Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Die skepping openbaar die lewende God

Die skepping openbaar die lewende God

“U is waardig, Jehovah, ja, ons God, om die heerlikheid . . . te ontvang, want u het alles geskep.”—OP. 4:11.

1. Wat moet ons doen om seker te maak dat ons geloof sterk bly?

BAIE mense sê dat hulle net aan dinge glo wat hulle met hulle eie oë kan sien. Hoe kan ons sulke mense help om geloof in Jehovah te ontwikkel? Die Bybel sê immers dat ‘geen mens God ooit gesien het nie’ (Joh. 1:18). Hoe kan ons dus seker maak dat ons geloof in die “onsigbare God”, Jehovah, sterk bly? (Kol. 1:15). Die eerste stap is om leringe te identifiseer wat die waarheid oor Jehovah vertroebel. Dan moet ons die Bybel op vaardige wyse gebruik om enige redenasies omver te werp “wat teen die kennis van God opgerig word”.—2 Kor. 10:4, 5.

2, 3. Wat is twee leerstellings wat mense vir die waarheid van God verblind?

2 Een wydverspreide valse lering wat mense vir die waarheid oor God verblind, is die evolusieleer. Hierdie menslike redenasie weerspreek die Bybel en beroof mense van hoop. Die evolusieleer voer basies aan dat alle lewe vanself ontstaan het; dit gee dus te kenne dat die lewe geen doel het nie.

3 Aan die ander kant leer fundamentaliste van die Christendom dat die heelal, insluitende ons aarde en alle lewe daarop, net ’n paar duisend jaar oud is. Voorstanders van hierdie leerstelling—wat as die skeppingsleer bekend staan—het dalk groot agting vir die Bybel, maar hulle beweer dat God alles net ’n paar duisend jaar gelede binne ses dae van 24 uur geskep het. Hulle verwerp geloofwaardige wetenskaplike bewyse wat hulle beskouing weerspreek. Gevolglik tas die skeppingsleer in werklikheid die Bybel se geloofwaardigheid aan, en dit laat dit onredelik en onakkuraat lyk. Mense wat sulke beskouings bevorder, herinner ons moontlik aan party in die eerste eeu wat ’n ywer vir God gehad het, “maar nie ooreenkomstig juiste kennis nie” (Rom. 10:2). Hoe kan ons God se Woord gebruik om hierdie “sterk verskanste” leerstellings, die evolusieleer en die skeppingsleer, omver te werp? * Ons kan dit net doen as ons ons inspan om juiste kennis in te neem van wat die Bybel leer.

GELOOF IS GEBASEER OP BEWYSE EN GRONDIGE REDENASIES

4. Waarop moet ons geloof gebaseer wees?

4 Die Bybel leer ons om kennis as ’n skat te bewaar (Spr. 10:14). Jehovah wil hê dat ons geloof in hom gebaseer moet wees op bewyse en grondige redenasies, nie op mensefilosofieë of godsdienstradisies nie. (Lees Hebreërs 11:1.) Om sterk geloof in God op te bou, moet ons eers oortuig wees dat Jehovah bestaan. (Lees Hebreërs 11:6.) Ons kom nie deur wensdenkery tot hierdie gevolgtrekking nie, maar deur die feite te ondersoek en ons “denkvermoë” te gebruik.—Rom. 12:1.

5. Wat is een rede waarom ons oortuig kan wees dat God bestaan?

5 Die apostel Paulus gee een rede waarom ons oortuig kan wees dat God bestaan, al kan ons hom nie sien nie. Paulus het aangaande Jehovah geskryf: “Sy onsigbare eienskappe word van die wêreld se skepping af duidelik gesien, omdat hulle waargeneem word in die dinge wat gemaak is, ja, sy ewige krag en Godheid” (Rom. 1:20). Hoe kan jy iemand wat aan God se bestaan twyfel, help om te besef dat Paulus se geïnspireerde woorde waar is? ’n Paar van die volgende bewyse uit die skepping wat ons Skepper se krag en wysheid openbaar, kan nuttig wees.

