Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

DIE BYBEL VERANDER LEWENS

Ek het my eie oorlog teen onregte en geweld gevoer

Ek het my eie oorlog teen onregte en geweld gevoer
  • GEBORE: 1960

  • GEBOORTELAND: LIBANON

  • GESKIEDENIS: KOENG FOE-DESKUNDIGE

MY VERLEDE:

Ek het gedurende ’n tyd van burgeroorlog grootgeword in Rmaisj, naby die grens tussen Israel en Libanon. Ek het duidelike herinneringe van landmynontploffings en onskuldige slagoffers wat ledemate verloor het. Die lewe was moeilik, en misdaad en geweld was aan die orde van die dag.

Ons gesin was lidmate van die Maronitiese Kerk, een van die Oosters-Katolieke Kerke. My pa was altyd besig om te werk om in ons gesin van 12 se materiële behoeftes te voorsien, maar my ma het seker gemaak dat die res van ons kerk toe gaan. Ek het later begin dink dat die kerk, soos die gemeenskap oor die algemeen, nie die swakkes ondersteun nie.

Gedurende my tienerjare het ek in koeng foe begin belangstel. Ek het strawwe opleiding gekry en het bedrewe daarin geword om kaphoue, skoppe en verskillende vegkunswapens te gebruik. Ek het by myself gedink: ‘Ek kan nie die oorlog keer nie, maar ek kan ten minste probeer om gewelddadige mense te keer.’ Wanneer ek twee mense sien baklei het, het ek dadelik ingemeng. Ek het van nature ’n vinnige humeur gehad, en dit het nie veel geverg om my kwaad te maak nie. Oral in Suid-Libanon was mense bang vir my, want ek het my eie oorlog teen onregte en geweld gevoer.

In 1980 het ek by ’n koeng foe-klub in Beiroet aangesluit. Bomme, granate en vuurpyle kon elke dag gehoor word, maar ek het nog steeds na die klub toe gegaan vir my opleiding. Al waarin ek belanggestel het, was om te eet, te slaap en te leef soos Bruce Lee, ’n Chinees-Amerikaanse akteur en koeng foe-kampioen. Ek het sy haarstyl, sy manier van stap en sy uitroepe terwyl hy koeng foe doen, nageboots. Ek het nooit geglimlag nie.

HOE DIE BYBEL MY LEWE VERANDER HET:

My doelwit was om ’n professionele koeng foe-vegter in China te word. Terwyl ek een aand hard geoefen het sodat ek na China kon gaan, was daar ’n klop aan die deur. Dit was ’n vriend en twee van Jehovah se Getuies. Met swart oefenklere aan en sweet wat van my afrol, het ek vir hulle gesê: “Ek weet niks van die Bybel af nie.” Ek sou nooit kon raai hoe my lewe van daardie oomblik af sou verander nie.

Die Getuies het my uit die Bybel gewys waarom mense nooit onregte en geweld sonder hulp heeltemal uit die weg sal kan ruim nie. Hulle het verduidelik dat Satan die Duiwel die eintlike oorsaak van hierdie probleme is (Openbaring 12:12). Ek was beïndruk deur die vrede en vertroue wat die Getuies uitgestraal het. En dit het my hart geraak toe hulle my geleer het dat God ’n naam het (Psalm 83:18). Hulle het ook vir my 1 Timoteus 4:8 gewys, wat sê: “Liggaamlike oefening het min voordeel; maar godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe.” Hierdie woorde het ’n groot uitwerking op my lewe gehad.

Ek het die Getuies ongelukkig nie weer gesien nie, want my gesin het vir hulle gesê dat hulle nie moet terugkom nie. Ek het nogtans besluit om op te hou met koeng foe en om die Bybel te begin studeer. My broers het nie van die idee gehou nie, maar ek was vasbeslote om Jehovah se Getuies weer te vind en die Bybel saam met hulle te studeer.

Ek het aanhou soek na die Getuies, maar ek kon hulle nie vind nie. Intussen het die skielike dood van my pa sowel as ander gesinstragedies my baie hartseer gemaak. Ek het by ’n boumaatskappy begin werk, en eendag het ’n werksmaat met die naam Adel my gevra hoekom ek so hartseer lyk. Hy het begin praat oor die opstandingshoop wat die Bybel ons gee. Hierdie liefdevolle Getuie het die daaropvolgende nege maande die Bybel geduldig met my gestudeer.

Die studie het my laat besef dat ek groot veranderinge in my persoonlikheid moet aanbring. Dit was nie maklik nie. Ek was die hele tyd geïrriteerd en het maklik kwaad geword. Ek het uit die Bybel geleer hoe om my humeur te beteuel en om selfbeheersing te beoefen. Byvoorbeeld, Matteus 5:44 bevat Jesus se raad: “Hou aan om julle vyande lief te hê en om te bid vir dié wat julle vervolg.” En Romeine 12:19 waarsku: “Moet julle nie wreek nie, . . . want daar staan geskrywe: ‘“Die wraak is myne; ek sal vergeld”, sê Jehovah.’” Hierdie en ander tekste het my gehelp om geleidelik innerlike vrede te verkry.

HOE EK BAAT GEVIND HET:

Hoewel my gesin aanvanklik gekant was teen my besluit om saam met Jehovah se Getuies te studeer, het hulle respek vir die Getuies gekry. Trouens, een van my broers aanbid Jehovah nou saam met my, en my ma het tot haar dood ons geloof voor ander verdedig.

Ek is ook geseën met ’n wonderlike, lojale vrou, Anita, wat my geliefde metgesel in die voltydse bediening is. Ek en Anita woon sedert 2000 in Eskilstuna, Swede, waar ons mense wat Arabies praat, help om van die Bybel te leer.

Ek voel nog steeds jammer vir mense wat weens geweld ly. Maar omdat ek weet wat die ware rede daarvoor is—en dat God binnekort ’n einde daaraan sal maak—het ek ware vreugde en vrede.—Psalm 37:29.

Ek en my vrou is baie gelukkig in die bediening. Ons geniet dit om ander van Jehovah te leer