Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

’n Man na Jehovah se hart

’n Man na Jehovah se hart

’n Man na Jehovah se hart

WAT kom by jou op wanneer jy aan die Bybelkarakter Dawid dink? Sy oorwinning oor die Filistynse reus Goliat? Die tyd wat hy as vlugteling in die wildernis deurgebring het weens koning Saul se vyandigheid teenoor hom? Sy sonde met Batseba en die probleme wat hy as gevolg daarvan ondervind het? Of dalk sy geïnspireerde poësie, wat in die Bybelboek Psalms bewaar is?

Dawid het baie voorregte geniet, oorwinnings behaal en tragedies ondervind. Maar wat ons die meeste in hom laat belangstel, is wat die profeet Samuel van Dawid gesê het—hy sou “’n man na [Jehovah se] hart” wees.—1 Samuel 13:14.

Samuel se profesie is vervul toe Dawid nog maar ’n seun was. Sou jy nie graag beskryf wou word as ’n persoon na Jehovah se hart nie? Wat kan jy dus uit Dawid se lewe leer, veral uit sy vroeë jare, wat jou kan help om so ’n persoon te word? Kom ons kyk.

Gesin en werk

Isai, die vader van Dawid en die kleinseun van Rut en Boas, was waarskynlik ’n godvresende man. Toe Dawid, sy sewe broers en twee susters nog jonk was, het Isai hulle oor die Wet van Moses geleer. In een van sy psalms verwys Dawid na homself as die seun van Jehovah se “slavin” (Psalm 86:16). Dit het party tot die slotsom laat kom dat Dawid se moeder, wat die Bybel nie by name noem nie, ook ’n positiewe invloed op sy geestelikheid gehad het. “Dit was heel waarskynlik uit haar mond”, sê een geleerde, “wat hy die eerste keer die wonderlike verhaal gehoor het van God se vroeëre handelinge met sy volk”, insluitende die geskiedenis van Rut en Boas.

Wanneer ons die eerste keer van Dawid lees, is hy ’n jong herderseun met die verantwoordelikheid om sy vader se skape op te pas. Hierdie taak het waarskynlik behels dat hy lang, eensame dae en nagte in die oop veld deurbring. Probeer jou die toneel voorstel.

Dawid se gesin het in Betlehem gewoon, ’n klein dorpie wat bo-op en teen die hange van ’n heuwelreeks in Juda geleë was. Die klipperige grond om Betlehem het goeie graanoeste opgelewer. Vrugteboorde, olyfboorde en wingerde het die sagter hange en die vallei bedek. In Dawid se dag is die onbewerkte hoogland waarskynlik as weivelde gebruik. Anderkant die weivelde het die wildernis van Juda gelê.

Dawid se werk was nie sonder gevare nie. Dit was in hierdie heuwels waar hy voor ’n leeu sowel as ’n beer te staan gekom het wat skape uit die trop probeer wegdra het. a Hierdie moedige seun het die roofdiere agternagesit, hulle doodgemaak en sy skape uit hulle bek gered (1 Samuel 17:34-36). Dit was dalk gedurende hierdie tyd van sy lewe dat Dawid geleer het om die slinger goed te gebruik. Die gebied van Benjamin was nie ver van sy tuisdorp af nie. Die manne van daardie stam kon klippe “op ’n haar slinger en het nie gemis nie”. Dawid was net so sekuur met sy slinger.—Rigters 20:14-16; 1 Samuel 17:49.

Hy het die tyd goed gebruik

Die werk van ’n herder was meestal rustig en eensaam. Maar Dawid het nie toegelaat dat hy verveeld raak nie. Inteendeel, die rustige stilte het hom talle geleenthede gebied om te peins. Heel moontlik kom van die gedagtes wat Dawid in sy psalms ingesluit het, uit sy jeugjare. Was dit gedurende oomblikke van afsondering dat hy nagedink het oor die mens se plek in die heelal en oor die wonders van die hemele—die son, maan en sterre, “die werke van [Jehovah se] vingers”? Was dit in die velde om Betlehem dat hy gepeins het oor die vrugbare land, die kleinvee en beeste, die voëls en “die diere van die oop veld”?—Psalm 8:3-9; 19:1-6.

Dawid se eie ondervinding as ’n herder het hom ongetwyfeld dieper insig gegee in Jehovah se teerheid teenoor Sy getroue knegte. Dawid het dus gesing: “Jehovah is my Herder. Niks sal my ontbreek nie. In grasryke weivelde laat hy my neerlê; by waterryke rusplekke bring hy my. Al wandel ek in die vallei van diep skaduwee, vrees ek niks slegs nie, want u is met my; u stok en u staf dié vertroos my.”—Psalm 23:1, 2, 4.

Jy wonder dalk wat dit alles met jou te doen het. Wel, een van die redes waarom Dawid ’n intieme verhouding met Jehovah gehad het en “’n man na sy hart” genoem kon word, was omdat hy diep en ernstig nagedink het oor Jehovah se werke en oor sy verhouding met God. Kan dieselfde van jou gesê word?

Is jy al ooit beweeg om die Skepper te loof en te verheerlik nadat jy die een of ander aspek van sy handewerk noukeurig ondersoek het? Het jou hart al ooit oorgeloop van liefde vir Jehovah toe jy gesien het hoe sy eienskappe in sy handelinge met die mensdom weerspieël word? Jy kan natuurlik slegs sulke waardering vir Jehovah hê as jy tyd opsysit om in stilte, biddend te peins oor God se Woord en oor sy skepping. Sulke bepeinsing kan jou help om Jehovah intiem te leer ken—en gevolglik vir hom lief te wees. Jonk sowel as oud kan hierdie voorreg geniet. Dawid was heel waarskynlik al van sy jeug af na aan Jehovah. Hoe weet ons dit?