GOD SE KRAG WORD DUIDELIK IN DIE SKEPPING GESIEN

6, 7. Hoe word Jehovah se krag geopenbaar in twee skerms wat ons beskerm?

6 Jehovah se krag word geopenbaar in twee skerms wat ons beskerm—die aarde se atmosfeer en sy magneetveld. Byvoorbeeld, die atmosfeer voorsien nie net vir ons lug sodat ons kan asemhaal nie; dit beskerm ons ook teen die meeste van die ruimterommel wat teen ’n spoed deur die ruimte beweeg. Rotse wat ontsettende skade kan berokken, verbrand gewoonlik wanneer dit die aarde se atmosfeer binnekom en veroorsaak pragtige, helder ligstrale in die naghemel.

7 Die aarde se magneetveld beskerm ons ook. Hierdie skerm het sy oorsprong diep binne-in die aarde. Die buitenste kern van die aarde, wat hoofsaaklik uit gesmelte yster bestaan, skep ’n kragtige magneetveld wat ons omhul en tot ver in die ruimte strek. Dit beskerm ons teen die straling wat deur sonvlamme en ontploffings in die buitenste deel van die son veroorsaak word. Die aarde se magneetveld voorkom dat hierdie energievlae alle lewe op die aardbol se oppervlak verskroei. Dit word eerder geabsorbeer of afgeweer. Ons sien bewyse dat ons magneetveld in werking is wanneer ons die skouspelagtige, veelkleurige ligvertonings sien wat naby die Noord- en Suidpool in die lug dans. Jehovah is ongetwyfeld “sterk in krag”.—Lees Jesaja 40:26.

GOD SE WYSHEID WORD IN DIE NATUUR GEOPENBAAR

8, 9. Hoe word Jehovah se wysheid geopenbaar in die kringlope wat lewe onderhou?

8 Jehovah se wysheid word geopenbaar in die kringlope wat lewe op die aarde onderhou. Ter toeligting: Stel jou voor dat jy in ’n digbevolkte, ommuurde stad woon en dat geen vars water in die stad ingebring kan word en geen afvalprodukte daaruit verwyder kan word nie. So ’n stad sou kort voor lank baie vuil en onbewoonbaar word. In party opsigte is ons aarde soos daardie ommuurde stad. Dit het ’n beperkte hoeveelheid vars water, en ons kan nie van al die afvalprodukte ontslae raak nie. Hierdie “ommuurde stad” kan egter miljarde lewende dinge, geslag ná geslag, onderhou. Waarom? Weens die wonderlike vermoë daarvan om die produkte te herwin wat noodsaaklik is vir lewe.

9 Dink aan die suurstofkringloop. Miljarde lewende dinge asem suurstof in en asem koolstofdioksied uit. Nogtans raak suurstof nooit op nie en word die atmosfeer nooit deur die “afval”-gas, koolstofdioksied, versmoor nie. Waarom nie? Die antwoord word gevind in ’n verstommende proses wat as fotosintese bekend staan. Deur middel van hierdie proses neem plante koolstofdioksied, water, sonlig en voedingstowwe in en vervaardig dit koolhidrate en suurstof. Wanneer ons suurstof inasem, voltooi ons die kringloop. Jehovah gebruik die plantegroei wat hy ontwerp het op letterlike wyse om “aan almal lewe en asem [te] gee” (Hand. 17:25). Watter merkwaardige wysheid!

10, 11. Hoe openbaar die koningvlinder en die naaldekoker Jehovah se wysheid?

10 Jehovah se ontsaglike wysheid word ook geopenbaar in die groot aantal lewende wesens wat op ons merkwaardige planeet woon. Daar word geskat dat daar tussen 2 miljoen en 100 miljoen spesies op die aarde is. (Lees Psalm 104:24.) Let op die wysheid wat duidelik gesien kan word in die ontwerp van net ’n paar van hierdie lewende dinge.

