Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Wat die Bybel vir ons sê

Wat die Bybel vir ons sê

“Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde in die tyd toe hulle geskep is” (Genesis 2:4). Met hierdie woorde verduidelik die Bybel hoe ons planeet ontstaan het. Stem die Bybel ooreen met wetenskaplike feite? Kyk na ’n paar voorbeelde.

In die begin: Die fisiese hemele en aarde word geskep

Het die heelal nog altyd bestaan?

Genesis 1:1 sê: “In die begin het God die hemel en die aarde geskep.”

Voor omtrent 1950 het heelwat belangrike wetenskaplikes geglo dat die heelal nog altyd bestaan het. Maar as gevolg van onlangse ontdekkings, erken die meeste wetenskaplikes nou dat ons heelal wel ’n begin gehad het.

Hoe het die aarde oorspronklik gelyk?

Genesis 1:2, 9 sê dat die aarde “onbewoonbaar en leeg” en met water bedek was toe dit eers geskep is.

Wetenskaplikes stem saam met hierdie beskrywing. Die bioloog Patrick Shih sê dat ons planeet “aan die begin ’n atmosfeer sonder suurstof gehad het waar niks of niemand kon asemhaal nie . . . en dat dit baie vreemd gelyk het”. Die tydskrif Astronomy sê: “Nuwe navorsing gee te kenne dat die Aarde aan die begin ’n wêreld vol water was met min of geen land in sig nie.”

Hoe het ons atmosfeer oor tyd verander?

Genesis 1:3-5 wys dat toe lig eers die atmosfeer deurgedring het, kon die bron daarvan nie van die aarde se oppervlak af gesien word nie. Eers later sou die son en die maan duidelik van die aarde af gesien kon word. – Genesis 1:14-18.

Die Bybel sê nie dat alle lewe op aarde in ses letterlike dae van 24 uur elk geskep is nie

Die Smithsonian-omgewingsnavorsingsentrum sê dat daar eers net gedempte lig deur ons atmosfeer kon skyn wat die aarde bereik het. Dit sê: “Metaandruppeltjies in die lug het die pas gevormde Aarde bedek.” Later “het die metaanmistigheid verdwyn, en die lug het blou geword”.

In watter volgorde het lewe op aarde ontstaan?

Genesis 1:20-27 sê dat visse, voëls, landdiere en uiteindelik mense geskep is. Wetenskaplikes glo dat die eerste vis lank voor die eerste soogdier ontstaan het en dat mense baie later ontstaan het.

Die Bybel sê nie dat lewende dinge nie oor tyd kan verander nie

Wat sê die Bybel nie?

Party mense sê dat die Bybel nie saamstem met wat wetenskaplikes ontdek het nie. Maar sulke idees ontstaan omdat mense nie eintlik verstaan wat die Bybel regtig sê nie.

Die Bybel sê nie dat die heelal of die aarde net 6 000 jaar oud is nie. Dit sê eerder dat die aarde en die heelal “in die begin” geskep is (Genesis 1:1). Die Bybel sê nie presies hoe lank gelede dit gebeur het nie.

Die Bybel sê nie dat alle lewe op aarde in ses letterlike dae van 24 uur elk geskep is nie. Dit gebruik eerder die woord “dag” om na ’n tydperk te verwys. Dit sê byvoorbeeld dat die skepping van ons planeet en die lewe daarop gebeur het in die tydperk wat genoem word “die dag toe Jehovah a God die aarde en die hemel gemaak het” (Genesis 2:4). Dit sluit die ses “dae” van die skepping in waarna Genesis hoofstuk 1 verwys. So elkeen van die ses “dae” gedurende die tyd toe God die aarde vir lewe voorberei het en lewe geskep het, kan baie lang tydperke wees.

Die Bybel sê nie dat lewende dinge nie oor tyd kan verander nie. Die boek Genesis sê dat diere “volgens hulle soorte” geskep is (Genesis 1:24, 25). Die Bybelwoord “soorte” is nie ’n wetenskaplike term nie, maar dit lyk of dit verwys na ’n breë afdeling van lewensvorme. So ’n enkele “soort” kan baie spesies of ’n verskeidenheid insluit. Hierdie bewoording gee die idee dat daar oor tyd veranderinge kan plaasvind in die verskeidenheid en die tipe spesies wat in dieselfde gemeenskap lewe.

Wat dink jy?

Soos ons hierbo gesien het, verduidelik die Bybel op ’n eenvoudige en akkurate manier hoe die heelal begin het, hoe die aarde aan die begin gelyk het en hoe lewe ontstaan het. Kan dit wees dat die Bybel ook die Een wat hierdie dinge geskep het, akkuraat geïdentifiseer het? Die Encyclopædia Britannica sê: “Die oorsprong van lewe as gevolg van ’n bonatuurlike gebeurtenis stem oor die algemeen ooreen met moderne wetenskaplike kennis.” b

a Volgens die Bybel is God se naam Jehovah.

b Die Encyclopædia Britannica bevorder nie die idee dat lewe geskep is nie.