Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“Die sewe spesies” van die goeie land

“Die sewe spesies” van die goeie land

“Die sewe spesies” van die goeie land

IN DIE Bybel word die land Israel beskryf as ’n land van heuwels en valleie, kusvlaktes en plato’s, riviere en fonteine. Met so ’n verskeidenheid grondtipes en klimaatstreke, insluitende dorre woestyn in die suide en sneeubedekte berge in die noorde, het hierdie land ’n merkwaardige verskeidenheid landbouprodukte opgelewer. Toe Moses by die Israeliete groter afwagting gewek het vir die “goeie land” wat hulle sou binnegaan, het hy spesifiek melding gemaak van sewe landbouprodukte en gesê dat die land “’n land van koring en gars en wingerdstokke en vye en granate, ’n land van olieryke olywe en heuning” is.—Deuteronomium 8:7, 8.

Die uitdrukking “die sewe spesies” word tot vandag toe nog gebruik om die opbrengs van die land te beskryf. Op verskillende tye het hierdie landbouprodukte op plaaslike munte en posseëls verskyn as ’n simbool van die land se vrugbaarheid. Hoe is dit in Bybeltye verbou? Hoe het dit mense se lewenswyse beïnvloed? Kom ons kyk.

“Koring en gars” Hoewel koring en gars albei in die herfs gesaai is, het gars ’n maand vroeër ryp geword. ’n Gerf van die eerstelinge van die garsoes is gedurende die Fees van die Ongesuurde Koeke, in Maart of April, as ’n offer vir Jehovah by die tempel aangebied. Daarteenoor is koringbrode in Mei, gedurende die Fees van die Weke, of Pinkster, as offer aangebied.—Levitikus 23:10, 11, 15-17.

Eeue lank en tot redelik onlangs toe het boere in Israel graansaad met die hand gesaai deur die saad, wat hulle in ’n vou van hulle kleed gedra het, uit te strooi. Garssaad is eenvoudig op die grond uitgestrooi. Maar koringsaad moes bedek word. Boere het dit in die grond ingewerk deur trekdiere dit te laat intrap of deur die land weer om te ploeg.

Die Bybel praat dikwels van graan wat gesaai, geoes, gedors, gewan en gemaal word. Elke stap het heelwat fisiese inspanning geverg. Elke dag is geoeste graan by die huis tot meel gemaal, wat dan gebruik is om brood vir die gesin te bak. Dit maak Jesus se instruksie dat ons vir “ons daaglikse brood” moet bid, betekenisvol (Matteus 6:11, King James Version). Brood wat van volgraankoring of garsmeel gemaak is, was die stapelvoedsel van mense in Bybeltye.—Jesaja 55:10.

“Wingerdstokke en vye en granate” Nadat Moses die volk 40 jaar lank deur die wildernis gelei het, het hy hulle ’n aanloklike beskrywing gegee van waarna hulle kon uitsien—om van die opbrengs van die Beloofde Land te eet. Wat het die tien spioene 40 jaar vroeër na die Israelitiese kamp in die wildernis teruggebring as bewys van die vrugbaarheid van die Beloofde Land? “’n Loot met een tros druiwe” so swaar dat hulle dit “aan ’n draagstok op twee van die manne” moes dra. Hulle het ook vye en granate teruggebring. Dit moes die swerwers in die woestyn se monde laat water het! Dit was ’n smakie van die goeie dinge wat voorgelê het!—Numeri 13:20, 23.

Wingerdstokke het voortdurend sorg nodig gehad om hulle vrugbaar te hou—hulle moes gesnoei, natgelei en geoes word. ’n Beskermende muur, sorgvuldig aangelegde terrasse en ’n waghut was tekens dat ’n wingerd goed versorg is. Die Israeliete het goed vertroud geraak met die werk wat in ’n wingerd gedoen moes word en het verstaan wat sou gebeur as dit afgeskeep word.—Jesaja 5:1-7.

