Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Stel duidelike perke

Stel duidelike perke

Wees ferm en bly by jou woord

“Dit is nie maklik om kinders alleen groot te maak nie—veral nie wanneer hulle tieners word en die wêreld druk op hulle uitoefen om teen hulle ouers in opstand te kom nie.”—DULCE, SUID-AFRIKA.

Die uitdaging.

Die Bybel het voorspel dat kinders oor die algemeen in “die laaste dae . . . ongehoorsaam aan ouers” sou wees.—2 Timoteus 3:1, 2.

Wenke.

Besef dat “kinders reëls en ’n rooster nodig het om te floreer” (The Single Parent Resource, deur Brook Noel). Die kinder- en gesinsielkundige Barry G. Ginsberg sê: “Verhoudings is beter en minder stresvol as duidelike perke gestel word.” Hy het bygevoeg: “Hoe duideliker die perke is, en hoe beter dit uiteengesit word, hoe makliker word verhoudings.” Hoe kan jy duidelike perke stel?

Wees ferm en bly by jou woord (Matteus 5:37). ’n Australiese studie het getoon dat kinders hulle dikwels sleg gedra as ouers nie nee kan sê nie en hulle die kinders heeltyd hulle sin gee. Die Bybel sê tereg: “’n Seun [of dogter] wat aan homself oorgelaat word, sal sy moeder in die skande steek.”—Spreuke 29:15.

Moenie toelaat dat skuldgevoelens oor jou situasie as ’n enkelouer jou ’n toegeeflike ouer maak nie. “Soms is my eerste reaksie om jammer te voel vir my twee seuns omdat hulle met net een ouer grootword”, sê Yasmin, wat vroeër aangehaal is. Maar soos ons sal sien, het sy nie toegelaat dat haar gevoelens, wat beslis nie verkeerd was nie, haar goeie oordeel oorheers nie.

Wees konsekwent. “Voorspelbaarheid en konsekwentheid wanneer dit by dissipline kom, is blykbaar belangrik om gedrags- en emosionele probleme by kinders te voorkom”, sê die American Journal of Orthopsychiatry. Yasmin sê: “Ek het saam met my seuns gaan sit en dissipline bespreek. Wanneer hulle iets verkeerds doen, probeer ek konsekwent wees. Maar ek het ook geleer om eers te luister en dan op ’n kalm manier te verduidelik hoe hulle gedrag die gesin geraak het. Eers daarna pas ek die dissipline toe waarop daar besluit is.”

Wees redelik; moenie in woede dissiplineer nie. Hoewel jy ferm moet bly by wat reg is, moet jy ook aanpasbaar wees wanneer die situasie dit regverdig. “Die wysheid van bo”—dit wil sê, van God—is “redelik”, sê Jakobus 3:17. Redelike mense tree nie oorhaastig of in woede op nie. Hulle tree ook nie altyd streng ‘volgens die reël’ op nie. Hulle dink eerder eers oor ’n saak, bid dalk selfs daaroor en kan dan op ’n kalmer en gepaster manier reageer.

Konsekwentheid, fermheid en redelikheid—tesame met jou goeie voorbeeld—sal jou help om perke te stel wat jou huis ’n ware toevlugsoord vir jou kinders sal maak.