Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die einde van lyding is op hande!

Die einde van lyding is op hande!

Stel jou voor dat jy in ’n wêreld sonder lyding lewe—’n wêreld sonder misdaad, oorlogvoering, siektes en natuurrampe. Stel jou voor dat jy elke oggend wakker word sonder enige bekommernis oor diskriminasie, onderdrukking of ekonomiese onsekerheid. Klink dit alles te goed om te glo? Geen mens of mensgemaakte organisasie kan weliswaar sulke toestande teweegbring nie. Maar God het belowe om alle oorsake van menselyding uit die weg te ruim, met inbegrip van dié wat in die vorige artikel bespreek is. Let op die volgende beloftes in God se Woord, die Bybel:

HEERSKAPPY DEUR ’N GOEIE REGERING

“Die God van die hemel [sal] ’n koninkryk oprig wat nooit vernietig sal word nie. En die koninkryk sal aan geen ander volk oorgedra word nie. Dit sal al hierdie koninkryke verbrysel en daar ’n einde aan maak, en self sal dit tot onbepaalde tye bly staan.”—Daniël 2:44.

Die Koninkryk van God is ’n hemelse regering. Die gekose Heerser, Jesus Christus, sal alle menseheerskappy vervang en sal toesien dat God se wil geskied, nie net in die hemel nie, maar ook hier op die aarde (Matteus 6:9, 10). Hierdie regering sal nie deur enige menseregering vervang word nie, want dit is “die ewige koninkryk van ons Here en Redder Jesus Christus”. Ons sal van blywende vrede verseker wees.—2 Petrus 1:11.

GEEN VALSE GODSDIENS MEER NIE

“Satan self hou aan om hom in ’n engel van lig te verander. Dit is dus niks besonders as sy bedienaars ook aanhou om hulle in bedienaars van regverdigheid te verander nie. Maar hulle einde sal volgens hulle werke wees.”—2 Korintiërs 11:14, 15.

Valse godsdiens sal as die werk van die Duiwel aan die kaak gestel word en sal van die aarde af uitgewis word. Alle onverdraagsaamheid en bloedvergieting as gevolg van godsdiens sal tot die verlede behoort. Dit sal alle liefhebbers van die “lewende en ware God” in staat stel om hom in “een geloof” en “met gees en waarheid” te aanbid. Watter vrede en eenheid sal daar tog wees!—1 Tessalonisense 1:9; Efesiërs 4:5; Johannes 4:23.

MENSLIKE ONVOLMAAKTHEID SAL TOT DIE VERLEDE BEHOORT

“God self sal by hulle wees. En hy sal elke traan van hulle oë afvee, en die dood sal daar nie meer wees nie, en ook verdriet en angsgeroep en pyn sal daar nie meer wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:3, 4.

Jehovah God maak dít moontlik deur middel van sy Seun, Jesus, wat sy lewe vir die mensewêreld gegee het (Johannes 3:16). Onder Jesus se leiding  sal die mensdom tot volmaaktheid gebring word. Daar sal nie meer enige lyding wees nie, want “God self sal by hulle wees” en sal “elke traan van hulle oë afvee”. Menslike onvolmaaktheid en lyding sal binnekort tot die verlede behoort; “die regverdiges sal die aarde besit, en hulle sal vir ewig daarop woon”.—Psalm 37:29.

BOSE GEESTE SAL WEG WEES

“Hy [Jesus Christus] het die draak gegryp, die oorspronklike slang, wat die Duiwel en Satan is, en hom vir duisend jaar gebind. En hy het hom in die afgrond geslinger en dit gesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou mislei . . . nie.”—Openbaring 20:2, 3.

Alle sataniese invloed sal weg wees wanneer Satan en die demone gebind en in “die afgrond” geslinger word, wat ’n toestand van algehele onbedrywigheid voorstel. Hulle sal nie meer ’n bose invloed op menseaangeleenthede uitoefen nie. Wat ’n verligting sal dit tog wees om in ’n wêreld sonder die invloed van Satan en die bose geeste te lewe!

“DIE LAASTE DAE” SAL VERBY WEES

“Die laaste dae” sal eindig in wat Jesus die “groot verdrukking” genoem het. Hy het gesê: “Dan sal daar groot verdrukking wees soos daar sedert die begin van die wêreld tot nou toe nie plaasgevind het nie, nee, en ook nie weer sal plaasvind nie.”—Matteus 24:21.

Die verdrukking sal groot wees in die sin dat ongekende rampspoed sal plaasvind. Dit sal ’n klimaks bereik tydens “die oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, ’n oorlog wat algemener bekend is as “Armageddon”.—Openbaring 16:14, 16, voetnoot in NW.

Mense in alle wêrelddele wat lief is vir wat reg is, sien uit na die einde van hierdie goddelose stelsel van dinge. Kyk na net ’n paar van die seëninge wat onder God se Koninkryk vir hulle voorlê.

GOD SAL SELFS MEER DOEN!

“’n Groot menigte” sal tot in ’n vreedsame nuwe wêreld behoue bly: God se Woord sê dat ’n ongetelde “groot menigte” mense “uit die groot verdrukking [sal] kom” en tot in ’n regverdige nuwe wêreld behoue sal bly (Openbaring 7:9, 10, 14; 2 Petrus 3:13). Hulle sal hulle redding toeskryf aan Jesus Christus, “die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem”.—Johannes 1:29.

Goddelike onderrigting sal groot voordele meebring: In die nuwe wêreld sal “die aarde . . . beslis vol wees van die kennis van Jehovah” (Jesaja 11:9). Hierdie goddelike onderrigting sal opleiding insluit oor hoe om in vrede met alle mense en in harmonie met die omgewing te lewe. God belowe: “Ek, Jehovah, is jou God, die Een wat jou leer om jouself te bevoordeel, die Een wat jou laat loop op die weg wat jy moet bewandel.”—Jesaja 48:17.

Afgestorwe dierbares sal uit die graf verrys: Toe Jesus op die aarde was, het hy sy vriend Lasarus uit die dood opgewek (Johannes 11:1, 5, 38-44). Sodoende het hy getoon wat hy op ’n veel groter skaal onder God se Koninkryksreëling sal doen.—Johannes 5:28, 29.

Daar sal vir ewig vrede en regverdigheid wees: Onder Christus se heerskappy sal wetteloosheid tot die verlede behoort. Hoe weet ons dit? Omdat Jesus sy vermoë om harte te lees, sal gebruik om te oordeel tussen die regverdiges en die goddeloses. Diegene wat weier om hulle goddelose weë te verander, sal nie toegelaat word om in God se nuwe wêreld te lewe nie.—Psalm 37:9, 10; Jesaja 11:3, 4; 65:20; Matteus 9:4.

Ons het net ’n paar van al die Bybelprofesieë bespreek wat handel oor die wonderlike tyd wat voorlê. Wanneer God se Koninkryk oor die aarde heers, sal daar vir ewig ’n “oorvloed van vrede” wees (Psalm 37:11, 29). Al die oorsake van pyn en lyding wat die mensdom geteister het, sal uit die weg geruim wees. God het sy woord gegee dat dit sal gebeur: “Kyk! Ek maak alles nuut. . . . Hierdie woorde is betroubaar en waaragtig.”—Openbaring 21:5.

[Erkenning]

Silke Woweries/Corbis