Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Net soos ’n boot ’n seil nodig het, het ’n kind dissipline nodig om hom in die regte rigting te help

VIR OUERS

6: Dissipline

6: Dissipline

WAT DIT BETEKEN

Om iemand te dissiplineer beteken om hom te leer of om hom in die regte rigting te help. Wanneer dit by kinders kom, sal ons hulle dalk moet reghelp as hulle iets verkeerds gedoen het. Dit sal ook beteken dat ons hulle goeie standaarde leer wat hulle sal help om van die begin af goeie besluite te maak.

HOEKOM DIT BELANGRIK IS

Deesdae dissiplineer ouers hulle kinders al hoe minder. Hulle is bang dat dit hulle kinders se selfbeeld sal afbreek. Maar wyse ouers maak reëls wat nie te streng is nie en leer hulle kinders om daardie reëls te gehoorsaam.

“Kinders het moets en moenies nodig wanneer hulle grootword. Dit sal hulle help om later gebalanseerd te wees. ’n Kind wat nie gedissiplineer word nie, is soos ’n skip wat deur niemand bestuur word nie. Dit sal op die ou end net op die rotse beland of selfs sink.” — Pamela.

WAT JY KAN DOEN

Wees konstant. Moenie dat jou kind net daarmee wegkom as hy jou reëls breek nie. Hy moet weet dat daar gevolge is as hy ongehoorsaam is. Maar prys hom wanneer hy wel doen wat jy van hom gevra het.

“Ek prys my kinders gereeld wanneer hulle gehoorsaam is, veral omdat gehoorsaamheid in vandag se wêreld so skaars is soos hoendertande. En omdat hulle gereeld geprys word, aanvaar hulle raad makliker.” — Christine.

BYBELWAARHEID: “Wat ’n mens saai, dit sal hy ook maai.” — Galasiërs 6:7.

Wees redelik. Wanneer jy jou kind dissiplineer, neem in ag hoe oud hy is, hoeveel hy verstaan en hoe ernstig die fout is. Dit is gewoonlik die beste as die straf hand aan hand gaan met wat hy verkeerd gedoen het. Byvoorbeeld, as sy selfoon die probleem is, vat dit vir ’n ruk van hom af weg of beperk hoe hy dit mag gebruik. Maar moenie ’n groot ding maak van iets kleins net omdat dit jou irriteer nie.

“Ek probeer eers kyk of my kind aspris ongehoorsaam was en of dit net ’n onskuldige fout was. As jou kind net eenkeer ’n fout maak, hoef jy dalk net met hom daaroor te praat. Maar as jou kind oor en oor dieselfde fout maak, het hy dalk meer hulp nodig.” — Wendell.

BYBELWAARHEID: “Moenie julle kinders vertoorn [of, kwaad maak] nie, sodat hulle nie mismoedig word nie.” — Kolossense 3:21.

Wees liefdevol. As kinders weet dat hulle ouers hulle uit liefde dissiplineer, sal hulle dit makliker aanvaar.

“Wanneer ons seun foute gemaak het, het ons hom herinner aan hoe trots ons is op al die goeie besluite wat hy al gemaak het. Ons het vir hom verduidelik dat hierdie fout nie sy naam deur die modder sou sleep nie. Hy moet net doen wat hy kan om dinge reg te maak en weet dat ons altyd daar is om hom te help.” — Daniël.

BYBELWAARHEID: Die liefde is geduldig en goedhartig. — 1 Korintiërs 13:4.