Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | STEL GOD BELANG IN JOU?

God verstaan jou

God verstaan jou

“O Jehovah, u het my deurvors, en u ken my.” —PSALM 139:1.

“U oë het selfs my embrio gesien.”​—PSALM 139:16

WAAROM PARTY TWYFEL: Baie dink dat God mense net as sondaars beskou—as onrein skepsele wat nie sy aandag waardig is nie. Kendra, wat aan depressie gely het, het baie skuldig gevoel omdat sy nie heeltemal aan God se vereistes kon voldoen nie. Sy het dus opgehou bid.

WAT GOD SE WOORD LEER: Jehovah kyk verder as jou onvolmaakthede en verstaan wie jy werklik is. “Hy weet goed hoe ons gevorm is”, sê die Bybel, “gedagtig dat ons stof is.” Wat meer is, hy handel nie met ons “volgens ons sondes nie”, maar hy is barmhartig en vergewe ons wanneer ons berouvol is.—Psalm 103:10, 14.

Dink aan Dawid, die Israelitiese koning wat in die eerste artikel van hierdie reeks genoem is. Dawid het in gebed vir God gesê: “U oë het selfs my embrio gesien, en in u boek was al die dele daarvan opgeskrywe . . . Deurvors my, o God, en ken my hart” (Psalm 139:16, 23). Ja, al het Dawid gesondig—soms baie ernstig—was hy oortuig dat Jehovah kon sien dat hy ’n berouvolle hart het.

Jehovah verstaan jou beter as wat enige mens jou verstaan. “Die mens sien wat vir die oë sigbaar is”, sê die Bybel, “maar Jehovah sien wat die hart is” (1 Samuel 16:7). God weet waarom jy op ’n sekere manier optree—hoe oorerflikheid, die manier waarop jy grootgeword het, jou omgewing en jou persoonlikheid jou die soort mens maak wat jy is. Hy sien watter soort mens jy probeer wees, en hy waardeer jou pogings, al begaan jy foute.

Maar hoe gebruik God sy deeglike kennis van wie jy werklik is, om jou te vertroos?