Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Waarom al die lyding?

Waarom al die lyding?

As ons wil verstaan waarom daar soveel lyding is en waarom mensepogings om ’n einde daaraan te maak, misluk het, moet ons uitvind wat die werklike oorsake van lyding is. Hoewel die oorsake uiteenlopend en kompleks is, kan ons dankbaar wees dat die Bybel ons kan help om dit te identifiseer. In hierdie artikel sal ons vyf grondredes bespreek vir al die lyding wat ons om ons sien. Ons nooi jou om noukeurig te let op wat die Bybel sê en te sien hoe God se Woord ons help om dieper as die oppervlak te kyk sodat ons kan vasstel wat die werklike oorsaak van lyding is.—2 Timoteus 3:16.

DIE GEVOLGE VAN SLEGTE REGERING

“Wanneer ’n goddelose heers, sug die volk”, sê die Bybel.—Spreuke 29:2.

Die geskiedenis vertel van baie diktators wat met ’n ystervuis regeer het en verskriklike lyding vir hulle onderdane meegebring het. Dit is natuurlik nie die geval met alle heersers nie. Party het dalk goeie bedoelings ten opsigte van hulle medemens. Maar wanneer hulle aan bewind kom, vind hulle dikwels dat hulle pogings in die wiele gery word deur binnegevegte en magstryde. Of hulle misbruik dalk hulle mag vir eiegewin, tot nadeel van hulle onderdane. “Die geskiedenis is ’n verhaal van mislukte pogings, van ideale wat nie verwesenlik is nie”, het die voormalige Amerikaanse minister van buitelandse sake Henry Kissinger gesê.

Die Bybel sê ook: “Dit behoort nie aan die mens wat loop om sy voetstappe te rig nie” (Jeremia 10:23). Onvolmaakte mense het nie die nodige wysheid en versiendheid om met welslae na al hulle aangeleenthede om te sien nie. As mense nie hulle eie voetstappe kan rig nie, hoe kan hulle dan die voetstappe van ’n nasie rig? Kan jy sien waarom menseheersers nie in staat is om lyding uit die weg te ruim nie? Trouens, slegte regering, of heerskappy, is alte dikwels die oorsaak van lyding!

DIE INVLOED VAN VALSE GODSDIENS

“Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het”, het Jesus gesê.—Johannes 13:35.

Godsdiensleiers van alle gelowe en kerke preek oor liefde en eenheid. Maar hulle het in werklikheid nie daarin geslaag om by hulle volgelinge liefde in te boesem wat sterk genoeg is om vooroordele te oorkom nie. In plaas van mense te help om liefde aan te kweek, dra godsdiens dikwels by tot die verdeeldheid, onverdraagsaamheid en onmin onder volke en nasies. In die slot van sy boek Christianity and the World Religions het die teoloog Hans Küng geskryf: “Die mees fanatiese en wreedste politieke gevegte is dié wat deur godsdiens beïnvloed, aangevuur en geregverdig word.”

 Wat meer is, voorhuwelikse en buite-egtelike seks en homoseksualiteit word openlik deur geestelikes van baie godsdienste vergoeilik. Dit het gelei tot ’n toename in siektes, aborsies, ongewenste swangerskappe en gebroke huwelike en gesinne, wat ongekende pyn en lyding tot gevolg gehad het.

MENSLIKE ONVOLMAAKTHEID EN SELFSUGTIGE BEGEERTES

“Elkeen word beproef deurdat hy deur sy eie begeerte meegesleep en verlok word. Daarna, wanneer die begeerte vrugbaar geword het, baar dit sonde.”—Jakobus 1:14, 15.

Weens oorgeërfde onvolmaaktheid is ons almal geneig om foute te begaan en moet ons stry teen die begeerte om ‘die dinge te doen wat volgens die wil van die vlees’ is (Efesiërs 2:3). Maar die stryd kan besonder moeilik wees wanneer ons ’n verkeerde begeerte het en die geleentheid dan opduik om dit te bevredig. As ons voor ’n skadelike begeerte swig, kan dit verwoestende gevolge hê.

Die skrywer P.D. Mehta het gesê: “Ontsaglik baie lyding kan toegeskryf word aan ons wellus, ons onbeheerste genotsug en selfbevrediging, ons gierigheid en ons ambisie.” Verskillende begeertes en verslawings—alkohol, dwelms, dobbelary, seks, ensovoorts—het al talle “eerbare burgers” se ondergang beteken en vir hulle gesinne, vriende en ander lyding veroorsaak. Met die oog op die mensdom se onvolmaaktheid moet ons saamstem met die Bybel se woorde: “Ons weet dat die hele skepping tot nou toe voortdurend saam kreun en saam pyn ly.”—Romeine 8:22.

DIE MAG VAN BOSE GEESTE

Die Bybel openbaar dat Satan “die god van hierdie stelsel van dinge” is en dat magtige bose geeste wat demone genoem word, hulle by hom geskaar het.—2 Korintiërs 4:4; Openbaring 12:9.

Soos Satan, spits die demone hulle daarop toe om mense te beheer en te mislei. Die apostel Paulus het dit besef en gesê: “Ons het ’n worstelstryd, nie teen bloed en vlees nie, maar teen die regerings, teen die owerhede, teen die wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geesmagte in die hemelse plekke.”—Efesiërs 6:12.

Hoewel die demone genot daaruit put om mense te teister, is dit nie hulle hoofdoel nie. Hulle wil mense van die Allerhoogste God, Jehovah, afkeer (Psalm 83:18). Sterrewiggelary, towery en waarsêery is net ’n paar van die dinge wat die demone gebruik om mense te mislei en te beheer. Daarom waarsku Jehovah ons teen hierdie gevare en bied hy beskerming aan almal wat Satan en die demone teëstaan.—Jakobus 4:7.

ONS LEWE IN “DIE LAASTE DAE”

Sowat tweeduisend jaar gelede het die Bybel voorspel: “Weet dít, dat daar in die laaste dae kritieke tye sal wees wat moeilik is om deur te kom.”

Die Bybel sê ook waarom dit die geval sou wees: “Want mense sal liefhebbers van hulleself wees, liefhebbers van geld, aanmatigend, hoogmoedig, . . . sonder natuurlike geneentheid, nie bereid tot enige ooreenkoms nie, kwaadsprekers, sonder selfbeheersing, wreedaardig, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, eiesinnig, opgeblase van trots, liefhebbers van genot eerder as liefhebbers van God.” ’n Hoofrede vir al die lyding wat ons vandag sien, is beslis dat ons in “die laaste dae” lewe.—2 Timoteus 3:1-4.

Kan ons nie uit die bostaande duidelik sien waarom mense, ten spyte van hulle goeie bedoelings, nie ’n einde kan maak aan lyding nie? Waar kan ons dan hulp kry? Ons moet ons wend tot ons Skepper, wat belowe het om “die werke van die Duiwel” en sy volgelinge “te verbreek” (1 Johannes 3:8). Die volgende artikel sal bespreek wat God sal doen om al die oorsake van lyding uit die weg te ruim.