Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ons beskou die wêreld

Ons beskou die wêreld

Spanje

’n Groep wetenskaplikes meen dat mensebedrywighede dalk ’n rede was vir die aardbewing in 2011 in Lorca, in die suide van Spanje, waarin nege mense gesterf het en tientalle beseer is. Die geoloë het ’n verband gevind tussen die dodelike aardbewing en gebiede waar groot hoeveelhede ondergrondse water vir besproeiing uitgepomp is.

China

In 2012 het toeriste uit China R918 miljard aan internasionale reise bestee. Volgens die VN se Wêreldtoerismeorganisasie is dit die eerste keer dat China die grootste besteder in internasionale toerisme iswaarna Duitsland en die Verenigde State volg. Internasionale toeriste uit elkeen van hierdie twee lande het omtrent R756 miljard bestee.

Japan

BMJ, ’n Britse mediese tydskrif, het berig gelewer oor ’n studie wat oor ’n tydperk van gemiddeld 23 jaar onder bykans 68-000 mense in Japan gedoen is. Navorsers het gevind dat die lewensduur van vroue wat tussen 1920 en 1945 gebore is en begin rook het voordat hulle 20 was, gemiddeld tien jaar korter was as dié van vroue wat nooit gerook het nie; mans se lewensduur was agt jaar korter.

Mauritanië

Die invoer, vervaardiging en gebruik van plastieksakke is verbied om see- en landdiere te beskerm, wat kan sterf as hulle dit inkry. Die regering spoor mense aan om eerder bioafbreekbare plaasvervangers te gebruik.

Wêreld

Versekeringsverliese weens rampe wat met die weer verband hou, beloop gemiddeld R450 miljard per jaar. Hierdie verliese het, as inflasie bygereken word, sedert die 1980’s elke dekade meer as verdubbel.