Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Hoekom die antwoord saak maak

Hoekom die antwoord saak maak

Hoekom maak dit saak of daar ’n Skepper is? As die bewyse in hierdie tydskrif jou oortuig dat ’n almagtige God bestaan, dan sal jy dalk na die bewyse wil kyk dat die Bybel deur hom geïnspireer is. En as jy vertrou wat die Bybel sê, dan kan jy op die volgende maniere gehelp word.

Jy sal jou lewe meer geniet

DIE BYBEL SÊ: “[God het] goeie dinge [gedoen]. Hy het vir julle reën uit die hemel en vrugbare seisoene gegee, en hy het vir julle oorgenoeg voedsel en ’n hart vol blydskap gegee.” – Handelinge 14:17.

WAT DIT BETEKEN: Alles wat jy in die natuur geniet, is ’n geskenk van die Skepper. Jy sal hierdie geskenke selfs meer waardeer wanneer jy uitvind hoeveel die Gewer daarvan vir jou omgee.

Jy sal betroubare raad kry wat jou nou kan help

DIE BYBEL SÊ: “Jy [sal] verstaan wat reg en regverdig is en wat die goeie weg is.” – Spreuke 2:9.

WAT DIT BETEKEN: Omdat God ons geskep het, weet hy wat ons nodig het om gelukkig te wees. Wanneer jy die Bybel lees, kan jy baie dinge leer wat jou kan help.

Jy sal antwoorde op jou vrae kry

DIE BYBEL SÊ: “Jy sal God leer ken.” – Spreuke 2:5.

WAT DIT BETEKEN: Wanneer jy weet dat daar ’n Skepper is, kan dit jou help om antwoorde op baie belangrike vrae te kry, soos: Wat is die doel van die lewe? Hoekom kry so baie mense swaar? Wat gebeur wanneer ons sterf? Jy kan bevredigende antwoorde in die Bybel vind.

Jy sal hoop vir die toekoms kry

DIE BYBEL SÊ: “‘Ek weet goed wat ek vir julle in gedagte het,’ sê Jehovah. ‘Ek wil julle vrede gee, nie rampspoed nie. Ek wil julle ’n toekoms en ’n hoop gee.’” – Jeremia 29:11.

WAT DIT BETEKEN: God belowe dat hy in die toekoms ’n einde sal maak aan slegte dinge, swaarkry en selfs die dood. Wanneer jy op God se beloftes vertrou, sal jou hoop in so ’n toekoms jou help om alledaagse probleme met moed aan te pak.