Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hulp vir slagoffers van gesinsgeweld

Hulp vir slagoffers van gesinsgeweld

 Die Wêreldgesondheidsorganisasie sê: “Regoor die wêreld is mense gewelddadig teenoor vroue. Dit is wydverspreid soos ’n epidemiese siekte. En dit is baie belangrik dat iets gedoen moet word om dit stop te sit.” Hierdie organisasie skat dat amper 30 persent “van alle vroue wat in ’n verhouding was, het al fisiese en/of seksuele geweld ondervind” deur hulle maat. En ’n verslag deur die VN skat dat daar onlangs in een jaar 137 vroue elke dag regoor die wêreld deur hulle maat of ’n ander gesinslid doodgemaak is. a

 Statistieke wys dalk hoe groot die probleem van gesinsgeweld is, maar dit vertel ons nie die waarheid oor die emosionele en fisiese pyn wat elke slagoffer deurmaak nie.

 Is jy ’n slagoffer van gesinsgeweld? Of weet jy van iemand wat is? As dit die geval is, kyk na die volgende punte in die Bybel wat kan help.

  Gesinsgeweld is nie jou skuld nie

  Hulp is beskikbaar

  Jy is nie alleen nie

  Gesinsgeweld sal tot ’n einde kom

  Hoe jy ’n slagoffer kan help

 Gesinsgeweld is nie jou skuld nie

 Wat die Bybel sê: “God sal . . . elkeen van ons volgens ons dade oordeel.” – Romeine 14:12.

 Onthou: Die persoon wat jou mishandel, is verantwoordelik vir sy eie aksies.

 As jou maat jou blameer vir die feit dat hy jou mishandel, is hy verkeerd. Vroue verdien om liefdevol behandel te word, nie om mishandel te word nie. – Kolossense 3:19.

 Soms mishandel ’n persoon sy maat as gevolg van ’n geestesiekte, sy familie-agtergrond of omdat hy alkohol misbruik. Wat ook al die geval is, hy is verantwoordelik voor God vir die manier hoe hy jou behandel. Hy moet doen wat ook al nodig is om sy optrede te verander.

 Hulp is beskikbaar

 Wat die Bybel sê: “As daar baie raadgewers is, lei dit tot sukses.” – Spreuke 15:22.

 Onthou: As jy nie veilig voel nie of nie weet wat om te doen nie, kan ander jou help.

 Hoekom het jy dalk ander mense se hulp nodig? Gesinsgeweld is ’n ingewikkelde situasie. Wanneer jy hierdie situasie moet hanteer, sukkel jy dalk om te besluit watter een van die volgende faktore die belangrikste is:

  •   Jou eie veiligheid

  •   Wat die beste vir jou kinders sal wees

  •   Jou finansiële situasie

  •   Jou liefde vir jou maat

  •   ’n Begeerte om die verhouding te red as jou maat verander

 As jy nie weet wat om te doen nie en oorweldig voel, is dit normaal. Na wie toe kan jy gaan vir hulp?

 ’n Vriend of familielid wat jy kan vertrou, kan jou dalk prakties en emosioneel ondersteun. As jy met iemand praat wat vir jou omgee, kan dit ’n groot verskil maak.

 Gesinsgeweldhulplyne kan jou dadelik help. Mense wat vir hierdie hulplyne werk, kan jou help om ’n plan van aksie uit te werk om jou te beskerm. As jou maat erken dat hy ’n probleem het en regtig wil verander, kan ’n hulplyn hom help om die eerste stappe te neem.

 Ander nooddienste kan jou help as jy in onmiddellike gevaar is. Hierdie dienste kan dalk dokters, verpleegsters of ander opgeleide mense insluit.

 Jy is nie alleen nie

 Wat die Bybel sê: “Jehovah b is naby dié wie se hart gebreek is. Hy red dié wat mismoedig is.” – Psalm 34:18.

 Onthou: God belowe om jou te help.

 Jehovah gee regtig om vir jou (1 Petrus 5:7). Hy verstaan jou diepste gedagtes en gevoelens. Hy kan jou deur sy Woord, die Bybel, vertroos. En hy wil hê dat jy tot hom moet bid. Wanneer jy tot hom bid, kan jy vir hom vra om jou die wysheid en krag te gee wat jy nodig het om jou situasie te hanteer. – Jesaja 41:10.

 Gesinsgeweld sal tot ’n einde kom

 Wat die Bybel sê: “Hulle sal elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom sit, en niemand sal hulle bang maak nie.” – Miga 4:4.

 Onthou: Die Bybel belowe ’n tyd in die toekoms wanneer elkeen se huis ’n vreedsame plek sal wees.

 Jehovah God het die enigste permanente oplossing vir al ons probleme. Die Bybel belowe: “God sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal nie meer daar wees nie. Daar sal geen getreur, geen gehuil en geen pyn meer wees nie” (Openbaring 21:4). Ons sal dan nie eers dink aan slegte herinneringe nie. Dit sal vervang word met goeie herinneringe (Jesaja 65:17). Dit is die vreedsame toekoms wat die Bybel vir jou belowe.

a Hierdie artikel verwys na die slagoffer as vroulik, maar baie van die punte wat bespreek word is ook van toepassing op manlike slagoffers.

b Volgens die Bybel is God se naam Jehovah.