Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die ysduiker—’n Voël met unieke roepe

Die ysduiker—’n Voël met unieke roepe

DIE spookagtige huilgeluid van die ysduiker is iets wat min mense ooit vergeet. Die eensaamheid van die wildernis vind weerklank in hierdie geroep, wat gehoor kan word by afgeleë varswatermere en -riviere in Kanada, Europa en die noorde van die Verenigde State.

Die ysduiker, ’n pragtige watervoël, is die staatsvoël van Minnesota, VSA, en dit verskyn op Kanada se dollarmuntstuk. Die voël is egter ’n trekvoël en oorwinter meestal in kusgebiede wat verder suid geleë is. Waarom kan daar gesê word dat die ysduiker ’n voël met unieke roepe is?

’n Gehuil, gehoe-hoe, getril en gejodel

’n Ysduiker wat sy stem laat hoor

Ysduikers het ’n hele paar indrukwekkende roepe. Hulle onheilspellende gehuil kan saans of snags gehoor word, en die klank daarvan trek kilometers ver. ’n Minder intense roep is die gehoe-hoe, wat die voël gebruik om te kommunikeer met sy maat, kuikens en ander ysduikers op dieselfde meer. Die getril is ’n alarmsein. Dit is al beskryf as ’n “kranksinnige gelag” en is die enigste roepgeluid wat ysduikers in vlug maak.

Die gejodel is ’n roep wat net mannetjies uiter, en “dit hou blykbaar verband met die verdediging van hulle gebied”, sê die tydskrif BirdWatch Canada. “Elke mannetjie het sy kenmerkende jodelroep”, en “hoe swaarder die ysduiker, hoe dieper is die gejodel”. Wat meer is, wanneer ’n mannetjie “’n ander gebied oorneem, verander hy sy jodelroep” en “sorg hy dat sy jodelroep so veel as moontlik verskil van die vorige bewoner s’n”, sê die tydskrif.

Pragtig, behendig en lomp

Die ysduiker het ’n baie donker, byna swart, glansende groen kop, rooi oë en ’n lang, skerp swart snawel. Sy verekleed verander volgens die seisoen.

Met sy groot gewebde pote is die ysduiker ’n goeie jagter, ’n kragtige swemmer en ’n behendige duiker. Trouens, hy kan tot 60 meter diep duik en bly soms etlike minute lank onder die water!

Maar opstyg en land tel beslis nie onder die ysduiker se sterk punte nie! Omdat die voël swaar is, het hy ’n “aanloopbaan” nodig om in die lug te kom, en soms hardloop hy honderde meter op die water terwyl hy sy vlerke klap in ’n poging om op te styg. Daarom verkies die ysduiker groot mere en riviere. Wanneer hy land, nader die ysduiker die water teen ’n hoë spoed met sy pote na agter uitgestrek, asof sy “landingstoestel” onklaar geraak het. Dan doen hy ’n “buiklanding” en skeer hy oor die water totdat hy tot stilstand kom.

Die ysduiker het groot gewebde pote naby die agterkant van sy lyf, wat hom in staat stel om goed te kan swem, maar wat dit vir hom moeilik maak om te loop—en selfs te staan. Daarom bou ysduikers hulle nes op ’n plek waar hulle maklik in die water kan inglip.

’n Kuiken rus op sy ouer se rug

Albei ouers sit om die beurt op die eiers (gewoonlik twee), wat olyfkleurig is en met donker spikkels gekamoefleer is. Die eiers broei ná gemiddeld 29 dae uit. Wanneer die kuikens twee dae oud is, kan hulle swem en reeds ’n bietjie duik. Wanneer hulle moeg is, ry hulle eenvoudig op hulle ouer se rug. Ná twee of drie maande, wanneer die kleintjies kan vlieg, verlaat hulle hulle ouers.

Die ysduiker se vyande sluit arende in, asook meeue, wasbere en—hulle gevaarlikste vyand—die mens. Loodsinkers en oliestortings vergiftig die voëls. Chemiese besoedeling weens suurreën verminder die visbevolkings waarvan ysduikers afhanklik is. Die golwe wat bewegende bote maak, oorspoel hulle neste. En bouprojekte op meeroewers verdryf die skugter ysduiker uit sy broeihabitat.

Nietemin bly die getalle van die ysduiker bestendig. Daarom sal hierdie besonder pragtige voël met sy unieke roepe en komieklike maniertjies voëlliefhebbers nog jare lank bekoor.

Bladsy 16, ysduiker wat land: Spectrumphotofile; bladsy 17, ysduikerkuiken: © All Canada Photos/SuperStock; ysduiker wat roep: © Roberta Olenick/age fotostock