Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

HOE DIE UITDAGING HEELTEMAL WEGGENEEM SAL WORD

Onder God se Koninkryk sal daar ’n “oorvloed van vrede” wees

Onder God se Koninkryk sal daar ’n “oorvloed van vrede” wees

Binnekort sal die langverwagte Koninkryk van God – ’n wêreldregering wat deur God gevorm is – sorg dat daar oral op die aarde vrede en eenheid sal wees. Daar sal ’n “oorvloed van vrede” wees, belowe Psalm 72:7. Maar wanneer sal die Koninkryk oor die hele aarde begin regeer? Hoe sal dit beheer oorneem? En hoe kan hierdie Koninkryk jou bevoordeel?

WANNEER SAL GOD SE KONINKRYK KOM?

Die Bybel het ’n hele paar belangrike gebeure voorspel wat sou wys dat God se Koninkryk naby is. Al hierdie gebeure vorm saam ’n “teken” en dit sluit dinge in soos oorloë oor die hele wêreld, hongersnood, siekte, baie aardbewings en al hoe meer wetteloosheid. – Matteus 24:3, 7, 12; Lukas 21:11; Openbaring 6:2-8.

Nog ’n profesie sê: “Daar [sal] in die laaste dae kritieke tye . . . wees wat moeilik is om deur te kom. Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, . . . ongehoorsaam aan ouers, ondankbaar, dislojaal, sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, . . . opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God” (2 Timoteus 3:1-4). Daar was nog altyd mense met sulke eienskappe. Maar vandag is die meeste mense so.

Hierdie profesieë het in 1914 in vervulling begin gaan. Geskiedkundiges, politikusse en skrywers het opgemerk hoeveel die wêreld ná daardie jaar verander het. Byvoorbeeld, die Deense geskiedkundige Peter Munch het geskryf: “Die begin van die oorlog in 1914 is die groot keerpunt in die geskiedenis van die mens. Van ’n belowende tydperk van vooruitgang . . . het ons ’n eeu van rampspoed, verskrikking en haat binnegegaan, met onsekerheid oral om ons.”

Maar die goeie nuus is dat hierdie toestande soos die storm voor die stilte is. Hierdie toestande wys dat die Koninkryk binnekort oor die hele aarde sal begin regeer. Toe Jesus oor die teken van die einde gepraat het, het hy ook gesê dat iets positiefs sou gebeur. Hy het gesê: “Hierdie goeie nuus van die koninkryk sal in die hele bewoonde aarde verkondig word as ’n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.” – Matteus 24:14.

Hierdie goeie nuus is die hooftema van die boodskap van Jehovah se Getuies. Hulle hoofpublikasie word Die Wagtoring – Kondig Jehovah se Koninkryk aan genoem. Dit bespreek gereeld die wonderlike dinge wat God se Koninkryk vir die mens en die aarde sal doen.

HOE SAL GOD SE KONINKRYK BEHEER OORNEEM?

Die antwoord sluit die volgende vier belangrike feite in:

  1. Die Koninkryk sal nie deur vandag se politieke leiers beheer of verteenwoordig word nie.

  2. Die wêreld se politieke leiers sal probeer om aan hulle magsposisie vas te klou en sal teen God se Koninkryk veg. – Psalm 2:2-9.

  3. God se Koninkryk sal die politieke regerings wat aanhou om die mens te onderdruk, moet vernietig (Daniël 2:44; Openbaring 19:17-21). Hierdie laaste wêreldoorlog word Armageddon genoem. – Openbaring 16:14, 16.

  4. Almal wat gewillig is om hulle aan God se Koninkryk te onderwerp, sal gedurende Armageddon beskerm word en in ’n vreedsame nuwe wêreld woon. Die Bybel noem hierdie mense “’n groot menigte”, en daar sal moontlik miljoene van hulle wees. – Openbaring 7:9, 10, 13, 14.

HOE KAN DIE KONINKRYK JOU BEVOORDEEL?

Persone wat onder God se Koninkryk wil lewe, moet eers God en sy standaarde leer ken. Jesus het tot God gebid en gesê: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus.” – Johannes 17:3.

Wanneer mense Jehovah God as ’n werklike Persoon leer ken, help dit hulle op baie maniere. Kyk na net twee voordele: Eerstens, hulle bou sterk geloof in hom op. Hierdie geloof, wat op bewyse gegrond is, oortuig hulle dat God se Koninkryk regtig bestaan en dat dit binnekort sal begin regeer (Hebreërs 11:1). Tweedens, hulle word al hoe liewer vir God en vir ander mense. Liefde vir God spoor hulle aan om hom uit die hart te gehoorsaam. Liefde vir ander mense beweeg hulle om Jesus se woorde toe te pas wat soms die Goue Reël genoem word. Dit sê: “Net soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.” – Lukas 6:31.

Soos ’n liefdevolle pa, wil ons Skepper net die beste vir ons hê. Hy wil hê dat ons “die werklike lewe” moet geniet, soos die Bybel dit noem (1 Timoteus 6:19). Hoe ons vandag lewe, is nie “die werklike lewe” nie. Miljoene mense se lewe is vol probleme en gevare en hulle sukkel om te oorleef. Kom ons kyk na ’n paar van die wonderlike dinge wat God se Koninkryk vir sy mense sal doen om ’n idee te kry van hoe daardie “werklike lewe” sal wees.

Wanneer die Koninkryk regeer, sal mense veilig wees en oorgenoeg kos hê