Spring na inhoud

Spring na inhoudsopgawe

VOORBLADONDERWERP | LEWE NÁ DIE DOOD—IS DIT MOONTLIK?

Wat gebeur ná die dood?

Wat gebeur ná die dood?

“Ek het gedink dat daar drie plekke is waarheen ’n mens ná die dood kan gaan: die hemel, die hel of die vaevuur. Ek het geweet dat ek nie goed genoeg vir die hemel is of so sleg is dat ek hel toe moet gaan nie. Ek was nie heeltemal seker wat in die vaevuur gebeur nie. Ek het nog nooit in die Bybel daarvan gelees nie. Dit was net wat mense gesê het.”—Lionel.

“Ek is geleer dat alle mense hemel toe gaan wanneer hulle sterf, maar ek was nie daarvan oortuig nie. Ek het gedink dat die dood die einde van alles is—dat daar geen hoop vir die dooies is nie.”—Fernando.

Het jy al ooit gewonder: ‘Wat gebeur werklik wanneer ’n mens sterf? Ly ons afgestorwe dierbares? Sal ons hulle ooit weer sien? Hoe kan ons daarvan seker wees?’ Let asseblief op wat die Bybel werklik leer. Kom ons ondersoek eers wat die Bybel oor die toestand van die dooies sê. Dan sal ons die hoop bespreek wat God se Woord, die Bybel, ons bied.

Wat is die toestand van die dooies?

DIE BYBEL SE ANTWOORD: “Die lewendes is daarvan bewus dat hulle sal sterf; maar wat die dooies betref, hulle is bewus van hoegenaamd niks, en ook het hulle geen loon meer nie, want hulle nagedagtenis is vergeet. Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag, want daar is geen werk of beplanning of kennis of wysheid in Sjeool, die plek waarheen jy gaan nie.”Prediker 9:5, 10. *

Eenvoudig gestel, die Graf is die plek waarheen mense gaan wanneer hulle sterf; dit is ’n simboliese plek of toestand waar daar geen bewustheid of bedrywigheid is nie. Hoe het die getroue man Job die Graf beskou? Hy het al sy besittings en kinders op een dag verloor, en toe is hy oor sy hele liggaam met pynlike swere getref. Hy het God gesmeek om hom in die Graf (“die hel”, Katolieke Douay Version) te verberg, of weg te steek (Job 1:13-19; 2:7; 14:13). Dit is duidelik dat Job nie gedink het dat die Graf ’n brandende hel is, ’n plek waar sy lyding selfs erger sou wees nie. Hy het eerder gedink dat hy daar verligting sou vind.

Daar is nog ’n manier waarop ons oor die toestand van die dooies kan leer. Ons kan die geïnspireerde Bybelverslae ondersoek van agt persone wat uit die dode opgewek is.—Sien die venster “ Agt opstandings wat in die Bybel beskryf word”.

Nie een van daardie agt persone het gesê dat hulle in ’n plek was waar hulle groot vreugde of verskriklike lyding ervaar het nie. Hulle sou mense tog sekerlik daarvan vertel het as hulle ná hulle dood na so ’n plek gegaan het. En dit sou ongetwyfeld in die geïnspireerde Bybelverslag ingesluit gewees het sodat almal dit kan lees. Tog praat die Bybel nooit van so iets nie. Daardie agt persone het blykbaar niks oor die onderwerp gesê nie. Waarom nie? Want hulle was in ’n toestand van onbewustheid, asof hulle in ’n diep slaap was. Trouens, die Bybel gebruik soms slaap om die toestand van die dooies te illustreer. Byvoorbeeld, toe Lasarus doodgegaan het, het Jesus gesê: “Ek reis daarheen om hom uit die slaap wakker te maak.”—Johannes 11:11.

Watter hoop is daar dan vir die dooies? Kan hulle uit hierdie slaap wakker gemaak word?

^ par. 7 In die Nuwe Wêreld-vertaling van die Heilige Skrif in Engels word die woord “Graf” gebruik om die Hebreeuse woord “Sjeool” en die Griekse woord “Hades” weer te gee. Party Bybelvertalings gebruik die woord “hel”, maar die gedagte dat die dooies in ’n brandende plek gefolter word, is nie skriftuurlik nie.