Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

 ONDERHOUD | MASSIMO TISTARELLI

’n Ontwerper van robotte verduidelik waarom hy in God glo

’n Ontwerper van robotte verduidelik waarom hy in God glo

Professor Massimo Tistarelli is ’n wetenskaplike aan die Universiteit van Sassari, in Italië. Hy is ’n mederedakteur van drie internasionale wetenskaptydskrifte en was die mede-outeur van meer as honderd wetenskaplike werkstukke. Hy bestudeer hoe mense gesigte herken en skynbaar eenvoudige dinge doen soos om ’n bal te vang. Hy ontwerp dan optiese stelsels vir robotte—stelsels wat naboots wat ons doen. Ontwaak! het hom gevra oor sy geloof en sy werk as ’n wetenskaplike.

Wat is jou godsdiensagtergrond?

My ouers was Katolieke, maar het nie kerk toe gegaan nie. As ’n jong man het ateïsme vir my sin gemaak. Ek is geleer dat lewe deur middel van evolusie ontstaan het, en ek het dit as ’n feit aanvaar. Hoewel ek nie aan ’n persoonlike Skepper geglo het nie, het ek gemeen dat daar iets hoërs as ons moet wees. Om uit te vind wat dit kan wees, het ek Boeddhisme, Hindoeïsme en Taoïsme ondersoek, maar hulle leringe het nie my vrae beantwoord nie.

Wat het jou belangstelling in die wetenskap aangewakker?

Masjiene het my van kleins af gefassineer. Ek het selfs my elektriese speelgoed uitmekaargehaal en weer aanmekaargesit. En ek het my pa, ’n telekommunikasie-ingenieur, onophoudelik bestook met vrae oor hoe radio’s en telefone werk.

Wat het jou loopbaan as ’n wetenskaplike tot dusver behels?

Ek het elektroniese ingenieurswese aan die Universiteit van Genua gestudeer, en daarna het ek doktorale navorsing in robotontwerp gedoen. Ek het gespesialiseer in die studie van die mens se visuele stelsel en in die ontwikkeling van soortgelyke stelsels vir robotte.

Waarom het ons visuele stelsel jou belangstelling gewek?

Dit is ongelooflik ingewikkeld en bestaan uit baie meer as net die oë—dit sluit selfs die vermoë in  om te interpreteer wat ons sien. Neem byvoorbeeld wat gebeur wanneer jy ’n bal vang. Terwyl jy hardloop om dit te vang, word ’n beeld van die bal deur die lens van jou oog op jou retina gefokus. Die manier waarop hierdie beeld oor jou retina beweeg, word bepaal deur die beweging van die bal sowel as dié van jou oog. Gewoonlik hou jy natuurlik jou oog op die bal. Die beeld staan dan stil op jou retina terwyl die agtergrond “beweeg”.

Terselfdertyd bereken jou visuele stelsel teen watter spoed en in watter rigting die bal beweeg. Verbasend genoeg begin die berekeninge reg daar in die retina terwyl jou oog beraam hoe die bal in verhouding tot die agtergrond sal beweeg. Jou optiese senuwee dra die impulse van die retina dan oor na jou brein, wat die inligting verder ontleed en jou in staat stel om die bal te vang. Die hele proses is ongelooflik kompleks.

Wat het jou oortuig om aan ’n Skepper te glo?

In 1990 het ek ’n paar maande deurgebring in Dublin, Ierland, om navorsing te doen by die Trinity-kollege. Terwyl ek en my vrou, Barbara, op pad huis toe was, het ons gepraat oor die toekoms van ons kinders. Ons het ook besluit om my suster te besoek wat een van Jehovah se Getuies is. My suster het vir my die boek gegee Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, uitgegee deur die Getuies. Die deeglike navorsing wat gedoen is om hierdie boek saam te stel, het my beïndruk. Ek het skielik besef dat ek evolusie aanvaar het sonder om werklik die bewyse te ondersoek. Ek het byvoorbeeld aangeneem dat evolusie goed gestaaf word deur die fossielverslag. Maar dit is nie die geval nie. Ja, hoe meer ek evolusie ondersoek het, hoe meer het ek oortuig geraak dat die teorie eerder gebaseer is op aanmatigende aannames as op feite.

Ek het nagedink oor my werk met robotte. Wie se ontwerpe boots ek na?

Toe het ek nagedink oor my werk met robotte. Wie se ontwerpe boots ek na? Ek sal nooit ’n robot kan ontwerp wat ’n bal kan vang soos ons nie. ’n Robot kan geprogrammeer word om ’n bal te vang, maar slegs onder noukeurig beheerde toestande. ’n Robot kan dit nie doen onder toestande waarvoor dit nie geprogrammeer is nie. Ons vermoë om te leer, is ver verhewe bo dié van ’n masjien—en blote masjiene het ontwerpers! Hierdie feit is net een van baie wat my tot die slotsom laat kom het dat ons ’n Ontwerper moet hê.

Waarom het jy een van Jehovah se Getuies geword?

Dit was deels omdat ek en Barbara van hulle deeglike studiemetodes gehou het. Ek was veral beïndruk met die navorsing wat hulle vir hulle publikasies doen. Deeglike navorsing is belangrik vir mense soos ek, wat daarvan hou om op die besonderhede van ’n saak in te gaan. Ek het byvoorbeeld baie begin belangstel in die talle profesieë, of voorspellings, in die Bybel. My studie hiervan het my oortuig dat die Bybel werklik van God kom. In 1992 is ek en Barbara as Jehovah se Getuies gedoop.

Het jou studie van die wetenskap jou geloof laat verswak?

Nee, die wetenskap het eerder my geloof versterk. Neem byvoorbeeld ons vermoë om gesigte te herken. ’n Baba kan dit binne ure ná geboorte doen. Ek en jy kan iemand wat ons ken, onmiddellik herken, al is hy in ’n skare mense. Ons kan dalk selfs onderskei wat sy gemoedstemming is. Maar ons is miskien heeltemal onbewus daarvan dat hierdie herkenningsproses behels dat ’n ontsaglike hoeveelheid inligting teen ’n ongelooflike spoed verwerk moet word.

Ja, ek is vas oortuig daarvan dat ons visuele stelsel ’n kosbare gawe van Jehovah God is. Sy gawes, wat die Bybel insluit, beweeg my om hom te dank en met ander oor hom te praat. My sin vir geregtigheid oortuig my daarvan dat hy beslis die lof vir sy skeppingswerke verdien.