Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat die heelal ons leer

Wat die heelal ons leer

Die heelal hou aan om sterrekundiges te verbaas. En hulle het nog nooit beter toerusting gehad om dit te studeer nie. Wat het hulle ontdek?

Die heelal is georganiseerd. Volgens ’n artikel in die tydskrif Astronomy “is sterrestelsels op ’n georganiseerde manier gerangskik en nie per toeval versprei nie”. Hoe is dit moontlik? Wetenskaplikes glo dat dit moontlik is as gevolg van ’n onsigbare stof wat donker materie genoem word. Donker materie is “’n soort onsigbare raamwerk waarin . . . sterrestelsels, sterrestelselswerms en superswerms . . . gerangskik en ondersteun word”.

Hoe het die heelal so georganiseerd geword? Is dit moontlik dat sulke orde net vanself gebeur het? Kyk wat die oorlede Allan Sandage gesê het. Hy is bekend as “een van die beste en invloedrykste sterrekundiges in die afgelope 100 jaar”, en hy het in God geglo.

Hy het gesê: “Dit maak nie vir my sin dat sulke orde uit chaos ontstaan het nie. Iets moes dit georganiseer het.”

Die heelal is presies ingestel om lewe te onderhou. Kom ons kyk na wat wetenskaplikes swak kernkrag noem. As gevolg van hierdie krag brand ons son teen ’n konstante tempo. As die krag swakker was, sou die son nooit gevorm het nie. As dit sterker was, sou die son al lankal verdwyn het.

Swak kernkrag is net een van verskeie kragte wat presies ingestel is om lewe te onderhou. Die wetenskapskrywer Anil Ananthaswamy sê dat as net een van hierdie kragte anders was, “sou sterre, planete en sterrestelsels nooit gevorm het nie. Dit sou onmoontlik gewees het vir lewe om te bestaan.”

Die heelal het ’n perfekte woonplek vir mense. Die aarde het die regte atmosfeer, die regte hoeveelheid water en ’n maan wat die perfekte grootte is om die aarde in plek te hou. National Geographic sê dat die manier hoe die natuurlike omgewing en lewende dinge op aarde saamwerk, hierdie planeet die enigste een maak wat net reg is vir mense om op te lewe. a

Volgens een skrywer is ons sonnestelsel “in die middel van nêrens” in ons sterrestelsel. Maar die feit dat ons so afgesonder is, maak lewe op aarde moontlik. As ons nader aan ander sterre was – in die middel van of aan die rand van ons sterrestelsel – sou daar te veel straling gewees het vir lewe om te bestaan. Maar ons aarde is in die deel van die sterrestelsel wat net reg is vir lewe.

Die fisikus Paul Davies het as gevolg van sy wetenskaplike kennis van die heelal en die wette daarvan tot die volgende slotsom gekom: “Ek kan nie glo dat ons bestaan in hierdie heelal ’n blote toeval, ’n ongeluk van die geskiedenis of ’n toevallige afwyking in die groot kosmiese drama is nie. . . . Ons is werklik bedoel om hier te wees.” Davies leer nie ander dat God die heelal en mense geskep het nie, maar wat dink jy? Dit lyk asof die heelal en die aarde geskep is vir lewe om te bestaan. Kan dit wees omdat dit so ontwerp is?

a Hierdie artikel in National Geographic het nie bedoel om die idee te gee dat God die aarde en mense geskep het nie. Dit het eenvoudig gesê dat die aarde perfek is vir mense om op te lewe.