Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Ouers leer hulle kinders hoe om lief te hê deur hulle voorbeeld

’N MANIER OM DIE UITDAGING TE OORKOM

’n Opvoeding oor wat reg en verkeerd is

’n Opvoeding oor wat reg en verkeerd is

Terwyl ’n groep tienerseuns op ’n skooluitstappie was, is hulle daarvan beskuldig dat hulle ’n ander skoolseun seksueel aangerand het. Hulle almal was studente by ’n gerespekteerde privaat skool in Kanada. Nadat dit gebeur het, het Leonard Stern in die koerant Ottawa Citizen geskryf: “Al is jongmense intelligent, ryk en geleerd, sal dit hulle nie keer om slegte dinge te doen nie.”

Stern het ook gesê: “’n Mens sou dink dat die belangrikste ding vir ouers is om hulle kinders te leer wat reg en verkeerd is. Maar dit lyk asof die meeste ouers meer bekommerd daaroor is dat hulle kinders goed doen op skool en ’n goeie werk kry sodat hulle baie geld kan maak.”

Om ’n skoolopleiding te kry is belangrik. Maar selfs die beste opvoeding wat die wêreld kan bied, kan nie ’n persoon help om teen verkeerde begeertes of slegte neigings te veg nie. Waar kan ons dan ’n opvoeding kry wat ons met hierdie probleme kan help en wat ons goeie waardes kan leer?

’N OPVOEDING WAT MENSE GOEIE WAARDES EN EIENSKAPPE LEER

Die Bybel is soos ’n spieël. Wanneer ons daarin kyk, kan ons ons eie beperkings en swakhede duideliker sien (Jakobus 1:23-25). Maar die Bybel doen selfs meer as dit. Dit help ons om die nodige veranderinge te maak, met ander woorde om eienskappe aan te leer wat ware vrede en eenheid bevorder. Hierdie eienskappe sluit goedheid, vriendelikheid, geduld, selfbeheersing en liefde in. Liefde word selfs “’n volmaakte band van eenheid” genoem (Kolossense 3:14). Hoekom is liefde so spesiaal? Let op wat die Bybel oor hierdie eienskap sê.

  • “Die liefde is lankmoedig en goedhartig. Die liefde is nie jaloers nie, dit praat nie groot nie, raak nie opgeblase [van trots] nie, gedra hom nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, raak nie ergerlik nie. Dit hou nie boek van die kwaad nie. Dit is nie bly oor onregverdigheid [slegte dinge] nie, maar is bly saam met die waarheid. Dit verdra alles, . . . verduur alles. Die liefde faal nooit nie.” – 1 Korintiërs 13:4-8.

  • “Die liefde doen die naaste geen kwaad aan nie.” – Romeine 13:10.

  • “Bo alles moet julle intense liefde vir mekaar hê, want die liefde bedek ’n menigte sondes.” – 1 Petrus 4:8.

Hoe voel jy wanneer jy saam met mense is wat vir jou lief is? Veilig? Kalm? Ontspanne? Ja, jy weet dat hulle net die beste vir jou wil hê en dat hulle nooit iets aspris sal doen om jou seer te maak nie.

Liefde kan mense ook beweeg om opofferings te maak. Hulle sal selfs hulle lewe verander sodat dit ander bevoordeel. Byvoorbeeld, toe ’n man wat ons George sal noem, ’n oupa geword het, wou hy baie graag tyd saam met sy kleinseun deurbring. Maar daar was ’n probleem. George het baie gerook, en sy skoonseun wou nie hê dat hy naby die baba moes rook nie. Wat het George toe gedoen? Al het hy 50 jaar lank gerook, het hy opgehou sodat hy saam met sy kleinseun kon wees. Ja, liefde het groot krag!

Die Bybel help ons om baie goeie eienskappe aan te leer, soos goedheid, vriendelikheid en veral liefde

Liefde is ’n eienskap wat ons kan aanleer. Ouers speel ’n groot rol daarin om hulle kinders te leer hoe om ander lief te hê. Hulle gee hulle kinders kos en beskerm en help hulle wanneer hulle seerkry of siek word. Goeie ouers praat met hulle kinders en leer hulle. Hulle dissiplineer ook hulle kinders en leer hulle beginsels oor wat reg en verkeerd is. En goeie ouers stel die regte voorbeeld en word rolmodelle vir hulle kinders.

Maar ongelukkig doen party ouers nie wat van hulle verwag word nie. Beteken dit dat hulle kinders nooit goeie mense sal wees nie? Glad nie! Selfs ouer mense, insluitende dié wat nie uit goeie huise kom nie, het ongelooflike veranderinge in hulle lewe gemaak en liefdevolle en betroubare mense geword. Soos ons in die volgende artikel sal sien, sluit dit selfs mense in wat ander gedink het nooit kon verander nie!