Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Kommunikasie is die brug wat jou en jou kind bymekaarbring

VIR OUERS

5: Kommunikasie

5: Kommunikasie

WAT DIT BETEKEN

Ware kommunikasie is wanneer jy en jou kind vir mekaar sê wat julle dink en voel. Dit is iets wat van twee kante af moet kom.

HOEKOM DIT BELANGRIK IS

Dit kan baie moeilik wees om met tieners te kommunikeer. Die boek Breaking the Code sê: “Jy kan seker nog onthou toe jy die belangrikste persoon in jou kind se lewe was. . . . Dit was asof jy enige tyd agter die skerms kon inloer om te sien wat in jou kind se lewe aangaan. Nou kan jy maar net hoop jy kry ’n sitplek iewers in die gehoor, en dit sal seker nie eers ’n baie goeie sitplek wees nie.” Onthou dat jou kind jou in hierdie tyd nodig het, al lyk dit dalk of hy nie wil praat nie!

WAT JY KAN DOEN

Wees reg om te luister wanneer jou kind wil praat. Wees bereid om selfs laat in die aand te gesels.

“Jy is dalk lus om te sê: ‘Regtig, nóú wil jy praat? Ons was dan die hele dag saam!’ Maar hoe kan ons kla as ons kind bereid is om vir ons te sê hoe hy voel? Is dit nie wat elke ouer graag wil hê nie?” — Lisa.

“Ek geniet my slaap, maar van die beste gesprekke wat ek al met my tieners gehad het, was ná 12 in die aand.” — Herbert.

BYBELWAARHEID: “Laat elkeen aanhou om, nie sy eie voordeel nie, maar dié van die ander persoon te soek.” — 1 Korintiërs 10:24.

Moenie dat jou aandag afgelei word nie. ’n Pa erken: “Partykeer besef ek dat ek besig is om aan ander dinge te dink terwyl my kinders met my praat. Ek kan hulle nie om die bos lei nie, hulle kan sien dat ek nie luister nie!”

Sit die TV af of sit jou foon neer as dit jou aandag aftrek terwyl jou kind met jou praat. Luister mooi na wat jou kind sê. Gee hom jou volle aandag, al klink sy probleem nie vir jou so ernstig nie.

“Ons kinders moet weet dat hulle gevoelens vir ons belangrik is. As hulle dit nie weet nie, sal hulle nie vir ons sê hoe hulle voel nie en dalk iewers anders gaan hulp soek.” — Maranda.

“Moenie oorreageer nie, al is jou kind se redenasies heeltemal verkeerd.” — Anthony.

BYBELWAARHEID: “Skenk dus aandag aan hoe julle luister.” — Lukas 8:18.

Gebruik elke geleentheid. Kinders praat partykeer makliker met hulle ouers as hulle nie hulle ouers in die oë hoef te kyk nie.

“Ons gebruik die kans om te gesels wanneer ons in die kar ry. Ons het al goeie gesprekke gehad terwyl ons langs mekaar gesit het, eerder as om mekaar in die oë te kyk.” — Nicole.

Nog ’n goeie tyd wanneer jy en jou kind lekker kan gesels, is wanneer julle saam eet.

“Wanneer ons in die aand saam sit en eet, gesels ons oor hoe ons dag was. Ons vertel mekaar wat die beste en die slegste deel van ons dag was. Dit help ons om nader aan mekaar te kom en herinner ons dat ons altyd daar is vir mekaar.” — Robin.

BYBELWAARHEID: ‘Wees gou om te hoor en stadig om te praat.’ — Jakobus 1:19.