Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Stel goeie sedelike waardes vas

Stel goeie sedelike waardes vas

Wyse ouers leer hulle kinders die Bybel se heilsame waardes

“Ek het vroeër nie volgens Bybelstandaarde gelewe nie en het dit moeilik gevind om my kinders op te lei. Maar nou is dit baie makliker omdat ek die Bybel het om my te help.”—ELIZABETH, SUID-AFRIKA.

Die uitdaging.

Portuurdruk op skool en die wêreld se lae sedelike standaarde oefen ’n kragtige invloed op gesinne uit. Om hierdie negatiewe invloed te kan weerstaan, het kinders heilsame waardes nodig. Anders sal hulle heel waarskynlik nie verantwoordelike, beginselvaste, goedgemanierde volwassenes word nie.

Wenke.

Baie enkelouers, insluitende dié wat in hierdie reeks artikels aangehaal word, wend hulle tot die Bybel vir leiding omdat hulle besef dat dit die ongeëwenaarde wysheid van God bevat. Kyk byvoorbeeld wat die Bybel sê oor die belangrikste beginsel wat ons moet toepas—die betoning van opregte liefde.

“Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, . . . hoop alles, verduur alles. Die liefde faal nooit nie.”—1 Korintiërs 13:4-8.

As ouers hierdie soort liefde openbaar, floreer hulle kinders. Colette, wat vroeër genoem is en wat in Frankryk woon, het geskryf: “Ek het dikwels vir my kinders gesê dat ek lief is vir hulle. Ek het ook vir hulle gesê dat hulle gawes van God is en dat ek dus goed na hulle moet omsien. Op hulle beurt moes hulle beleefd en respekvol wees teenoor my en hulle [nietoesighoudende] pa. Hierdie beginsels het tot ’n atmosfeer van vertroue en respek in ons huis bygedra.”—Psalm 127:3.

Anna, wat in Pole woon, het geskryf: “Wanneer daar onenigheid tussen my kinders is, herinner ek hulle daaraan dat Jesus gesê het dat ons aan ander moet doen wat ons wil hê hulle aan ons moet doen” (Matteus 7:12). Roberto, wat vroeër gemeld is, het te kampe met ’n probleem wat baie enkelouers ondervind. Hy sê: “Die kinders word blootgestel aan twee stelle waardes—joune en dié van die ander ouer. Omdat ek by Bybelse waardes bly, weet ek dat ek sekere dae of weke nie die gunstelingouer sal wees nie.” Hy sê verder: “Die ander ouer gee dalk geskenke aan die kinders in die hoop dat hulle meer van hom of haar sal hou. Hierdie soort druk is moeilik om te weerstaan, maar dit help as jy goed met jou kinders kommunikeer.”

Dit is nie altyd maklik om volgens Bybelstandaarde te lewe nie, maar die resultate is beslis die moeite werd! Sarah, ’n enkelouer in Suid-Afrika, sê: “Ek is bly dat ek my kinders met Jehovah se leiding grootgemaak het. Ja, daar is uitdagings, maar God was nog altyd daar vir ons.”