Wynmakery het tydens die druiweoes begin. Trosse druiwe is in ’n vat getrap of in ’n wynpers gepars. Die sap is óf gekook om die natuurlike suiker daaruit te verkry óf toegelaat om te gis sodat dit wyn kon word. Die land Israel is geseën met net die regte toestande vir wingerdverbouing en wynmakery. a

Mense wat ver van lande woon waar vye groei, het dalk nog net gedroogde en saamgeperste vye gesien. ’n Pas geplukte vy is amper soos ’n heel ander vrug—soet en sappig. As ’n mens wil hê dat hulle langer as die kort oesperiode moet hou, moet vye in die son gedroog en verpak word. “Koeke van saamgeperste vye” word dikwels in die Bybel genoem.—1 Samuel 25:18.

Wanneer ’n mens die leeragtige skil van ’n ryp granaat oopbreek, vind jy honderde dig saamgepakte “minivruggies” wat reg is om geëet of versap te word—verfrissend, gesond en voedsaam. Die gewildheid van die granaat kan gesien word in die feit dat afbeeldings daarvan die soom van een van die kledingstukke van die hoëpriester sowel as die pilare van Salomo se tempel versier het.—Eksodus 39:24; 1 Konings 7:20.

“Olywe en heuning” Die Bybel bevat byna 60 verwysings na olywe, ’n waardevolle bron van voedsel en olie. Olyfboorde kan nog steeds in die meeste dele van Israel gesien word (Deuteronomium 28:40). Tot vandag toe is die Oktoberoes in baie gemeenskappe ’n gebeurtenis waaraan die hele familie deelneem. Oeswerkers slaan die bome se takke sodat die olywe afval, waarna hulle dit van die grond af optel. Die olywe word ingelê en word heeljaar lank deur die gesin as voedsel gebruik, of dit word na ’n gemeenskaplike oliepers geneem. Trouens, honderde ou perse van verskillende soorte is by argeologiese terreine opgegrawe. Vandag is dit interessant om te sien hoe die dowwe groen olie in houers invloei om die gesin van ’n jaar se voorraad olie te voorsien of om verkoop te word om geld in te bring. En olyfolie is nie net as voedsel gebruik nie, maar het ook as ’n skoonheidsmiddel en as brandstof vir lampe gedien.

Die heuning waarvan Moses gepraat het, kon verwys het na heuning wat deur bye gemaak is of na ’n stroop wat uit dadels en druiwe verkry is. Heuning wat uit hierdie vrugte verkry word, word nog steeds algemeen gebruik as ’n versoeter. Maar die heuning wat in die Bybelverslae oor Simson en Jonatan genoem word, was ongetwyfeld wilde heuning uit heuningkoeke (Rigters 14:8, 9; 1 Samuel 14:27). ’n Onlangse ontdekking van ’n byery in Tel Rehov in die noorde van Israel wat uit meer as 30 byekorwe bestaan het, toon dat daar al in die dae van Salomo met bye in die land geboer is.

Vandag sal enigiemand wat deur ’n kleurvolle mark in Israel stap—met sy stalletjies vol brood, vrugte en groente—’n oorvloed van “die sewe spesies” in die een of ander vorm vind. Hierdie sewe produkte is natuurlik net ’n paar van die skynbaar eindelose verskeidenheid voedselsoorte wat die land oplewer. Moderne landboumetodes het dit moontlik gemaak om gewasse te verbou wat van ander lande af kom. Hierdie oorvloed toon dat dié klein strook land inderdaad sy reputasie as die “goeie land” gestand doen.—Numeri 14:7.

[Voetnoot]

a Druiwe is ook gedroog om rosyntjies te maak.—2 Samuel 6:19.

[Prent op bladsy 11]

Koring

[Prent op bladsy 11]

Gars

[Prent op bladsy 12]

Wingerdstok

[Prent op bladsye 12, 13]

Vye

[Prent op bladsy 12]

Granate

[Prent op bladsy 13]

Olywe

[Prent op bladsy 13]

Heuning