Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

“O Jehovah, . . . u ken my”

“O Jehovah, . . . u ken my”

Kom nader aan God

“O Jehovah, . . . u ken my”

“’N MENS kan nie ’n groter las dra as die wete dat niemand omgee of verstaan nie.” a Kan jy jou met hierdie woorde vereenselwig? Het jy al ooit gevoel dat niemand omgee of verstaan waardeur jy gaan nie, om nie eers te praat van hoe jy voel nie? Indien wel, sal jy dalk uit die volgende gedagte vertroosting put: Jehovah gee soveel vir sy aanbidders om dat hy ag slaan op alles wat van dag tot dag met hulle gebeur. Dawid se woorde in Psalm 139 verseker ons van hierdie waarheid.

Met volle vertroue in God se belangstelling in hom sê Dawid: “O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my” (vers 1). Dawid gebruik hier ’n pragtige beskrywing. Die Hebreeuse werkwoord wat met “deurvors” vertaal word, kan daarna verwys om na erts te grawe (Job 28:3), ’n land te verken (Rigters 18:2) of die feite van ’n regsaak te ondersoek (Deuteronomium 13:14). Ja, Jehovah ken ons so goed dat hy as ’t ware elke aspek en elke besonderheid van ons bestaan ondersoek het. Deur die voornaamwoord “my” te gebruik, leer Dawid ons dat God persoonlike belangstelling in sy knegte toon. Hy deurvors hulle en leer ken hulle as individue.

Dawid verduidelik verder hoe deeglik God ons ondersoek en sê: “U het my sit en my opstaan te wete gekom. U het van ver af op my gedagte gelet” (vers 2). In sekere sin is Jehovah “ver af”, want hy woon in die hemel. Tog weet hy wanneer ons gaan sit, dalk aan die einde van ’n lang dag, en wanneer ons in die oggend opstaan om met ons daaglikse bedrywighede voort te gaan. Hy ken ook ons gedagtes, begeertes en bedoelings. Voel Dawid geïntimideer omdat hy so noukeurig ondersoek word? Nee, inteendeel, hy vra daarvoor (verse 23, 24). Waarom?

Dawid weet dat Jehovah Sy aanbidders met goeie beweegrede ondersoek. Dawid sinspeel op hierdie beweegrede en skryf: “My gaan en my lê het u afgemeet, en met al my weë het u vertroud geraak” (vers 3). Jehovah sien elke dag ‘al ons weë’—ons foute sowel as ons goeie werke. Konsentreer hy op die slegte of op die goeie? Die Hebreeuse woord wat met “afgemeet” vertaal word, kan beteken om te “sif”, of te “wan”, baie soos ’n boer wat die onbruikbare kaf uitwan sodat slegs die waardevolle graan agterbly. Die frase “vertroud geraak” is die vertaling van ’n Hebreeuse woord wat “om te koester” kan beteken. Wanneer Jehovah die dinge ondersoek wat sy aanbidders elke dag doen en sê, koester hy die goeie. Waarom? Hy koester hulle pogings om hom te behaag.

Psalm 139 leer ons dat Jehovah waarlik omgee vir sy aanbidders. Hy deurvors hulle en waak oor hulle elke dag van hulle lewe. Hy weet dus voor watter probleme hulle te staan kom, en hy verstaan die hartseer en bekommernis wat hierdie ontberinge kan veroorsaak. Beweeg dit jou om so ’n liefdevolle God te aanbid? Indien wel, kan jy seker wees hiervan: Jehovah sal nooit ‘jou werk en die liefde wat jy vir sy naam getoon het, vergeet’ nie.—Hebreërs 6:10.

Voorgestelde Bybelleesgedeelte vir September:

Psalms 119-150

[Voetnoot]

a Aanhaling van skrywer Arthur H. Stainback.