11 Byvoorbeeld, die koningvlinder se brein is net omtrent so groot soos die punt van ’n balpuntpen. Tog het hierdie skoenlapper die vermoë en vaardigheid om byna 3 000 kilometer ver te migreer, van Kanada af na ’n spesifieke woud in Mexiko, deur die son te gebruik om te navigeer. Hoe kry hy dit reg, aangesien die son deur die hemelruim beweeg? Jehovah het sy piepklein brein ontwerp met die vermoë om hom op koers te hou ondanks die beweging van die son. Of kyk na die oog van die naaldekoker. Hierdie diertjie het twee saamgestelde oë. Elke oog bestaan uit sowat 30 000 afsonderlike lense. Nogtans kan die naaldekoker se klein breintjie die seine ontsyfer wat deur al daardie lense gestuur word en kan hy dus die geringste beweging in sy omgewing waarneem.

12, 13. Wat beïndruk jou oor die manier waarop Jehovah die selle waaruit jou liggaam bestaan, ontwerp het?

12 Die manier waarop Jehovah die selle ontwerp het waaruit alle lewende dinge bestaan, is nog indrukwekkender. Jou liggaam bestaan byvoorbeeld uit ongeveer 100 biljoen selle. Elkeen van daardie selle bevat ’n klein touagtige molekule wat DNS (deoksiribonukleïensuur) genoem word. Dit berg die meeste van die inligting wat nodig is om jou liggaam te bou.

13 Hoeveel inligting bevat DNS? Vergelyk die bergingsvermoë van een gram DNS met dié van ’n kompakskyf (CD). ’n CD kan al die inligting berg wat in ’n woordeboek bevat word, en dit is indrukwekkend, aangesien ’n CD maar net ’n dun plastiekskyf is. Maar net een gram DNS kan soveel inligting as ’n biljoen CD’s berg! Anders gestel, net een teelepel gedroogde DNS kan genoeg inligting berg om ongeveer 350 keer soveel mense te bou as wat vandag lewe!

14. Hoe laat die ontdekkings wat wetenskaplikes gemaak het, jou oor Jehovah voel?

14 Koning Dawid het gesê dat die inligting wat nodig is om ’n menseliggaam te bou, in ’n figuurlike boek geskryf is. Hy het aangaande Jehovah God gesê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe, met betrekking tot die dae toe hulle gevorm is en nog nie een onder hulle daar was nie” (Ps. 139:16). Dit is te verstane dat Dawid beweeg is om Jehovah te loof toe hy gedink het aan hoe sy liggaam geskep is. Die ontdekkings wat wetenskaplikes in onlangse jare gemaak het, vervul ons met nog groter ontsag wanneer ons dink aan hoe Jehovah ons liggaam gemaak het. Hierdie ontdekkings gee ons meer rede om saam te stem met die psalmis wat van Jehovah geskryf het: “Ek sal u prys, omdat ek op ’n vreesinboesemende wyse wonderbaar gemaak is. U werke is wonderbaar, soos my siel alte goed weet” (Ps. 139:14). Hoe kan mense dan nie sien dat die skepping bewys lewer van die bestaan van ’n lewende God nie?

HELP ANDER OM DIE LEWENDE GOD TE VERHEERLIK

15, 16. (a) Hoe bou ons publikasies waardering vir Jehovah se skeppingsvermoë op? (b) Watter een van die “Is dit geskep?”-artikels het jou veral beïndruk?

15 Die Ontwaak! help miljoene al dekades lank om oor ons lewende God te leer uit die dinge wat hy geskep het. In 2006 was die titel van die nommer vir September byvoorbeeld “Is daar ’n Skepper?” Die doel van die hele tydskrif was om die oë te open van diegene wat deur die evolusieleer en die skeppingsleer verblind is. ’n Suster het in verband met hierdie spesiale uitgawe aan die takkantoor in die Verenigde State geskryf: “Die kampanje om hierdie spesiale uitgawe aan te bied, was baie suksesvol. Een vrou wou 20 eksemplare hê. Sy is ’n biologieonderwyseres en wou vir elkeen van haar leerlinge ’n eksemplaar gee.” ’n Broer het geskryf: “Ek doen al sedert die laat 1940’s velddiens en ek is nou byna 75 jaar oud, maar ek het nog nooit my velddiens soveel geniet as wat ek dit hierdie maand met die aanbod van die spesiale uitgawe van die Ontwaak! geniet het nie.”

