Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

Antwoorde op Bybelvrae

Antwoorde op Bybelvrae

Doen alle godsdienste God eer aan?

As jy na die wêreldnuus luister, het jy waarskynlik al opgemerk dat slegte dinge soms in die naam van godsdiens gedoen word. Nie alle godsdienste het hulle oorsprong by die ware God nie (Matteus 7:15). Trouens, ’n groot deel van die mensdom is al mislei.—Lees 1 Johannes 5:19.

Maar God sien opregte mense raak wat lief is vir wat goed en waar is (Johannes 4:23). God nooi hulle om die waarheid uit sy Woord, die Bybel, te leer.—Lees 1 Timoteus 2:3-5.

Hoe kan jy die ware godsdiens uitken?

Jehovah God verenig mense uit baie godsdiensagtergronde deur hulle die waarheid te leer en hulle te leer om mekaar lief te hê (Miga 4:2, 3). Jy kan dus diegene wat die ware godsdiens beoefen, uitken aan die liefde wat hulle aan mekaar betoon.—Lees Johannes 13:35.

Jehovah God verenig alle soorte mense deur middel van ware aanbidding.—Psalm 133:1

Ware aanbidders grond hulle geloof en lewenswyse op die Bybel (2 Timoteus 3:16). Hulle eer ook God se naam (Psalm 83:18). En hulle verkondig God se Koninkryk as die enigste hoop vir die mensdom (Daniël 2:44). Hulle volg Jesus na deur hulle ‘lig te laat skyn’ en goed te doen aan hulle naaste (Matteus 5:16). Ware Christene kan dus uitgeken word aan hulle vriendelike besoeke by mense se huise met die doel om die goeie nuus van God se Koninkryk bekend te maak.—Lees Matteus 24:14; Handelinge 5:42; 20:20.