10:13). Om jou te help volhard, kan Jehovah jou selfs “krag wat bo die normale is”, gee (2 Korintiërs 4:7). Nadat Paulus baie beproewinge verduur het, kon hy sê: “Vir alles is ek sterk genoeg deur hom wat my krag gee.”—Filippense 4:13.

KWEEK GODVRUGTIGE EIENSKAPPE AAN

20. Watter godvrugtige eienskappe moet jy aankweek, en waarom is dit belangrik?

20 As jy Jehovah se goedkeuring wil wegdra, moet jy natuurlik nie net dinge vermy wat hy haat nie. Jy moet ook liefhê wat hy liefhet (Romeine 12:9). Voel jy aangetrokke tot mense wat dieselfde beskouings, belangstellings en waardes as jy het? Jehovah ook. Leer dus om die dinge lief te hê wat vir Jehovah kosbaar is. Party van hierdie dinge word genoem in Psalm 15:1-5, waar ons lees van mense wat God as sy vriende beskou. Jehovah se vriende lê eienskappe aan die dag wat die Bybel “die vrugte van die gees” noem. Dit sluit eienskappe in soos “liefde, vreugde, vrede, lankmoedigheid, goedhartigheid, goedheid, geloof, sagmoedigheid, selfbeheersing”.—Galasiërs 5:22, 23.

21. Wat sal jou help om godvrugtige eienskappe aan te kweek?

21 As jy die Bybel gereeld lees en bestudeer, sal dit jou help om godvrugtige eienskappe aan te kweek. En as jy leer wat God vereis, sal dit jou help om jou denke met God se denke in ooreenstemming te bring (Jesaja 30:20, 21). Hoe meer jy jou liefde vir Jehovah versterk, hoe groter sal jou begeerte word om op ’n manier te lewe wat God se goedkeuring wegdra.

22. Wat sal jy bereik as jy op ’n manier lewe wat God se goedkeuring wegdra?

22 Dit verg inspanning om op ’n manier te lewe wat Jehovah se goedkeuring wegdra. Die Bybel vergelyk die veranderinge wat jy in jou lewe moet maak, daarmee om jou ou persoonlikheid as ’t ware soos klere uit te trek en om ’n nuwe persoonlikheid aan te trek (Kolossense 3:9, 10). Maar aangaande Jehovah se gebooie het die psalmis geskryf: “In die onderhouding daarvan is ’n groot beloning” (Psalm 19:11). Jy sal ook vind dat dit baie seëninge meebring om op ’n manier te lewe wat God se goedkeuring wegdra. Sodoende sal jy ’n antwoord voorsien op Satan se uitdaging en sal jy Jehovah se hart bly maak!

^ par. 16 Dit beteken nie dat diegene wat jou teëstaan, persoonlik onder Satan se beheer is nie. Maar Satan is die god van hierdie stelsel van dinge, en die hele wêreld lê in sy mag (2 Korintiërs 4:4; 1 Johannes 5:19). Ons kan dus verwag dat dit ’n ongewilde weg sal wees om ’n godvrugtige lewe te lei en dat party jou sal teëstaan.