16 In onlangse jare het die meeste van die nommers van die Ontwaak! die rubriek “Is dit ontwerp?” bevat. Hierdie kort artikels vestig die aandag op die ontsagwekkende ingenieursvernuf wat in die skepping gesien kan word en toon hoe mense die Meesterontwerper probeer naboots het. Ons het nog materiaal ontvang om ons te help om God te verheerlik toe die brosjure Is lewe geskep? in 2010 vrygestel is. Die pragtige prente en onderrigdiagramme in hierdie publikasie is bedoel om ons waardering vir Jehovah se skeppingsvermoë te vergroot. Die vrae aan die einde van elke deel help die leser om te redeneer oor die inligting wat hy so pas gelees het. Geniet jy dit om hierdie brosjure in die huis-tot-huis-bediening, die openbare getuieniswerk of informele getuieniswerk te gebruik?

17, 18. (a) Ouers, hoe kan julle julle kinders se vertroue opbou in hulle vermoë om hulle geloof te verdedig? (b) Hoe het julle die brosjures oor die skepping in julle gesinsaanbidding gebruik?

17 Ouers, het julle al hierdie kleurvolle brosjure as deel van julle gesinsaanbidding met julle kinders bespreek? As julle dit doen, sal julle hulle help om hulle waardering vir ons lewende God op te bou. Dalk het julle tieners wat op hoërskool is. Diegene wat evolusie voorstaan, probeer hard om julle kinders te oortuig dat daar geen Skepper is nie. Wetenskaplikes, onderwysers, dokumentêre natuurprogramme en selfs die vermaaklikheidswêreld, met sy TV-programme en rolprente, bevorder die idee dat evolusie ’n feit is. Julle kan julle tieners help om sulke propaganda teë te werk deur gebruik te maak van ’n ander brosjure, Vyf belangrike vrae oor die oorsprong van lewe, wat ook in 2010 vrygestel is. Soos die brosjure Is lewe geskep? spoor hierdie publikasie jongmense aan om hulle “denkvermoë” te ontwikkel (Spr. 2:10, 11). Dit leer hulle hoe om te toets of die dinge wat hulle op skool geleer word, logies is.

Ouers, berei julle kinders voor om hulle geloof te verdedig (Sien paragraaf 17)

18 Die doel van die Oorsprong van lewe-brosjure is om leerlinge aan te spoor om self te besluit of sensasionele nuusberigte wat beweer dat wetenskaplikes fossiele gevind het wat sogenaamde “verlore skakels” is, werklik bewys dat die mens uit laer lewensvorme geëvolueer het. Dit leer hulle ook hoe om te antwoord wanneer iemand beweer dat wetenskaplikes in hulle laboratoriums bewys het dat lewe vanself kon ontstaan het. Ouers, as julle hierdie brosjures gebruik, kan dit baie help om julle kinders se vertroue op te bou in hulle vermoë om ’n antwoord te gee aan almal wat van hulle ’n rede vir hulle geloof in ’n Skepper eis.—Lees 1 Petrus 3:15.

19. Watter voorreg het ons almal?

19 Die goed nagevorste materiaal wat ons deur middel van Jehovah se organisasie ontvang, help ons om sy pragtige eienskappe in die wêreld om ons te sien. Dit is betroubare bewyse wat ons beweeg om ons God heelhartig te loof (Ps. 19:1, 2). Wat ’n voorreg het ons tog om Jehovah, die Skepper van alle dinge, die eer en heerlikheid te gee wat hy so ryklik verdien!—1 Tim. 1:17.

^ par. 3 Vir meer inligting oor hoe om te redeneer met diegene wat die skeppingsleer bevorder, sien bladsye 24 tot 28 van die brosjure Is lewe geskep?