Dawid word gesalf

Toe koning Saul nie meer geskik was om God se volk te lei nie, het Jehovah vir die profeet Samuel gesê: “Hoe lank sal jy oor Saul treur, terwyl ek hom daarenteen verwerp het om as koning oor Israel te heers? Vul jou horing met olie en gaan. Ek sal jou na Isai, die Betlehemiet, stuur, want ek het onder sy seuns vir my ’n koning uitgesoek.”—1 Samuel 16:1.

Toe God se profeet in Betlehem aankom, het hy Isai gevra om sy seuns te roep. Watter een moes Samuel as koning salf? Toe Samuel die aantreklike Eliab, die oudste, sien, het hy gedink: ‘Dit is hy.’ Maar Jehovah het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en na sy hoë gestalte kyk nie, want ek het hom verwerp. Want God sien nie soos die mens sien nie, want die mens sien wat vir die oë sigbaar is; maar Jehovah sien wat die hart is.” Jehovah het ook Abinadab, Samma en nog vier van hulle broers verwerp. “Uiteindelik”, sê die verslag, “het Samuel vir Isai gesê: ‘Is dit al die seuns?’ Hierop het hy gesê: ‘Die jongste is tot nou toe uitgelaat, en kyk! hy laat die skape wei.’”—1 Samuel 16:7, 11.

Isai se antwoord impliseer blykbaar: ‘Dawid kan onmoontlik die een wees wat u soek.’ As die jongste en onbeduidendste in die gesin is Dawid die werk gegee om die skape op te pas. Maar hy was die een wat God gekies het. Jehovah sien wat die hart is, en hy het klaarblyklik iets baie kosbaars in hierdie seun gesien. Toe Isai vir Dawid laat roep het, het Jehovah dus vir Samuel gesê: “‘Staan op, salf hom, want dit is hy!’ Daarop het Samuel die horing met olie geneem en hom in die midde van sy broers gesalf. En van dié dag af het die gees van Jehovah oor Dawid werksaam geword.”—1 Samuel 16:12, 13.

Daar word nie gesê presies hoe oud Dawid was toe dit gebeur het nie. Maar ’n ruk later het die drie oudste broers, Eliab, Abinadab en Samma, in Saul se leër gedien. Die ander vyf was dalk te jonk om saam met hulle te gaan. Hulle was moontlik almal jonger as 20, die ouderdom waarop Israelitiese mans by die leër aangesluit het (Numeri 1:3; 1 Samuel 17:13). Hoe dit ook al sy, Dawid was baie jonk toe Jehovah hom gekies het. Maar dit wil voorkom of Dawid reeds ’n baie geestelikgesinde persoon was. Hy het klaarblyklik ’n hegte verhouding met Jehovah gehad, wat hy opgebou het deur te peins oor die dinge wat hy van God geweet het.

Vandag moet jongmense aangespoor word om dieselfde te doen. Ouers, moedig julle julle kinders aan om oor geestelike dinge te peins, om God se skepping te waardeer en om te bestudeer wat die Bybel oor die Skepper sê? (Deuteronomium 6:4-9). En jongmense, doen julle dit op eie inisiatief? Bybelpublikasies soos Die Wagtoring en die Ontwaak! b is saamgestel om julle te help.

’n Geoefende harpspeler

Die woorde van baie van Dawid se psalms vertel ons iets omtrent sy dae as ’n herder, en waarskynlik so ook die musiek. Natuurlik het geen musiek wat oorspronklik gebruik is as begeleiding by hierdie heilige liedere, tot ons dag behoue gebly nie. Maar ons weet wel dat die komponis ’n uitmuntende musikant was. Trouens, dit is juis omdat Dawid ’n geoefende harpspeler was dat hy van die weivelde weggeneem is om koning Saul te dien.—1 Samuel 16:18-23. c

Waar en wanneer het Dawid hierdie vaardigheid ontwikkel? Waarskynlik gedurende die dae wat hy in die oop veld deurgebring en skape opgepas het. Dit verg nie veel verbeelding om ons voor te stel hoe Dawid al op ’n jong ouderdom uit sy hart lofliedere tot God gesing het nie. Jehovah het hom immers gekies en aangestel weens sy toegewydheid en geestelikheid, nie waar nie?

Watter soort persoon Dawid in latere jare geword het, is ’n onderwerp op sy eie. Maar die gesindheid wat hom sy hele lewe lank gekenmerk het, word weerspieël in woorde wat moontlik kom uit sy vroeë ondervindinge in die velde om Betlehem. Stel jou net voor hoe Dawid tot Jehovah sing: “Ek het gedink aan dae van lank gelede; ek het gepeins oor al u dade; ek het die werk van u hande graag oordink” (Psalm 143:5). Die warm gevoel wat in hierdie en baie ander psalms van Dawid oorgedra word, is ’n inspirasie vir almal wat persone na Jehovah se hart wil wees.

[Voetnote]

a Die Siriese bruinbeer, wat vroeër in Palestina voorgekom het, het gemiddeld ongeveer 140 kilogram geweeg, en ’n hou met sy groot pote kon dodelik wees. Daar was eens op ’n tyd baie leeus in die gebied. Jesaja 31:4 sê dat selfs “’n volle aantal herders” nie ’n “jong maanhaarleeu” van sy prooi sou kon wegjaag nie.

b Uitgegee deur Jehovah se Getuies.

c Die koninklike raadgewer wat Dawid aanbeveel het, het ook gesê hy is “’n intelligente spreker en ’n welgevormde man, en Jehovah is met hom”.—1 Samuel 16:18.